×
Skakel na Engels

9 dieetmites wat jy nié moet glo nie

Sit neer daardie groentesap! Dié 9 mites kan jou gewigsverliesplanne in die wiele ry.

MITE: DETOKSE HELP JOU VERSLANK

Waarheid: Die meeste van ons begin nie met ’n sapdieet met die voorneme om vir die res van ons lewe by ’n superstreng vloeistofdieet te hou nie, en met goeie rede! Dié kitsoplossing kan jou gewig meer skade as goed doen. Hoekom? Want jy hou vir ’n paar dae daarby, skud ’n kilo of twee af en … dan duik jy gesig eerste in die naaste roomysbak! Dis beter om klein, maar volhoubare veranderinge aan jou dieet te maak as om jou maaltye tot vloeistof – of basies babakos – te beperk. En jammer, maar ’n “3-dag-sapdieet” of ’n “veganistiese detoks van 22 dae” gaan jou nie soos Beyoncé laat lyk nie.

MITE: JY MOET “X” UITSNY OM GEWIG TE VERLOOR

Waarheid: Gluten, suiker, suiwel, koolhidrate, vleis – noem dit en daar’s ’n dieet wat sê jy mag dit nie eet nie. Toegegee, om sekere voedingstowwe of voedselgroepe uit te sny sal jou aanvanklik gewig laat verloor, maar dis meestal as gevolg van die gepaardgaande gedragsveranderinge. As jy byvoorbeeld suiker uitsny, eet jy mos nie meer elke tweede dag ’n kolwyntjie nie, of hoe? Maar daar is sekere voedselgroepe wat inderdaad tot ’n gewigstóéname sal lei as jy dit uitsny. Die meeste gluten- en suiwelvrye alternatiewe is propvol kilojoules en bevat onuitspreekbare bestanddele – die ware Jakob kan dus veel gesonder wees! Tensy daar ’n mediese rede is dat jy ’n sekere voedselgroep moet vermy, vermy eerder dié mite.

MITE: KOS VAN GESONDHEIDSWINKELS IS “BETER VIR JOU”

Waarheid: Lees altyd die etikette, ongeag waar jy inkopies doen. Hoewel kos goedgekeur moet word om as “organies” bestempel te word, moenie dink dit bevat noodwendig minder kilojoules nie. “Natuurlik” is nog misleidender – daar’s geen vaste reëls of regulasies vir die gebruik van dié woord nie. Byvoorbeeld, sommige jogurt wat as “alles natuurlike geure” geëtiketteer word, is steeds met suiker versoet! Kies kosse wat so natuurlik en onbewerk as moontlik is sodat jou winkelkopies jou nie sal laat waggel nie!

MITE: GESONDE VET KAN JOU GEWIG LAAT AFSKUD

Waarheid: ’n Vetvrye dieet kan jou gewig laat aansit omdat jy feitlik nooit versadig voel nie en jou dus aan suikerryke, verwerkte kosse kan vergryp. Aan die ander kant is dit ook net tot op ’n punt toe gesond om gereeld bestanddele soos klapperolie, olyfolie, neute en avokado te eet. Ja, daar is party vette wat “beter” as ander is, maar dit beteken nie jy kan dit onbeperk eet nie. Vet bevat 9 kJ per gram, terwyl proteïen en koolhidrate 4 kJ per gram bevat – dit kan vinnig ophoop. Maak dus seker jy meet kookolies, neute en avokado af om jou kilojoule-telling in toom te hou.

MITE: ALMAL HET ’N “KULDAG” NODIG

Waarheid: Ja en nee. Dié strategie werk fantasties vir party, maar ongelukkig nie vir almal nie. As ’n weeklikse “kuldag” verkeerd benut word, kan dit ’n hele week se goeie dieet- en oefeningvordering saboteer. Almal interpreteer ’n “kuldag” anders – party sal hul suikertand bevredig en ander sal die een hamburger ná die ander inryg, wat al twee tot gewigstoename kan lei. Die ander gevaar is dat jy kan sukkel om weer in jou gesonde roetine te kom van mooi eet en gereeld oefen. Oorweeg eerder ’n “kul”-maaltyd, -snoepding of -nagereg (iets wat jy nie noodwendig elke dag sal eet nie) en geniet elke liewe happie.

MITE: AS JY ’N STRENG DIEET VOLG, HOEF JY NIE TE OEFEN NIE

Waarheid: Dis waar dat jou eetgewoontes ’n belangriker rol as jou oefenroetiene speel wanneer dit by gewigsverlies kom, maar dit beteken nie jy kan die gim heeltemal vermy en ’n sofapokkel raak nie. Om fiks te bly is ’n belangrike manier om chroniese toestande soos diabetes en hartsiekte te keer. Selfs al het jy jou teikengewig behaal en eet elke dag reg, moet jy steeds tyd vir gereelde fisieke aktiwiteit inruim. In een studie is bevind dat diegene wat daagliks vir 30 minute of langer geoefen het, suksesvoller gewig afgeskud (en dit afgehou) het as dié wat nie geoefen het nie.

MITE: SEKERE KOSSE KAN JOU METABOLISME VERSNEL

Waarheid: Daar ís navorsing wat daarop dui dat sekere speserye – veral die sterk, branderige soort – ’n uitwerking op jou metabolisme kan hê. Net so kan sommige drankies soos groentee jou metabolisme ’n hupstoot gee. Maar wat as jy nie van sterk kos of groentee hou nie? Dis oukei – moet jouself nie dwing nie. Tot op hede is dit nog nie bewys dat een van dié twee ’n groot genoeg verandering aan jou metaboliese tempo maak nie. Hier’s ’n beter plan: Maak kragoefening deel van jou fiksheidsroetine. Daar’s wel navorsing wat bewys dat ’n verhoogde spiermassa jou metabolisme aanhelp. Laat jy swoeg en sweet, vriendin!

MITE: AS JY 30 MINUTE KARDIO-OEFENING GEDOEN HET, KAN JY DIE RES VAN DIE DAG ONTSPAN

Waarheid: Om fisieke aktiwiteit by jou daaglikse roetine in te sluit is ’n doeltreffende manier om jou wipplank-diëtery te staak. Hoewel ’n strawwe oefensessie jou metabolisme kan laat vlamvat, beteken dit nie jy kan die res van die dag aan jou stoel of rusbank vasgegom wees nie. Studies toon dat suksesvolle gewigsverlies en -handhawing beter is onder dié wat ’n punt daarvan maak om gedurig te beweeg. Dink aan eenvoudige maniere om aktief te bly, veral as jy ’n kantoorpos het. Klim die trappe, staan terwyl jy ’n telefoongesprek voer en loop op en af in die badkamer wanneer jy ná middagete jou tande borsel. Elke treetjie help!

Oorspronklik vir goodhousekeeping.com geskryf.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
4 gesigmaskers wat jy by die huis kan maak!

Die geheim vir ’n mooi vel is in jou kombuis! Ons wys jou 5 eenvoudige en heerlike selfdoen-gesigmaskers wat jy...

Close