×

9 fantastiese bestemmings in die Kaapse Wynlande vir daguitstappies

Hou jy in die Kaap vakansie? Voeg ’n daguitstappie na die Wynlande by jou doenlysie. Hier is ons keuse van die plekke wat in Die Goeie Lewe spesialiseer
wynlande

 

Babylonstoren

Klapmuts-Simondiumpad, vanaf die R45, naby Franschhoek

Babylonstoren se fantastiese vrugte-en-groentetuin is deur die geskiedkundige Kompanjiestuin in Kaapstad geïnspireer wat seilskepe van vars produkte voorsien het toe die Kaap ’n verversingstasie tussen Europa en Asië was. In 2007 het Karen Roos, eienaar van Babylonstoren, die Franse argitek Patrice Taravella opdrag gegee om die uitleg van hierdie lieflike tuin te beplan waar die kweek van vrugte en groente tot ’n kunsvorm verhef word. Moenie jou fotogeleentheid in die reuse-neste misloop nie! Die tuintoer begin elke dag 10:00 by die plaaswinkel (besprekings is noodsaaklik) en dit is ’n sensoriese genot vir kinders én volwassenes. Elkeen van die tuin se 300 plantvariëteite is eetbaar of het medisinale waarde, en jy word aangemoedig om blomme te pluk, groente te proe en steggies vir jou tuin af te sny. Eet by die restaurante Babel of die Glass House en neem varsgebakte brood, geurige soppe en van die landgoed se wyne huis toe.

Besprekings vir die tuintoer: 021 863 3852.

www.babylonstoren.com

11-lavender-waterblommetjie-ponds-simonsberg 3-greenhouse-at-night

Delaire Graff

Helshoogtepas, buite Stellenbosch

Vanaf die Delaire Graff-restaurantterras van dié vyfsterhotel en kuns-en-wynbestemming op die kruin van die Helshoogtepas buite Stellenbosch is daar ’n dramatiese uitsig op die Simonsberg en Drakensteinberge. Besoek dit gerus, al is dit net vir ’n koppie tee! Proe wyn in die elegante, kunsgevulde wynvertrek, en as jy van Asiaties geïnspireerde kos hou, probeer die landgoed se ander restaurant, Indochine. Die eienaar van die landgoed, Laurence Graff, ’n Britse juwelier en stigter van Graff Diamonds, is een van die wêreld se topkunsversamelaars, en sy versameling by Delaire Graff is ’n noukeurig saamgestelde tentoonstelling van uitmuntende Suid-Afrikaanse kontemporêre kunstenaars. Stap deur die tuine, waar meer as 350 inheemse en ander waterslim plantspesies tussen kuns, beeldhouwerk, waterfokuspunte en damme geleë is. Vat dan die pad na Tokara (lees meer hier onder).

Restaurantbesprekings: 021 885 8160

www.delaire.co.za

delaire-graff-estate-gardens-and-sculpture

Joostenberg

R304, Muldersvlei, Stellenbosch

Hierdie familieplaas het ’n bekoorlike, ontspanne gevoel. Eet op die Bistro se terras, waar fyn watersproeiers die lug op warm dae verkoel, of bestel ’n piekniek en span uit op die wydgespreide grasperk met ’n klimraam. Dit is ’n plek waar die kinders kan rondhardloop en speel, en waar daar vir almal iets is om te doen. Die groot plaaswinkel en deli het tuisgemaakte slaghuisvleise (die Toulose-wors is ongeëwenaard), fyngebak, pasteie, brode, Joostenberg se organiese wyne en geskenke. Met The Taproom van die Stellenbosch Brewing Co oorkant die grasperk waar jy koue Stellies-boetiekbier kan proe en koop, sal jy nie dors huis toe gaan nie. En langs die parkeerterrein is Ludwig’s Roses en ’n kwekery wat jy kan verken.

