×
Skakel na Engels

9 foute met klere wat jou ouer sal laat lyk

Dit maak nie saak hoe oud jy is nie, jy kan altyd hierdie klere-taboes vermy
9 foute met klere wat jou ouer sal laat lyk

Styl hoef nie met ouderdom verband te hou nie. Die meeste van die besgeklede vroue in die wêreld is ietwat ouer. Ons benadering tot kleredrag in ons 40’s en later is baie anders as toe ons in ons 20’s uitrustings gekies het, en die meeste van ons wil valstrikke vermy soos om te slonsig te lyk of asof ons te hard probeer het.

Met hierdie feite in gedagte het ons die kundigheid van  die persoonlike aankoper en stilis Annabel Hodin gevra oor die algemeenste foute met klere wat vroue ouer laat lyk, en hoe jy kan verseker dat mense jou modekeuses komplimenteer …

1. Jy koop vir iemand anders

Hoeveel keer was jy al dol oor iemand anders se pragtige uitrusting, en toe gaan koop jy iets soortgelyks sonder om regtig mooi te oorweeg of dit jou pas?

“Om na ’n foto van Gisele in ’n uitrusting kyk en te dink: “Oe, ek gaan dit koop,” is ’n verbasend algemene fout,” sê Annabel. Fokus liewer daarop om iets vir jou eie lyf en persoonlikheid te koop as om uitrustings na te boots wat wonderlik aan iemand anders lyk.

Natuurlik kan jy inspirasie put uit mense wie se modekeuses jy bewonder, of dit nou ’n seleb of jou dogter is. “Kies ’n element van die uitrusting waarvan jy regtig hou, of dit nou die halslyn of die kleur is, en inkorporeer dit in ’n uitrusting wat by jou persoonlikheid en vorm pas,” sê Annabel.

Sy beveel ook aan dat jy na mense soos jy kyk – miskien ’n vriendin – van wie se uitrustings jy hou, en van hul styl in jou eie uitrustings inkorporeer.

2. Jy dra goedkoop materiale

Namate jy ouer word, gaan dit daaroor om minder klere te koop, en eerder gehalte bo goedkoop, vrolike ontwerpe en materiale te stel. “Kyk vir iets wat saam beweeg, reg hang en nie kreukel sodra jy daaraan raak nie,” sê Annabel. “As die materiaal nie gewig het nie, vergeet daarvan.”

Om die gehalte en kleur van materiaal na te gaan, beveel sy aan dat jy so na as moontlik aan die ingang van die winkel beweeg om die voorkoms van die item in daglig te ondersoek omdat kunsmatige beligting in die winkel misleidend kan wees.

Sodra jy ’n kapsule-klerekas met basiese items van ’n goeie gehalte opgebou het, kan jy rondspeel en elke seisoen meer modieuse stukke byvoeg.

Clothing on hanger at the modern shop boutique

iStock/kurmyshov

3. Jy probeer te hard om in die mode te wees

Om loopplankneigings na te boots kan op enige ouderdom ’n waagstuk wees, maar namate ons ouer word, raak die vrees groter dat ons sal lyk asof ons te hard probeer het. Weer eens, sê Annabel, gaan dit daaroor om die aksente van ’n neiging te kies waarvan jy hou en dit by jou bestaande klerekas van basiese gehalte-items in te werk.

“Beskou loopplankneigings as inspirasie, nie as iets wat jy presies wil nadoen nie,” sê Annabel. “Kyk na die winkelpoppe in winkels. Hulle is dikwels geklee om ’n toeganklike manier te illustreer waarop spesifieke modeneigings gedra kan word en kan jou help om te besluit wat jy wil aanpas.”

4. Jy besoek élke modewinkel

Hoewel neigings van seisoen tot seisoen wissel, hou baie winkels by hul spesifieke voorkoms. Om ’n kleinhandelaar te kry waarvan die styl vir jou werk, is ’n goeie manier om te waarborg dat jy konsekwent vleiende uitrustings kry.

