×
Skakel na Engels

8 motorveiligheidstoetse wat jy moet doen voordat jy die langpad vat

Moenie dat motorprobleme jou vakansie in die wiele ry nie. Gebruik hierdie nuttige afmerklysie om seker te maak jou motor is gereed vir die langpad

Of jul bestemming net ’n uur buite die stad lê en of julle die langpad na ’n ander provinsie vat, maak seker jou motor is piekfyn voordat julle wegtrek.

Maak vol

Maak seker jy het ’n vol tenk petrol voordat jy jou reis aanpak. As dit iewers gedurende jul reis op half lê, maak dit by die naaste vulstasie vol – jy weet nooit hoe ver jy sal moet ry voordat jy weer by een kom nie.

Bande is belangrik

Maak seker jou banddruk is reg (jy kan die regte lesing in die binnekant van die bestuurder se deurpaneel sien). Dis veral belangrik as jy ’n waentjie of woonwa gaan saamsleep. Dis ook belangrik om te kyk dat die loopvlak van jou bande minstens 1 mm oor die deursnee van die band steek en dat daar geen skeure of knoppe aan die wande is nie. En moenie vergeet om die toestand van jou spaarwiel na te gaan nie.  

Maak seker van jou versekering

Kyk of jou padbystandsdienslidmaatskap nog geldig is, asook watter voordele jou motorversekering jou bied en waarvoor jy verseker is indien julle ’n ongeluk maak of die motor breek.

Basiese onderhoud

Laat vul jou motor se olie, remvloeistof en jou ruitveërs se waterhouer op. Kyk dat jou ruitveërs voor en agter goed werk. Gaan jou motor se battery na; vervang dit indien dit al enigsins probleme veroorsaak het.

Lees ook: 10 maniere: Hou meer vakansie vir minder

Ligte aan

Kyk dat al die ligte aan die voor- en agterkant van jou motor behoorlik werk, asook jou flikker- en noodligte.

In die geval van ’n noodgeval

Maak seker jy het ’n nooddriehoek, ’n domkrag en ’n spaarwiel in jou kattebak. Dis ook ’n goeie idee om ’n noodhulpkissie en ’n basiese gereedskapstel vir die pad in te pak.

Beplan jou roete

Of jy ’n outydse padkaart of die nuutste navigasietegnologie gebruik, maak ’n punt daarvan om die roete vooraf te bestudeer. Dis ’n goeie manier om ’n paar stilhouplekke te identifiseer en sal jou voorberei vir ingeval julle van roete moet verander.

Lees ook: 10 maniere om rugpyn te keer wanneer jy reis

Moenie jou motor oorlaai nie

Weet jy wat jou voertuig se maksimum gewigskapasiteit is? Jy sal dit aan die binnekant van die bestuurder se deur kry. As jy van plan is om ’n taamlike pakkaas saam te ry, sal jy dit beslis vooraf moet nagaan.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 slim pak-idees

Die feestyd is om die draai en sommige van ons sal binnekort ons tasse pak om familie en vriende te...

Close