×
Skakel na Engels

8 kostebesparende wenke vir nuwe ouers

Om vir ’n baba reg te maak kan baie vinnig báie duur raak. Ons het ’n paar oplossings!
baba

 

Een van die eerste dinge wat jy moet doen nadat jy uitgevind het dat jy swanger is, is om ’n realistiese begroting op te stel van dit wat jy en jou maat bereid is om voor die baba se koms te spandeer. ’n Skattige uitrusting hier en ’n sagte beertjie daar kos alles ’n paar rand, en kort voor lank het jy ’n fortuin aan goed spandeer wat nie jy of die baba nodig het nie.

Hier is 8 wenke wat jou duisende rande sal spaar – ons belowe! 

1. Moenie tweedehandse goed wegwys nie

Wanneer jy van die volmaakte kinderkamer vir jou volmaakte baba droom, wil jy net die heel beste hê. Maar kom ons wees realisties. As jy met berge skuld sit omdat jy R50 000 (of meer) aan ’n kamer spandeer het waarin die baba nie eens slaap nie, SAL jy spyt wees. As jou susters, vriende, mense by die kerk of kollegas tweedehandse babagoed aandra, sê jy baie dankie en neem dit. Goed soos ’n babamonitor, speelraam, bababad en selfs klere is duur en alles hoef nie splinternuut te wees nie aangesien jy dit in elk geval net vir ’n paar maande gaan gebruik. 

Pin hierdie artikel vir later! volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

2. Maak gebruik van Baby Exchange, Gumtree en tweedehandsgroepe op Facebook

Jy kan al die tweedehandse goed wat jou nie geval nie, na Baby Exchange toe neem of op tweedehandse babagroepe op Facebook verkoop. Dié groepe is volop – soek net na een in jou area. Of jy kan dit op Gumtree van die hand sit. Sodoende kry jy ’n paar rand vir goed wat jy wel wil hê of nodig het. Jy kan ook juweeltjies op daardie groepe raakloop wat so goed soos nuut is!

3. Moenie die nuutste rygoed koop nie

Stootwaentjies en motorstoeltjies is duur, maar gelukkig kan jy steeds die handelsnaam van jou keuse splinternuut aanskaf as jy ’n model van ’n jaar of twee gelede koop – minus ’n paar duisend rand! Die beste raad is om nooit by die bure te probeer kers vashou nie. Mense kan taamlik kompeterend raak wanneer dit by babagoed kom, maar luister na goeie raad: Moenie in daardie strik trap nie, want dis rêrig belaglik.

4. Leen by vriende

As jou vriendinne en susters onlangs babas gehad het, kan jy kyk wat jy by hulle kan leen. Jou baba gaan só vinnig groei en voor jy weet, gaan jy aan hulle deure klop om die musikale swaaistoeltjie, bababad en bottelsteriliseerder terug te gee wat na ʼn paar maande net plek in jou huis opneem. En ja, natuurlik gaan jy duisende spaar. 

5. Maak ’n lys van alles wat jy wil hê en nodig het

Kort voor lank sal vriende en familie begin vra wat julle nog vir die baba nodig het. Die beste raad is om direkte en spesifieke antwoorde te hê, anders gaan jy op die ou einde met wiptuie, loopringe en massas goed sit wat jy nooit gaan gebruik nie. Grootouers gee gewoonlik nie om om ’n bietjie spandabelrig te raak wanneer dit by hulle kleinkind kom gee nie, dus kan jy iets soos die stootwaentjie of bababedjie noem. 🙂

Wees ook verstandig. Dit is maklik om jou deur advertensies te laat oortuig dat jy jou kind benadeel deur sekere items van hom te weerhou. Gebruik jou kop en besluit self of ’n duur ortodontiese fopspeen dit werd is. 

6. Koop doeke asof dit uit die mode gaan

Teken in op die nuusbriewe van toonaangewende supermarkte, babawinkels, apteke en aanlyn kleinhandelaars wat babaprodukte verkoop om kennisgewings te ontvang wanneer daar ’n spesiale aanbieding op doeke (en ander babagoed) is. Koop doeke in verskillende groottes, want jou spruit gaan vinnig groei!

Jy kan ook die pa van jou baba se vriende vra om ’n doekebraai te hou. Dié nuwe tradisie geniet al hoe meer aftrek en dis die ideale manier om hope doeke gratis te kry! Dit is basies ’n laaste braai saam met jou maat se vriende voordat die baba gebore word, en elkeen bring ’n pak doeke. Briljant!

BONUSWENK: As jy te veel doeke in ’n sekere grootte het en jy die pak nog nie oopgemaak het nie, kan jy dit sonder ’n strokie by Baby City vir ’n groter grootte gaan omruil.

7. Moenie by die baba-afdeling koop nie

Die oomblik wanneer die woord “baba” op ʼn etiket staan, verdubbel die prys. Koop soortgelyke produkte in ander afdelings of winkels. Klein plastiekbakkies spesifiek vir babakos is belaglik duur terwyl jy soortgelyke bakkies by die plastiekwinkel om die hoek vir ’n tiende van die prys kan koop. Jy hoef ook nie ’n Winnie-the-Pooh-doeksak te hê nie. Koop ’n oorgroot handsak by ’n afdelingswinkel en betaal heelwat minder vir ’n heelwat stylvoller doekesak. 

8. Doen dit self

Formulemelk is peperduur en alhoewel borsvoeding sy eie klompie uitdagings meebring, beteken dit dat jy jou kind vir die eerste ses maande van sy lewe gratis kan kos gee. Wanneer hy vaste kos begin eet, kan jy ook spaar deur sy eie kos voor te berei. Behalwe dat dit goedkoop en maklik is, spaar jy hom al die toegevoegde suikers en preserveermiddels wat klaarbereide kos bevat.

Foto: iStock/HASLOO

 

LEES OOK:

Ontmoet die eerste Gerber®-baba met downsindroom

7 fantastiese aanlyn winkels vir oulike ooievaarspartygeskenke

Die gewildste babaname vir 2017

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 nuttige wenke vir wanneer jy met jou baba vlieg

Dit is spanningsvol om alleen met jou baba te vlieg, maar hierdie wenke sal help!

Close