Restaurantbesprekings: 021 884 4208 of bistro@joostenberg.co.za

www.joostenberg.co.za

deli-img_2650-copy-500x333 img_40761-500x333

La Motte

R45, Franschhoek

Jy kan ure onder die ou eikebome in die rustige tuine van die Pierneef à La Motte-restaurant verwyl terwyl die kinders op die reusagtige buitelugskaakbord en in die klein waterkanaal speel. Vir volwassenes is die geleide wynproe die moeite werd, en die uitstallingsgebou verken die beroemde familie van die eienaar, Hanneli Rupert, ’n operasangeres, en die lewe en kuns van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Jacob Hendrik Pierneef. Geniet die Winelands-tee, en snuffel dan in die plaaswinkel vir tuisgebakte brode en geskenke wat eksklusief vir La Motte ontwerp is (handgemaakte skryfbehoeftes, porseleinvase, broodmesse, lyfprodukte van die landgoed se essensiële olies, asook speserymengsels en La Motte se eie koffiemengsel). Ander aktiwiteite sluit in ’n keldertoer; ’n beeldhouwerkuitstappie; die Sustainable Walk, waar ’n gids gaste deur die volhoubare wingerde begelei en die voordele van biologiese boerdery verduidelik; asook die Sustainable Hike in die berggebied wat die landgoed omring. (Laasgenoemde, ’n 5 km-sirkelroete wat twee tot drie uur duur, verg ’n taamlike mate van fiksheid en word nie vir kinders onder 10 aanbeveel nie.)

Bespreek by 021 876 8820 of tasting@la-motte.co.za.

www.la-motte.com

pierneef-a-la-motte-2015-001-resize farm-shop-products-10

Solms-Delta

Vanaf die R45, Groot Drakenstein, Franschhoek

Op Solms-Delta – wat deels deur Mark Solms, ’n professor in neurosielkunde, en die Britse filantroop Richard Astor besit word – het personeel en inwoners ’n gelyke (een-derde-) ekwiteitsaandeel in die landgoed. Die geskiedenis van die plaas word uiteengesit in die Museum van de Caab, wat artefakte van die plaas se argeologiese terrein van ’n nedersetting uit die laat-Steentydperk huisves, en betoon eer aan die plaas se slawe-erfenis. Een van die mure word deur 200 klipgedenkplate bedek wat elkeen ’n individu gedenk wat deur slawerny aan die plaas gegee is. Die personeel, van wie baie afstammelinge van hierdie slawe is, neem gaste op ’n toer. Jy kan ook wyn proe, die tuine verken en by die Fyndraai-restaurant piekniek hou of middagete eet.

Restaurantbesprekings: 021 874 3937 (bylyn 142)

www.solms-delta.co.za

steven-doing-a-tasting-under-the-oaks_mg_6235-186x280 tours-0732-186x280 solms-delta-langarm

Spice Route

Suid-Agter-Paarlpad, Paarl

Jy kan maklike ’n volle dag deurbring by hierdie bestemming met sy dromerige uitsig op die wingerde, veld en berge. ’n Klomp talentvolle plaaslike produsente is deur die broer-en-suster-span Abigail Bisogno en Charles Back byeengebring. Verwag kuns, kos en proegeleenthede, waaronder boetiekbiere by die Cape Brewing Company (CBC), sjokoladeproeë by DV Artisan Chocolate Bean to Bar Factory, en grappa- en jenewerproeë by Wilderer Distillery. Bly vir ’n houtoondgebakte dunkorspizza onder die bome by La Grapperia agterna, of besoek die Barley & Biltong Emporium vir boetiekbier en gourmetburgers, of besoek Bertus Basson se restaurant. Jy kan by Red Hot Glass Hand-Blown Glass Studio & Gallery kyk hoe glas geblaas word; pragtige plaaslik vervaardigde produkte koop, waaronder hoede, juweliersware, babaprodukte en huisware, by The Trading Company; en veel meer.

