×
Skakel na Engels

9 gesondheidsprobleme wat jou man nie moet ignoreer nie

Ervaar jou maat enige van hierdie probleme?
healthy man

In ’n onlangse studie van Macmillan Cancer Support is bevind dat amper die helfte van mans nie oor veranderinge in hul gesondheid, soos ’n knop, ’n agterdogwekkende moesie of pyn, wil praat nie omdat hulle nie wil hê mense moet dink hulle “maak ’n ophef” nie. In die studie is ook bevind dat meer as 38% die afgelope jaar “snags wakker gelê het” weens bekommernis oor hul gesondheid en 11% van mans wat in die laaste ses maande veranderinge aan hul gesondheid opgemerk het, het ’n doktersbesoek uitgestel omdat hulle bang is dat hul simptome ’n teken van ’n ernstige gesondheidstoestand kan wees.

Hoewel vrees en verleentheid verstaanbaar is, is dit beter om so vroeg moontlik met ’n dokter oor ’n vreemde simptoom te praat, want dan kan dit vinniger opgelos word – of jy kan vinniger uitvind dis eintlik niks. Ons het met dr. Hilary Jones, algemene praktisyn en handelsmerkambassadeur vir Tena Men, gepraat om uit te vind watter simptime mans nooit moet ignoreer nie:

1. ED/Impotensie

Erektiele disfunksie het ’n paar oorsake, waarvan een van die algemeenstes ouderdom is. Soveel as 52% van mans tussen 40 en 70 het gerapporteer dat hulle ED ervaar het, maar daar is steeds baie verleentheid daaroor en ’n stigma wat daarmee geassosieer word.

“Erektiele disfunksie kan konstant of net van tyd tot tyd voorkom. Jy kan dalk ’n ereksie kry wanneer jy masturbeer of net wakker geword het, maar kan nie geprikkel word saam met jou seksuele maat nie. In hierdie geval is sielkundige stres of ’n verhoudingsprobleem heel moontlik die oorsaak. Neem dus tyd om te ontspan. As dit vir jou moeilik is om in enige situasie ’n ereksie te kry is die oorsaak waarskynlik fisiek. Wanneer simptome vir meer as ’n paar weke voortduur, is dit tyd om die dokter te gaan spreek.”

2. Gereelde hardlywigheid

Hardlywigheid is ’n algemene toestand wat almal kan raak. Vir sommige mense kan dit egter ’n langtermyn- (chroniese) toestand wees wat beduidende pyn en ongemak veroorsaak. Ek beveel dieet- en lewenstylveranderinge aan om hardlywigheid te verlig, soos om jou daaglikse veselinname te verhoog, seker te maak jy drink baie vloeistof en probeer om oefening te kry. As hierdie veranderinge nie help nie en die probleem voortduur, moet jy jou huisdokter gaan sien. Die rede is omdat opgeboude hardlywigheid tot ander toestande soos rektale bloeding, aambeie en divertikulitis kan lei waar sakkies in die voering van die dikderm ontwikkel en onsteek raak.”

LEES OOK: 7 redes hoekom jy nie jou maat se snorkery moet ignoreer nie

3. Chroniese suurrefluks

Die meeste mense sal in een of ander stadium van hul lewe suurrefluks of sooibrand ondervind, soos ná ’n aand wat jy te veel gedrink het of ná ’n baie groot maaltyd. Enige een wat dit al gehad het, kan getuig van die uiterste ongemak en pyn wat met die toestand gepaardgaan.

“Chroniese suurrefluks dikwels ’n simptoom van gastro-esofageale reflukssiekte (GERS), waar suur uit die maag in die slukderm op lek. Dit is ’n algemene toestand, maar vir sommige mense kan dit ’n ernstige, lewenslange probleem wees. Behalwe vir suurrefluks, kan ander simptome van GERS sooibrand, slegte asem, opgeblasenheid en naarheid insluit, asook pyn wanneer jy sluk. Jy hoef nie noodwendig jou huisdokter te gaan spreek as jy die simptome ongereeld kry nie, maar wanneer dit gereeld gebeur en die simptome erg is en medikasie nie help nie, sou ek ’n afspraak maak. Dit is omdat maagsuur jou slukderm kan beskadig en verdere probleme veroorsaak, soos maagsere en letsels. Veranderinge in die selle wat die voering van die slukderm vorm, kan ook tot kanker lei.”

4. Pyn of bloeding tydens urinering

Net sowat 20% van gediagnoseerde urienweginfeksies is in mans, maar hulle is meer geneig om weens dit gehospitaliseer te word as vroue.

“Normale urine behoort nie enige bespeurbare hoeveelhede bloed te bevat nie en indien jy dit ervaar, moet ’n dokter dit ondersoek. Hoewel dit nie gewoonlik ’n teken van enige iets lewensbedreigends is nie, moet dit steeds ondersoek word. Die bloeding word dikwels deur ’n urienweginfeksie (UWI) veroorsaak en kom van êrens binne die urienweg – die niere, blaas of die buise waardeur die urine beweeg. Bloed in die urine kan ook ’n resultaat van ’n infeksie in die blaas en niere, nierstene, uretritis en ’n vergrote prostaatklier wees.  Vir mans oor 50 kan dit ’n teken van kanker in die blaas, niere of prostaat wees.”

LEES OOK: Hoekom jy snags toilet toe moet gaan

5. Erge borspyn

Die meeste borspyn is nie hartverwant nie en nie noodwendig ’n teken an ’n lewensbedreigende probleem nie. Sommige algemene oorsake van borspyn is gastro-esofageale reflukssiekte (GERS), kostochondritis (inflammasie van die kraakbeen) en paniekaanvalle.

