×
Skakel na Engels

8 tuisgemaakte haarbehandelings vir elke haartipe

Maak ’n natuurlike behandeling wat spesifiek vir jou haartipe geskik is
hair treatments

Eiers, jogurt en heuning klink na al die bestanddele vir ’n smullekker ontbyt, maar dis ook toevallig die bestanddele vir (natuurlike én bekostigbare) haarbehandelings. En dis nie die enigstes nie. Het jy geweet dat die olie in avokado’s byvoorbeeld die meeste met ons vel se eie olies ooreenstem teenoor enige ander produk op die skoonheidsrakke? Of dat die matige suurheid in suurlemoen ’n doeltreffende – en sagter – alternatief vir chemiese skoonheidsprodukte is? As jou hare weer ’n bietjie oemf of vertroeteling kort, spaar geld deur een van hierdie kombuiskure te gebruik.

TUISGEMAAKTE HAARKURE

1. Vir alle haartipes

“[Rou] eier is werklik die sterbestanddeel,” sê Janice Cox, die skrywer van Natural Beauty at Home. Die eiergeel, wat ryk aan vette en proteïene is, is natuurlik bevogtigend, terwyl die eierwit, wat bakterievretende ensieme bevat, ongewenste olies verwyder, verduidelik sy.

Gebruik dit: Vir normale hare, gebruik die hele eier om jou hare op te knap; gebruik slegs die eierwitte om olierige hare mee te behandel; en gebruik slegs die eiergeel om droë, bros hare mee te bevog, sê Cox. Gebruik ’n halwe koppie van watter eiermengsel ook al vir jou hare geskik is en wend dit aan skoon, klam hare aan. As daar nie genoeg eier is om jou hare en kopvel mee te bedek nie, meng nog eier. Los dit vir 20 minute, spoel dit met koel water af (om te keer dat die eier “gaar raak”) en was jou hare met sjampoe. Behandelings met ’n hele eier of die eiergeel kan een keer per maand aangewend word; eierwitbehandelings kan elke tweede week gebruik word. 

2. Vir dowwe hare

Stileerprodukte (en lugbesoedeling) kan ’n lagie op jou hare vorm wat vog onttrek en ook jou hare se glans verdof, maar suiwelprodukte soos suurroom en ongegeurde jogurt kan help om dié skade te herstel. “Melksuur stroop vuiligheid liggies af terwyl die melkvet hare bevog,” sê Lisa Belkin, die skrywer van The Cosmetics Cookbook.

Gebruik dit: Masseer ’n halwe koppie suurroom of ongegeurde jogurt in klam hare in en los dit vir 20 minute. Spoel dit met warm water af, gevolg deur koel water, en was dan jou hare met sjampoe soos gewoonlik. Dié behandeling kan elke tweede week aangewend word.

3. Vir ’n jeukerige kopvel

Om skilfers te keer – wat onder meer deur ’n swak dieet, stres en die klimaat veroorsaak kan word – probeer ’n mengsel van suurlemoensap en olyfolie. “Die suurheid van die suurlemoen help om enige los, droë vlokkies vel te verwyder, terwyl die olyfolie die [nuwe ontblote] vel bevog,” sê Cox.

Gebruik dit: Meng 2 e vars suurlemoensap, 2 e olyfolie en 2 e water en masseer dit in ’n droë kopvel in. Los dit vir 20 minute, spoel dit af en was jou hare met sjampoe. Hierdie behandeling kan elke tweede week gebruik word.

4. Vir yl of dun hare

Jy sal nie glo watter bestanddeel jou hare meer volume kan gee nie – bier! Hierdie gefermenteerde drankie bevat baie gis, wat plat, moeë hare lewe gee, verduidelik Cox.

Gebruik dit: Meng ’n halwe koppie flou bier (giet die bier in ’n houer en laat dit vir ’n paar uur staan om die gas uit te kry) met 1 t ligte olie (sonneblom- of kanola-olie) en ’n rou eier. Wend dit aan skoon, klam hare aan; los dit vir 15 minute en spoel dit dan met koel water af. Of giet net die flou bier in ’n spuitbottel en spuit dit oor droë hare. “Wanneer die vloeistof verdamp, sal die oorblywende proteïenresidu (van die koring, mout of hop) aanhou om die hare te versterk en te herstruktureer,” sê Belkin. Dié behandelings kan elke tweede week aangewend word.

5. Vir droë of sonbeskadigde hare 

Wat ook al die oorsaak van die droogheid is – harde water, sonblootstelling, jou stryktang – die natuur se eie versoeter kan jou help. “Heuning is ’n natuurlike bevogtiger, wat beteken dit lok en seël vog in,” sê Cox.

Gebruik dit: Masseer sowat ’n halwe koppie heuning in skoon, klam hare in en los dit vir 20 minute; spoel dit met warm water af. Jy kan ook 1 tot 2 e olyfolie byvoeg om die heuning losser te maak sodat jy dit makliker kan aanwend. Vir hare wat erg deur die son beskadig is, meng heuning met 1 tot 2 e van ’n proteïenryke bestanddeel, soos avokado of eiergeel, wat die keratienproteïenverbindings sal versterk wat die son se UV-strale gewoonlik afbreek. Hierdie behandeling kan een keer per maand aangewend word.

6. Vir olierige hare 

“As dit reg gebruik word, is [mieliemeel of mielieblom] ’n bekostigbare manier om van olierigheid ontslae te raak,” sê Belkin.

Gebruik dit: Giet 1 e mieliemeel of mielieblom in ’n leë sout- of peperpotjie en sprinkel dit oor droë hare en die kopvel totdat dit op is. Ná 10 minute kan jy ’n spaanborsel gebruik om dit heeltemal uit te kam. Dié behandeling kan elke tweede dag gebruik word.

7. Vir hare met ’n erge produkneerslag 

“Niks eet deur aangepakte haarprodukte soos koeksoda nie,” sê Cox. Natriumbikarbonaat breek basies enige iets af wat suurvormend is. 

Gebruik dit: Meng 1 tot 2 e koeksoda met klein bietjies water totdat dit ’n dik pasta vorm. Masseer dit in klam hare in en laat dit vir 15 minute só. Spoel met water af en was jou hare met sjampoe. Dié behandeling kan elke twee weke aangewend word.

8. Vir droë hare in die winter 

Appelasyn help om aangepakte haarprodukte te verwyder wat hare dof laat lyk, terwyl arganolie wegstaanhare voed en versag. Roosmaryn vertroetel ’n droë kopvel. 

Gebruik dit: Pols ’n 1/2 avokado, 2 e arganolie, 10 druppels essensiële roosmarynolie, en 1 e appelasyn in ’n vermenger saam. Wend dié masker aan jou hare aan van die wortels na die punte (as jou hare olierig is, vermy jou kopvel). Steek jou hare op en laat dit vir 15 minute sit voordat jy dit afspoel en met sjampoe was. Doen dit minstens een keer per maand.  

Via: Woman’sDay

LEES OOK: 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Dít is nie die beste tyd van die dag om hare te borsel nie

Een selebhaarkapper onthul alles ...

Close