×
Skakel na Engels

8 stappe om van sentimentele, maar onnodige items ontslae te raak

Glo ons maar: Jy sal beter voel as jy dit eers laat gaan
ontrommel

Dit is een ding om van die stapel katalogusse ontslae te raak wat jou eetkamertafel verberg; om van ou foto’s, geërfde kledingstukke of die lewe se ander soeweniers af te sien is iets heeltemal anders.

“Alles wat ons besit, is ‘n tydmasjien,” sê Christine Kell, ontrommelingsafrigter by Gaining Space. “Mense hou daarvan om na die verlede toe terug te gaan, want hulle dink dit was ‘n beter tyd, maar as jy fokus op wat agter jou lê, is jy nie teenwoordig genoeg om nuwe herinneringe te skep nie, iets wat tot heelwat droefgeestigheid kan lei.”

Hier is maniere om emosionele opruiming ‘n bietjie makliker te maak (en uiteindelik jou plek in jou huis terug te kry):

1. Begin met die badkamer

Die goed wat jou badkamer in beslag neem (soos ‘n versameling skaars gebruikte of verslete handdoeke of die oulike pakkie badbomme wat as ‘n Kerskousvuller vir jou gegee is), het waarskynlik nie veel emosionele waarde nie – en dit is die punt. “Dit maak dit makliker om sentimentele goed uit te gooi,” sê Kell. “My kliënte dink nooit dat hulle die badkamer moet takel nie, maar ek vra dat hulle dit tog doen en kyk hoe dit voel. Dit help jou besef hoeveel goed jy nie regtig gebruik nie.”

2. Jy kan die item weggooi en die herinnering behou

Baie mense hou aan dinge vas wat familielede vir hulle gegee het, selfs al het hulle nie plek of lus daarvoor nie. “Vra jouself af: Sal my niggie wil hê dat hierdie goed ‘n beslommernis vir my moet wees?” sê Kell. “As jy dit nie gebruik nie, is dit eintlik net rommel. Jy kan jou familie liefhê en onthou (en hulle sal jou steeds liefhê) sonder dat jy hulle goed hou.” Ons belowe!

3. Sê totsiens met ‘n laaste eerbetoon

Ek het my matriekafskeidrok vir ‘n laaste keer aangetrek, ‘n foto geneem en dit op Facebook gedeel,” sê Kell. “Mense het gelag en daarop gereageer en dit het dit makliker gemaak om van die rok ontslae te raak – want eintlik gaan alles oor jou verhoudings en om die herinnering te deel.”

4. Al jou besittings is veronderstel om jou te laat goed voel

Dit klink voor die hand liggend, maar dinge raak ingewikkeld wanneer dit by sentimentele items kom.

“Ek het ‘n kliënt gehad wat haar oorlede ma se dagboeke gehou het, en wanneer sy neerslagtig of kwaad raak, sou sy die datums naslaan om te sien of sekere dae vir haar ma belangrik was,” sê Kell. “Soms sou sy net die boks gaan haal en huil. Ek het vir haar gesê: ‘Dis nie hoe jy wil hê jou goed en jou huis jou moet laat voel nie.’ Uiteindelik het sy daarin geslaag om van die dagboeke ontslae te raak.”

5. Jy kan die beste hou – as jy die res laat gaan

In plaas daarvan om items in bokse te vergaar, kan jy ‘n paar stukke van die oorgroeide versameling uitstal om jou sentimentele sy te paai. Kell het een kliënt gehad wat ‘n kunswerk van sy seëlversameling gemaak het en ‘n vrou wat haar trourok se kraletjies aan ‘n ander rok vasgewerk het. “Hierdie dinge lewe nou en is nie meer net dooie energie nie,” sê sy.

6. Identifiseer dit wat regtig iets beteken en goed wat net jou huis vol maak

Jy dink dalk dat jy die verjaarsdagkaartjie van jou ouma moet bewaar, maar dink weer. Is dit ‘n handgemaakte skepping met ‘n innige briefie? Of is dit ‘n generiese winkelkaartjie met haar naam onderaan gekrabbel? Indien dit laasgenoemde is, sal die vryheid wat jy geniet om dit weg te gooi, veel swaarder weeg as die vreugde wat jy ervaar deur daaraan vas te hou.

“Dink aan ‘n hele rol foto’s,” sê Kell. “Die meeste daarvan is uit fokus, of jy haat die manier waarop jy daarop lyk, dus behoort dit nie te moeilik wees om daarvan ontslae te raak nie. Hou net dié wat tot die herinnering bydra.”

Volg dieselfde taktiek wanneer jy babaklere of jou kinders se speelgoed uitsorteer. “Ek het ‘n kliënt gehad wat haar eersgeborene se speelgoed vir haar tweede seuntjie gehou het, maar hy het glad nie daarin belanggestel nie. Hierdie leidraad – dat die items nie meer vir jou werk nie – is rede genoeg om sonder slegvoel daarvan ontslae te raak.”

7. Versag die hou deur die herinneringe te digitaliseer

Dit is heeltemal te verstane dat jy nie van jou ou liefdesbriewe of proefskrif wil afsien nie (maar raak asseblief van die nuttelose klasaantekeninge ontslae). Danksy die wonder van digitale skandeerders hoef jou studeerkamer nie daardeur oorgeneem te word nie. Dit waarvan jy om die dood toe nie kan afsien nie, kan jy op jou hardeskyf of in Dropbox stoor en jou studeerkamer weer jou eie maak.

8. Kry ‘n nuwe mantra

“Ek is gaande oor hierdie aanhaling: ‘Die skuur het afgebrand en nou kan ek die maan sien'”, sê Kell. Herinner jouself daaraan dat jy nie besig is om herinneringe en erfstukke weg te gooi nie – jy maak plek om asem te haal, bevry jouself van ekstra gewig, en besef dat dit wat vandag gebeur, die heel belangrikste is – nie die goed in ‘n boks in jou solder nie.

From: House Beautiful

Lees ook:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
My Plakboek: Catherine Grenfell

DIÉ VIOOL HET AAN MY OUMA RHODIE DAWN BEHOORT. Sy was op ’n skip vanaf die VSA na die Kongo –...

Close