“Borspyn kan deur enige iets van spierpyn tot ’n hartaanval veroorsaak word, maar moet nooit geïgnoreer word nie. As die pyn swaar voel, langer as 15 minute aanhou en na ander dele van jou liggaam, soos jou arms, rug of kakebeen, versprei, moet jy dadelik ’n ambulans laat kom, veral as die pyn met kortasemigheid, duiseligheid, naarheid of sweet gepaardgaan. Erge borspyn kan ’n simptoom van óf angina wees, waar die bloedtoevoer na die hartspiere beperk word, óf ’n hartaanval, waar die bloedtoevoer na ’n deel van die hart skielik versper word. Die groot verskille tussen hierdie toestande is dat borspyn wat deur angina veroorsaak word, geneig is om beter te raak nadat jy ’n paar minute gerus het, maar simptome wat langer as 15 minute duur en gebeur terwyl jy rus, meer geneig is om deur ’n hartaanval veroorsaak te word.”

6. Lekkasie van urine

Navorsing deur TENA Men het bevind dat urinêre lekkasie in een uit elke vier Britse mans ouer as 40 voorkom, en veroorsaak kan word deur eenvoudige goed soos om te veel koffie te drink of swaar gewigte in die gim te lig. Die Nasionale Instituut van Diabetes en Spysvertering- en Niersiektes in Brittanje gee ’n paar moontlike oorsake van manlike urinêre inkontinensie, soos geboortedefekte van die urienweg, behandeling teen prostaatkanker, oorgewig en natuurlik ouderdom. Dit is belangrik om die oorsaak van urinêre lekkasie te verstaan, want in sommige gevalle kan dit weens ’n ernstiger onderliggende toestand soos neurologiese of prostaatprobleme wees.

“Mans ervaar urinêre lekkasie weens ’n verskeidenheid van redes, waarvan die algemeenste met die prostaat verband hou. Jy sal ’n verhoogde, dringende behoefte hê om te urineer en sal dikwels snags wakker word om toilet toe te gaan.”​

7. ’n Stywe, teer voorhuid

Slegs 15% van mans in Brittanje is besny, vergeleke met meer as 50% in die VSA. Dit beteken dat die oorgrote meerderheid van Britse mans ’n voorhuid het en dus moet weet hoe om daarvoor te sorg.

“ ’n Onbesnyde voorhuid moet maklik van die kop van die penis kan terugtrek en moenie seer, rooi, jeukerig of ontsteek wees nie. Indien dit so word, kan ’n ligte bakteriële of swaminfeksie die oorsaak wees, wat deur meganiese irritasie gedurende seks veroorsaak kan word. Die voorhuid kan soms spontaan stywer, jeukerig of seer wees of nie wil terugtrek nie weens die vorming van letselweefsel, ’n toestand bekend as lichen sclerosus. Behandeling met steroïedroom kan dikwels die simptome verlig.”

8. ’n Knop in die testikel

Volgens Macmillan Cancer Support is mans 60% meer geneig om kanker te kry en 70% meer geneig om weens die siekte te sterf as vroue. Die sterftekoers kan heel moontlik soveel hoër wees omdat hulle minder geneig is om dokter toe te aan sodra hulle ’n verandering in hul liggaam bespeur.

“Die meeste gevalle van knoppe in die testikel is nie ernstig of kankeragtig nie. Testikulêre kanker is trouens skaars en dis geneesbaar as jy dit vroeg opspoor. Omdat dit egter moeilik is om die oorsaak van ’n knop in die testikel vas te stel, behoort jy ’n afspraak by jou dokter te maak as jy enige knoppe, swelling of pyn in jou testikels opmerk. As jy jou testikels gereeld self ondersoek, sal jy hierdie veranderinge vroeg reeds kan raaksien.”

9. Veranderinge in jou tepels of omliggende deel

Soms is dit nie eens vrees en verleentheid wat keer dat mans dokter toe gaan nie, maar bloot omdat hulle nie bekommerd raak nie. Omdat borskanker as ’n “vroulike” siekte beskou word en selde in mans voorkom, is dit verstaanbaar dat dit nie die eerste ding is waaraan jy dink wanneer jy ’n verandering opmerk nie. Maar net omdat dit skaars is, beteken dit nie dit kan nooit gebeur nie, en om nie bewus van die simptome te wees nie, kan lewensveranderende gevolge hê (soos ’n vertraging in behandeling), sê John Newlands, senior kankerinligtingsverpleegspesialis by Macmillan Cancer Support.

“Borskanker in mans is skaars – slegs sowat 350 mans in Brittanje word elke jaar gediagnoseer. Baie mense weet nie dat mans borskanker kan kry nie, omdat hulle nie daarvan bewus is dat mans borste het nie, maar hulle het ’n klein hoeveelheid borsweefsel agter hul tepels waar dit kan ontwikkel. In die meeste mans word borskanker eers as ’n pynlose knop agter die tepel of areola opgemerk. Ander tekens kan ’n ingeduikte tepel insluit, asook veranderinge aan die grootte of vorm van die bors, ’n uitslag of bloeding uit die tepel, ’n swelsel of knop in die armholte of ’n ulkus op die vel van die bors.”

Van: www.goodhouskeeeping.co.uk

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 algemene mites oor die vries van kos

Keer dat jy kos mors deur jou vrieskas te benut. Hier ontbloot die vrieskaskenner Justine Pattison verskeie vrieskasmites

Close