×
Skakel na Engels

8 redes waarom jou maandstonde ongereeld is

Dit blyk dat erge stres toe nou nie jou siklus beïnvloed nie, maar hierdie dinge doen dit wel
irregular period

Dit kan senutergend wees wanneer jou maandstonde laat of ongereeld is. Jy dink onmiddellik jy is swanger of het ’n ernstige mediese toestand, maar daar is inderwaarheid ’n klomp verskillende redes waarom jou maandstonde nie is soos dit moet wees nie.

Ons het met die ginekoloog dr. Jennifer Ashton, skrywer van The Body Scoop for Girls: A straight-talk guide to a healthy, beautiful you (Avery), gepraat oor die verskillende faktore wat ’n invloed op jou maandstonde kan hê, en wanneer jy bekommerd behoort te wees. Ashton het ook ’n paar algemene misvattings oor ongereelde siklusse uit die weg geruim: Stres, ’n slegte dieet en gereelde reise of oefening het toe nou nie ’n invloed op jou maandstonde nie. Onthou, as jy begaan is oor wat met jou siklus aangaan (of nie), praat met jou dokter.

  1. Jy bereken dit verkeerd (of jy hou glad nie tred daarvan nie).

As jou menstruele siklus gesond is, behoort tussen 21 en 40 dae tussen die eerste dag van een maandstonde en die eerste dag van die volgende maandstonde te verloop. Maar as jy nie tred hou van jou maandstonde nie, is daar ’n kans dat jy nie eens sal agterkom jou maandstonde is ongereeld nie.

Dis moeilik om te onthou presies wanneer jou laaste maandstonde was. As jy dus nie ’n app op jou foon het om van jou maandstonde tred te hou nie, laai nou een af om te verseker dat jy gesond is.

  1. Jy is ondergewig.

Hoewel daar geen vereiste minimum gewig of liggaamsmassa-indeks (LMI) is om te menstrueer nie, het jy ’n sekere persentasie liggaamsvet nodig om gereelde maandstondes te hê. “Jy kan vanuit ’n evolusionêre standpunt baie logies daaroor dink,” verduidelik Ashton. “As ’n vrou ondergewig is, dink haar brein sy ly honger en dat dit nie die beste tyd is om voort te plant nie.”

  1. Polisistiese ovariële sindroom (PSOS).

PSOS is ’n versteuring wat veroorsaak dat jou liggaam die regte soorte hormone vervaardig, maar in die verkeerde verhouding. Dokters is nie seker of dit geneties is en of daar ’n spesifieke oorsaak is nie, maar vroue met PSOS het dikwels maandstondes wat ver uit mekaar is – ses tot agt weke, of selfs langer – of ongereeld vir meer as ’n jaar ná hul eerste siklus omdat hul hormoonwanbalans ooraktiwiteit in die eierstokke veroorsaak.

Ander simptome van PSOS kan gewigstoename, ’n olierige vel of aknee, depressie of gemoedskommelinge en haarverlies of haargroei insluit.

  1. Hormonale geboortebeperking.

Die Pil, die pleister, die Depo-Provera-inspuiting en die meeste soorte intrauterine apparate (IUA’s) is vorms van hormonale geboortebeperking wat die estrogeen- en progestienvlakke in jou ligaam verander, wat jou maandstonde beïnvloed. Dit kan jou liggaam tyd neem om aan te pas, veral as jou siklus ongereeld was om mee te begin.

  1. Jy drink nie die Pil soos jy moet nie.

Daar is twee soorte geboortebeperkingspille: monofasies, waar elke pil in die pak dieselfde is; en trifasies, waar daar ’n verskeidenheid aktiewe pille is (wat verskillende soorte en vlakke van hormone bevat) en plasebopille (wat nie hormone bevat nie). As jy trifasiese geboortebeperking gebruik, menstrueer jy gedurende die week waarin jy die plasebopille drink. Maar as jy nie die plasebopille neem nie, sal jy nie menstrueer nie.

Dis ook belangrik om die Pil elke dag op dieselfde tyd te drink sonder om ’n dag oor te slaan. “As jy nie jou pille drink nie, dae oorslaan of dit op verskillende tye van die dag drink, kan dit onreëlmatige bloeding veroorsaak,” sê Ashton. Dit kan ook die Pil minder doeltreffend maak.

  1. Jy sinchroniseer met ’n ander vrou.

As jy saam met ’n ander vrou woon wat menstrueer, soos jou ma, suster of huismaat, is daar ’n goeie kans dat julle siklus uiteindelik sal ooreenstem, sê Ashton. Wetenskaplikes weet nie hoekom dit gebeur nie, maar dis ongelooflik algemeen – en dit verduidelik waarom jy jou maandstonde op ’n dag kan kry wanneer jy dit nie verwag nie.

  1. Sekere medikasie.

As jy medikasie vir depressie, angs, bipolêre versteuring of ’n ander psigiatriese versteuring drink, kan dit moontlik jou siklus ontwrig. “Hoe meer medikasie jy drink, hoe groter is die kans op ongereelde bloeding,” sê Ashton.

Dit beteken nie jy moet jou medikasie ophou drink sonder om met jou dokter te praat nie. Vra jou dokter oor jou opsies – jy kan ’n goeie kandidaat vir hormonale geboortebeperking soos die Pil of ’n IUA wees.

  1. Jy ervaar vaginale bloeding, maar nie weens jou maandstonde nie.

Nie alle vaginale bloeding is as gevolg van jou maandstonde nie. In uiters skaars gevalle kan jy weens ’n infeksie, ’n gewas, ’n bloeding- of stollingskwaal bloei, of as ’n vreemde voorwerp in jou vagina geplaas is. Een manier om vas te stel of jy as gevolg van jou maandstonde of om ’n ander rede bloei, is om van jou siklus tred te hou, maar as jy bekommerd is, praat met jou dokter.

Hierdie artikel het oorspronklik op www.goodhousekeeping.co.uk verskyn.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Onwaarskynlike dierevriende

Het jy ’n bietjie opkikkering vir die dag nodig? Hierdie oulike video is net wat jy nodig het

Close