www.spiceroute.co.za

meetnature_pizza-from-la-grapperia-pizza-bistro-spice-route-destination2 trading-co-spice-route-destination-pricing_small-precious-rings-from-r665-each-rings-with-pattern-emblem-from-r185-each2 meetnature-cured-meat-from-richard-bosman-cured-meats

Spier

Baden Powell-pad, Stellenbosch

Stap ná ’n wynproe al langs die stroom of oor die hangbrug en in die veld. Of gaan op ’n Segway-toer deur die wingerde (R300 per persoon vir ongeveer ’n uur). Geniet dan ’n maaltyd by die Eight-restaurant, wat ’n buitelugspeelplek het, of – ons gunsteling – koop bestanddele vir ’n piekniek by die Eight to Go Deli langsaan, wat vir jou ’n piekniekmandjie en -kombers sal verskaf, en sit luilekker op die skaduryke grasperk rondom die dam met ’n bottel wyn. Jy kan ook vooraf gepakte piekniekmandjies aanlyn bestel. Daar is ook ’n kunsvlytmark, ’n geskenkwinkel en Eagle Encounters, wat nabye, persoonlike interaksie met arende, valke, uile, jakkalsvoëls, slange en akkedisse bied (volwassenes R75, kinders R65).

www.spier.co.za

Tokara

Helshoogtepas, buite Stellenbosch

Dié lieflike wyn-en-olyfplaas oorkant die pad van Delaire Graff word deur die RMB-voorsitter, GT Ferreira, en sy vrou, Anne-Marie, besit en is na hul kinders (Thomas en Kara) genoem. Hier gaan dit alles oor goeie kos, drankies, kuns en familie. Fyn kuns word in die ontvangsgebied vertoon en daar is oral werk van plaaslike beeldhouers. Vir kos kan jy kies tussen kontemporêre kookkuns by die Tokara-restaurant van glas, staal en klip, of geniet ’n luilekker middagete by die DeliCat-deli terwyl die kinders die spinnerak-agtige klimraam en ’n reuse-nes verken. Jy kan gratis van Tokara se eie olyfolies by die deli-winkel proe, waar jy ook olywe en olyfpasta, handgemaakte Belgiese sjokoladetruffels, bekroonde Suid-Afrikaanse kase, Karoo-wildsvleis, tuisgemaakte hoenderpasteie, vryloop-eendbors, Nico Nel se Suiderland-boerewors, brood en egte Kanadese esdoringstroop kan koop. Gaan proe wyn en koop van Tokara se bekroonde wyne.

www.tokara.co.za

4-outside_view_of_the_delicatessen

Vergelegen

Lourensfordweg, Somerset-Wes

Dié grande dame van die Wynlande is in 1700 deur die goewerneur van die Kaap, Willem Adriaan van der Stel, gestig en is ryk aan geskiedenis en vol interessante plekke. Besoek die meulruïnes, die slawelosieterrein en 17 tuine, waaronder ’n kameliatuin, ’n moeraslandtuin met ’n plankpad al langs die rivier, asook verskeie roos- en kruietuine. Kinders sal dol daaroor wees om die geskiedkundige geelhoutbos, die groot grasperk en die reuse-kanferbome, almal nasionale monumente, te verken wat lyk of hulle wag staan buite die geel herehuis. Vir ’n elegante ete is daar die Camphors-restaurant. Jy kan ook ’n “wit tafeldoek”-piekniek in die skadu van die kanferbome (R235 per persoon) bespreek, of bespreek ’n tafel by die ontspanne Stables-bistro met ’n manjifieke uitsig op die Hottentots-Hollandberge en ’n fantastiese speelgebied met houtdierbeelde en waterfokuspunte, net ver genoeg van die tafels sodat jy nie die euforiese gegil kan hoor nie!

www.vergelegen.co.za

vg_900001vg_001301vg_900129 vg_900021

Lees ook

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
SA se mooiste vonkelwyne

Hierdie agt lieflike plaaslike MCC’s is almal pragtig verpak en sal ’n wonderlike Kersgeskenk maak

Close