×
Skakel na Engels

8 slim iPhone-wenke wat jou lewe sal verander

Jy kan sy blou lig demp en data rugsteun terwyl dit laai! Deur Amy Davidson
iPhone-wenke

Nes baie van ons gewoontediere is wanneer dit by dinge soos ons weeklikse aandetes, ons TV-programme en slaaptydroetines kom, is ons geneig om ’n vaste patroon te hê wanneer dit by ons selfoongebruik kom. Of dit nou is om jou gunsteling-speletjie te speel, in jul gesin se WhatsApp-groep te klets, of om jou foon as GPS in te span, ons maak waarskynlik nie ten volle gebruik van alles wat ons fone bied nie.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Hier is 8 nuttige wenke wat jou alledaagse gebruik van jou iPhone vir altyd sal verander:

1. Benut jou kragbesparende funksie

As jy aan die rondrits is en skielik besef dat jou battery na aan leeg is en jou foon nog ’n paar uur, of ten minste tot jy by die huis is, moet hou, is dit tyd om jou kragbesparende funksie te aktiveer. Gaan na Settings > Battery > Low Power Mode en aktiveer die funksie. Die verminder jou foon se kragverbruik en behoort jou foon ’n bietjie langer te laat hou.

2. Vra Siri om jou te herinner

Ons brein werk nou maar eenmaal so dat die take wat bedags agterweë gebly het, net voordat jy wegdommel in jou gedagtes opduik. In plaas daarvan om wakker te lê omdat jy bang is dat jy daardie take gaan vergeet, kan jy Siri inspan om jou te herinner (want g’n mens kry ’n pen en papier as jy dit nodig het nie!). Sê byvoorbeeld net: “Hey Siri” (onthou, sy’s Engels) of druk die tuisknoppie (home button) en laat jou boodskap met ’n tyd daarby.  Byvoorbeeld: “Hey Siri, remind me to put the recycling out at 7am”. Jy kan ook liggingsgebaseerde notas aktiveer soos “Hey Siri, remind me to feed the dog when I get home”.

3. Vee uit met ’n skud van jou hand

As jy al ooit in die rondhardloop ’n teksboodskap probeer skryf het, sal jy weet dat jy soms met ’n warboel letters op jou skerm sit wat nie sin maak nie. In plaas daarvan om freneties op die uitvee-knoppie te lê, kan jy net jou foon skud. Wanneer “Undo Typing” op jou skerm verskyn, kan jy eevouding “undo” kies en jou laaste getikte frase sal verdwyn.

4. Neem ’n foto terwyl jy ’n video maak

Almal van ons wou al vinnig ’n foto neem, net om geen reaksie van ons kamera te kry nie … totdat ons besef dat ons besig is om ’n video op te neem. Gelukkig kan jy selfs op jou video-verstelling foto’s neem! Druk net die wit sirkel langs die stop-knoppie om jou foto’s te stoor.

Lees ook: Hoekom jy liefs nie jou foon oornag moet laai nie

5. Beskerm jou lêers

As jy persoonlike data soos finansiële inligting of webwerf-aantekenbesonderhede op jou foon gestoor het, kan jy dit met ’n wagwoord of raak-ID (Touch ID) beveilig. Sluit jou inligting deur na Settings > Notes te gaan en “Password” te kies. Skep dan ’n wagwoord en gee jouself ’n wagwoord-leidraad voordat jy “Done” kliek. As jy enige waardevolle foto’s en video’s op jou foon het, is dit noodsaaklik om dit gereeld te rugsteun. Die laaste ding wat jy wil hê is om jou foon én al jou selfies te verloor!

6. Vermy steurnisse

Nes daai nagmerries waar jy jou sonder klere op ’n openbare plek bevind, kan ’n selfoon wat in ’n “geen selfone”-situasie begin piep of lui jou in ’n koue sweet laat uitslaan. Deur die “Do Not Disturb”-funksie te kies (Settings > Do Not Disturb), sal oproepe en kennisgewings jou foon nie laat lui, piep of vibreer nie. Jy kan die verstelling ook aanpas om oproepe van sekere persone te laat deurkom.

7. Skeduleer jou slaaptydmusiek sodat dit jou nie wakker maak nie

Soms is dit lekker om na ’n oudioboek, podsending of rustige musiek te luister om jou te help om aan die slaap te raak. Wat sleg is, is om 03:00 gedisoriënteerd wakker te skrik met klank wat steeds uit jou foon kom. Deur op jou iPhone se horlosie in te gaan en op “Timer” te kliek, kan jy dié lastigheid regstel. Stel die tydtoestel vir hoe lank dit jou behoort te neem om aan die slaap te raak en kliek op “When Timer Ends”. Rol nou af tot onderaan die lys en kliek op “Stop Playing”. Dit beteken dat wanneer die tydtoestel afgaan, jou foon enige iets wat speel, sal afskakel.

8. Demp die blou lug

Ons almal weet van die blou lig wat jou iPhone vrystel en hoe dit tot ’n rustelose nagrus kan lei deur jou interne horlosie te verwar en jou sintuie te stimuleer. As jy jou foon net voor slaaptyd gebruik, kan jy die blou lig verminder deur na Settings > Display en Brightness > Night Shift te gaan. Jy kan die kleure self na die warmer kant van die kleurspektrum skuif of ’n tyd skeduleer waarop dit outomaties moet gebeur.

Uit: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/Prykhodov

LEES OOK:

5 maniere waarop jou slimfoon jou angstigheid kan beïnvloed

Wat jy moet doen as jou foonskerm beskadig is

Jou selfoon is dalk 10 keer vuiler as ’n toiletsitplek!

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om direk van ’n slimfoon of tablet te druk

Maak dit makliker as ooit tevore om jou gunsteling-foto’s of belangrike dokumente te hou deur dit vanaf jou slimfoon of...

Close