×
Skakel na Engels

9 goed wat jou stoelgang oor jou gesondheid onthul

Ja, ons praat sowaar daaroor

Dis nie iets waaroor ons gewoonlik praat nie – tensy ons natuurlik besig is om ons tweejarige kinders te leer om die potjie te gebruik – maar die waarheid is dat die kleur, reuk en selfs grootte van ons stoelgang baie oor ons dieet kan onthul en oor hoe gesond ons regtig is. Jy behoort altyd dokter toe te gaan as jy iets onreëlmatigs opmerk, maar ons het hierdie nuttige gids saamgestel om jou ’n idee te gee van wat jou stoelgang vir jou probeer sê.

Wat dit beteken as jou stoelgang …

  1. Hard en in klein korreltjies is …

“Jy is gedehidreer en het nie genoeg vesel in jou gestel om alles uit te spoel nie. Die stoelgang bly langer in jou liggaam as wat dit moet en jou dikderm hou aan om water daaruit te onttrek, wat dit in harde stukke laat verander,” sê Brenda Watson, ’n kenner van spysvertering en die skrywer van The Fiber35 Diet (Free Press). Die oplossing is gewoonlik eenvoudig: Maak seker jy drink elke dag sowat agt glase water en sluit stadigaan meer vesel by jou dieet in met hawermout en vlassaad. Die sleutelwoord? Stadig – anders kan jy opgeblaas voel, sê Watson.

  1. Swart is …

Die kleur kan op ’n soort interne bloeding hoog in jou spysverteringskanaal dui, sê Charles Austin, gesondheidsopvoeder, fiksheidsafrigter en skrywer van The Toilet Book (First Edition Design Publishing Inc). Volgens Austin is die bloed in stoelgange donkerder as die gewone rooi skakering omdat dit deur die spysverteringstelsel verwerk is en saam met die res van jou kos daardeur beweeg het. ’n Donker stoelgang kan natuurlik ’n skadelose newe-effek wees van die ysteraanvulling wat jy neem (die mineraal is van nature swart) of voorgeskrewe medikasie soos antidepressante, kodeïen of OxyContin. As jy dink dis weens jou medikasie, gaan praat met jou huisdokter.

  1. Baie los is, maar nie heeltemal soos diarree nie …

Dit is gewoonlik niks meer as ’n teken van voedselsensitiwiteit nie, sê Watson. Wanneer jy sensitief vir kos is, beteken dit nie jy is allergies vir iets nie, maar eerder dat die kos jou spysverteringstelsel irriteer en veroorsaak dat jou liggaam slym vervaardig wat jou stoelgang vloeibaarder as gewoonlik maak. Van die algemene sondaars is suiwel, eiers en gluten. Watson sê in sommige gevalle kan dit help om ’n probiotiese aanvulling te neem.

  1. Slegter as gewoonlik ruik …

As dit opmerklik slegter ruik, kan dit beteken dat jy hardlywig is en jou stoelgang langer in jou liggaam bly as wat dit moet. Wanneer dit gebeur, word meer natuurlike spysverteringsgasse – metaan, swael, stikstof, koolstofdioksied en waterstof – geproduseer en die bakterieë in jou dikderm “gis”. Die oplossing is om meer hoëveselkosse by jou dieet in te sluit en seker te maak jy bly gehidreer, sê Watson. As jy onlangs internasionaal gereis het en agterkom jou stoelgang ruik regtig sleg, beveel Watson aan dat jy jou dokter besoek. Dit kan ’n teken van ’n parasitiese, virus- of bakteriële infeksie wees.

  1. Lig van kleur is …

Jy moet waarskynlik jou lewer laat ondersoek, verduidelik Watson. “Gal word in die lewer vervaardig en dit is wat aan jou stoelgang die bruin kleur gee. Wanneer jou stoelgang lig is, beteken dit die lewer produseer nie genoeg gal nie, wat beteken jou liggaam detoksifiseer nie goed nie.” Nadat jy met ’n dokter gepraat het, stel Watson voor jy voeg perdeblom (dandelion) by jou dieet, want voorlopige navorsing dui daarop dat die plant kan help om die lewer natuurlik te ontgif.

  1. Bloederig is …

Dit kan baie verskillende oorsake hê. Jy kan dalk net “te hard gedruk het”, wat soms ’n skeurtjie in die voering van die anale kanaal veroorsaak (en is gewoonlik niks ernstigs nie, solank die bloeding nie voortduur nie). As daar minder as ’n halwe teelepel bloed is en dit deur pyn en ongemak vergesel word, sê Watson die bloeding is waarskynlik deur interne aambeie veroorsaak en moet ondersoek word. Dit kan ook beteken jy bloei iewers op jou dikderm of laer spysverteringskanaal. Laat dus liewer daarna kyk, sê Austin.

  1. Seegrasgroen is …

’n Groen stoelgang kan beteken dat jy bloot baie groen blaargroente eet, maar soms kan ’n diep groen kleur daarop dui dat kos te vinnig deur jou spysverteringstelsel beweeg, sê Austin. “Die natuurlike kleur van gal het ’n groen skakering. Wanneer dit dus in jou stoelgang uitkom, beteken dit die liggaam het nie genoeg tyd gehad om dit te verwerk tot die bruin kleur wat dit veronderstel is om te wees nie.”

  1. Bruin en piesangvormig is …

Dis goeie nuus. Volgens Watson bestaan die ideale stoelgang uit sowat 75% water en 25% bakterieë en vesel. As jou stoelgang dus ’n ryk bruin kleur, ongeveer een voet lank is en die konsistensie van tandepasta het, kry jy al die vesel in jou dieet wat jy nodig het en verloop dinge in jou spysverteringstelsel glad, sê Watson.

  1. Helderblou of -pers is …

Jy het waarskynlik baie voedselkleursel in jou rooifluweelpoeding gehad of onlangs baie beet geëet. Ten spyte van die eienaardige voorkoms is daar dus waarskynlik niks om oor bekommerd te wees nie.

 

* Let asseblief daarop dat hierdie moontlikhede is en nie diagnoses nie. Praat altyd met jou dokter oor enige iets wat jou bekommer.

 

Hierdie artikel het oorspronklik op www.goodhousekeeping.co.uk verskyn.

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die 4 kosse wat enige voedingkundige uit jou kombuis sal verwyder

Hoewel ons hier by Goeie Huishouding hou van alles wat lekker is (in matigheid, natuurlik!), is daar sommige kosse waarop...

Close