×
Skakel na Engels

9 fantastiese boetiekbier-brouerye in SA

Soos Thomas Jefferson gesê het: “Bier, wanneer dit in matigheid geniet word, kalmeer die gemoed, doen jou siel goed en bevorder gesondheid.”
boetiekbier-brouerye

Die boetiekbierbedryf het die afgelope paar jaar reuse groei in Suid-Afrika beleef, en ons het dit aan ons plaaslike brouerye te danke. Ons het ʼn lys saamgestel van brouerye wat Suid-Afrikaners landwyd kan besoek om van hierdie plaaslike produkte te proe.

Wes-Kaap: Stellenbrau Brewery

In 2012 het Stellenbrau sy eerste bier, die Craven Craft Lager, bekendgestel en vandag het dié brouery vier biere op sy kerfstok. Die ander drie is die goudkleurige Alumni Ale, met diep pruimagtige en delikate aarbei-aksente; the Governor’s Red Lager, met ʼn aanloklike, effens “wilde” rooibos-ondertoon; en die goudgeel Jonkers Weiss, met ʼn diep, verfrissende piesang-aroma wat deur ʼn heerlike vrugtige aksent afgerond word. 

021 883 3622 | The Woodmill, Vredenburgweg, Stellenbosch

Noord-Kaap: Grootrivier Brewery

Grootrivier is ʼn mikrobrouery wat op Engelse bier fokus. Die brouery se drie boetiekbiere is Koos, ʼn Ierse rooi bier met ʼn effense karamelgeur; Jan, ʼn tradisionele wit bier; en Piet, ʼn handgemaakte bier van graan wat met beukehout gerook is.

060 965 5311 | Amarilstraat H31, Orania

Oos-Kaap: Table 58 Brewery

Hierdie uiters moderne brouery kan eerder as ʼn “toonkamer” as enigiets anders beskryf word. Hier kan jy die brouproses vanaf die kroeg of die tuin dophou. Hulle het ʼn keuse van drie tradisionele biere: Lager, Weiss en Pilsner. 

072 699 3246 | Floradale, Beaconbaai

KwaZulu-Natal: The Standeaven Brewery

Dié mikrobrouery naby die lieflike Vallei van ’n Duisend Heuwels is die tuiste van ses geurige boetiekbiere. Die Bohemian Pilsner is skoon, verfrissend en ideaal vir elke dag se drink met sy effense dofheid, liggoud kleur en dun skuim. Die baie donkerrooi Press Club Stout is ʼn medium- tot lae-sterkte bier met sterk geroosterde moutnote.

Die African Pale Ale het vrugtige en moutnote met ʼn effense wasige koper kleur. Die Unconventional Weiss is nie so sterk soos jou tipiese wit bier nie, maar hoogs gekarboneerd, en behoort altyd in ʼn koue glas of met ys bedien te word.

Die Best Black Gold is ʼn donker lager, wat op hul Bohemian Pilsner gegrond is, met ʼn minder bitter smaak en sagte vanieljenote. Die Lager X is ʼn eg plaaslike lager met ʼn subtiele vrugtige afronding en ʼn effens dowwe koper kleur.

031 777 4685 | Alverstone, Durban

Vrystaat: Krügerbräu

Krügerbräu is die tuiste van vier verfrissende boetiekbiere. Die Sunset American Pale Ale is diepgoud met ʼn tikkie karamel en ʼn ryk, sitrusagtige lemoenskil-aroma. Die Cheetah is ʼn unieke Suid-Afrikaanse wit bier, taamlik vrugtig en met net ʼn ligte hopsbitterheid en ʼn grenadella-aroma.

Die Irish Mule is ʼn donkerrooi bier met ʼn soet karamelagtige karakter en die aardse bitterheid van hops. Die Lazy Boy English Brown Ale is ideaal vir ’n bietjie koeler dae en word effens warmer gedrink om sy sjokolade-aroma vry te stel.

016 100 0504 | 18 Marsstraat, Sasolburg

Noordwes: Lazy Lizard Independent Brewhouse

Hierdie onafhanklike bierbrouery is ʼn eg plaaslike brouery en restaurant wat met sommige van die beste boetiekbiere in die Noordwes-provinsie spog. Besoekers kan uit vier biere kies: die English Ale, die Dark Ale, die Blonde Ale en die American Pale Ale. 

082 568 3809 | Lanseria-Pelindabaweg, Broederstroom

Gauteng: Stimela Brewing Co

Stimela Brewing Co maak unieke premium biere. Die amberkleurige Straight Arrow-droë-hopbier se moutagtige soetheid en hopsbitterheid vorm ʼn wonderlike balans. Die Round Trip-bier sal jou eers met vrugtige, spesery- en moutgeure verras en dan met ʼn droë nasmaak met subtiele heuningnote laat.

Die Black Diamond sjokoladebier is ʼn ryk, sagte bier met diep sjokoladegeure en tikkies vanielje. Dit word met hope sjokolademout, kakaobone en vanieljepeule gebrou. Die Platform Edge IPA het ʼn sterk hopsteenwoordigheid met ʼn moutkarakter wat die bier ’n bietjie oemf gee.

stimelabrew.co.za | Johannesburg

Mpumalanga: Hops Hollow Brewery

Dié brouery, wat op die hoogste punt van die Long Tom-pas geleë is, het ʼn plek geword waar bierliefhebbers stilhou vir een van die bestes. Besoekers kan uit een van die vyf boetiek-tapbiere kies. Die Diggers Draught is ʼn ligte wit bier met ʼn sterk blom-aroma.

Die Blacksmith’s Brew is ʼn gunsteling onder die dames met sy heerlik ligte en pikante smaak. Mac’s Porter is al beskryf as “hooligan juice”, ʼn “afrodisiakum” en doodgewoon “lekker”. Die Old Bull Bitter is immer gewild met vrugtige botone en ʼn aromatiese blomagtige hopskarakter. Die Tapper’s Brew is ʼn Boheemse pilsner.

071 684 6975 | 2 op die Long Tom-pas, Mpumalanga

Limpopo: Zwakala Brewery

Zwakala Brewery in die Magoebaskloofberge is ʼn ideale stilhouplek vir die hele gesin. Die Limpopo Lager is ʼn goudkleurige en verfrissende bier met ʼn sagte afronding wat deur die langer verouderingsproses verleen word. Die Naked Ale is verfrissend en droog, met ʼn lae bitterheid en goeie hops-aromas. Die Mountain Weiss het ʼn meer vrugtige geur met sagte blomnote. 

073 791 6797 | Cheerioweg, Haenertsburg

FOTO: iStock/demarco-media

LEES OOK: 

Top-boetieksiders en -biere  

8 puik boetiek-jenewers uit eie bodem 

16 plaaslike soetgoed en peuselhappies wat Suid-Afrikaners wat oorsee woon die meeste mis

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
8 puik boetiek-jenewers uit eie bodem

Suid-Afrika staan glad nie terug wanneer dit by jenewer kom nie!

Close