“As jy ’n winkel kry met style waaroor jy dol is, sal dit jou inkopie-ervaring vergemaklik en help keer dat jy uitrustings koop waaroor jy later spyt is,” sê Annabel.

5. Jy dink nie oor proporsies nie

Proporsies is belangrik op enige ouderdom wanneer jy ’n glansryke uitrusting soek, sê Annabel. Aan die een kant moet jy die balans van die uitrusting regkry. As jy dus ’n kledingstuk met hope volume vir jou onderste helfte kies, oorweeg ’n nousluitende top, en omgekeerd.

Jy moet ook in ag neem watter proporsies vir jou figuur in die algemeen werk. As jy byvoorbeeld sien dat jeans met ’n hoë middellyf in die mode is, moenie sommer net enige jeans gryp nie. Kyk hoe dit aan jou lyf lyk en besluit of jy beter lyk met ’n baie hoë middellyf en of jeans wat êrens tussen jou naeltjie en jou heupbeen eindig jou nie dalk beter pas nie.

As jy nie seker is nie, neem ’n betroubare vriendin saam met jou winkels toe, of bespreek ’n sessie met ’n persoonlike aankoper.

Row of hanged blue jeans in a shop

iStock/foto76

6. Jy probeer jou foute verbloem 

Ons dink dikwels dat “reg aantrek” wanneer ons ouer is, beteken om al ons “foute” te bedek, in so ’n mate dat baie mense uiteindelik sakkerige, vormlose uitrusting dra wat hulle glad nie vlei nie, sê Annabel.

“Ek dink nie massas volume en materiaal is ’n goeie idee nie, tensy dit regtig gestruktureerde materiaal is,” sê sy.

“As daar dele van jou lyf is waarmee jy nie gemaklik voel om nousluitende klere te dra nie, kies uitrustings wat lossies daaroor pas, eerder as hope vloeiende materiaal met te veel volume, want dit sal jou ouer laat lyk.”

7. Jy dra die verkeerde onderklere

“Ek kan nie die belang van die regte onderklere genoeg beklemtoon nie,” sê Annabel. Sy wys daarop dat as jy ’n goeie raamwerk op jou lyf onder jou klere het, sal jou uitrustings soveel beter vertoon.

“As jy ’n ou, uitgerekte bra dra, verkort dit as’t ware die afstand tussen jou bors en jou heupe,” sê sy. “Belê dus in goeie bra’s en broekies waarvan die nate nie onder jou klere sal wys nie. As jy wil sjiek lyk, wil jy beslis nie hê die lyne van jou broekie moet onder jou klere sigbaar wees nie!”

En net soos onderklere wat jou nie ondersteun nie, kan ’n swak postuur selfs die mooiste uitrusting ruïneer. Onthou dus om regop te staan, sê Annabel.

bras

iStock/Metaphortography

8. Jy is huiwerig met patrone

As jy patrone wil dra, is dit beter om groter patrone eerder as fyn patroontjies te dra, sê Annabel.

“Ek dink fyn patroontjies is te meisietjierig om te dra wanneer jy ouer is, en dit laat jou ouer lyk as wat jy is. Kry eerder inspirasie van die Italianers en kies ryk kleure of dramatiese, treffende patrone.”

9. Vertrou jou natuurlike instink

“Moet nooit iets koop as jy dit aangepas het en onseker daaroor voel nie,” sê Annabel. “Ek koop net klere as ek dit in die aanpaskamer aangepas het en onmiddellik weet ek is dol daaroor.” Die produkte waarvan jy instinktief hou, is gewoonlik dié wat jou op jou beste laat lyk, sê Annabel, en enige iets anders gaan waarskynlik agterin jou klerekas opeindig.

“Mode moet pret wees – kies uitrustings wat jou selfversekerd, gelukkig en glansryk laat voel, en moet nooit probeer wegkruip net omdat jy ’n sekere ouderdom bereik het nie,” sê sy. Oukei, nou wil ons regtig gaan inkopies doen!

Van: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/pixelfit

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Danksy H&M kan jy jou klere ’n tweede lewe gee

Mode vir ’n goeie saak? Ons wil deel daarvan wees!

Close