×
Skakel na Engels

8 kombuisfoute wat voedselvergiftiging kan veroorsaak

En wat om te doen om bakterieë op ’n afstand te hou. Deur Vicky Chandler
voedselvergiftiging

Braking, diarree en koors? Dié drie dinge is alles simptome van voedselvergiftiging, en baie van ons het hierdie nare dinge al ondervind. Hier is agt foute wat jy in die kombuis kan begaan wat voedselvergiftiging kan veroorsaak, en hoe om dit te vermy.

1. Jy warm nie kos behoorlik op nie

Wanneer jy oorskiet opwarm, maak seker jy verhit dit deeglik – anders kan jy ’n erge vlaag van voedselvergiftiging kry. Daar is spesifieke kosse, soos rys, aartappels en olies, waaroor die Britse Agentskap vir Voedselstandaarde aanbeveel dat jy uiters versigtig moet wees wanneer jy dit weer verhit.

2. Jou yskas is nie op die regte temperatuur nie

Dit is belangrik om jou yskas se temperatuur dop te hou, want bakterieë kan by warmer temperature groei en die kans vergroot dat jy kan siek word. Die ideale temperatuur behoort tussen 3 ºC en 5 ºC te wees.

3. Jy was jou kapbord verkeerd

Jou kapbord is ’n teelarde vir bakterieë – veral as jy rou vleis of vis daarop gesny het. Jy moet nie net ’n aparte kapbord vir vleis en vis gebruik nie, maar ook versigtig wees oor hoe jy dit was.

CJ Jackson, uitvoerende hoof van die Billingsgate-seekosopleidingskool, sê jy moet die kapbord in koue water afspoel voordat jy dit in warm, seperige water was. “As jy dit eers met warm water was, is daar ’n risiko dat jy enige vis- en vleisoorblyfsels gaarmaak!” waarsku sy ons. Nie ’n goeie kombinasie met die bereiding van rou kos nie.

4. Die hergebruik van kombuisgereedskap

Al is dit irriterend, maak seker jy gebruik verskillende stukke gereedskap wanneer jy kos maak, of was dit elke keer voordat jy dit vir iets anders gebruik. Moet nooit tange, spatels of houtlepels gebruik om gaar kos te hanteer wat ook vir rou kos gebruik is nie.

5. Jy ontvries kos nie behoorlik nie

Jy moet kos stadig in die yskas laat ontvries in plaas van op die toonbank of in jou wasbak, veral op ’n warmer dag. Onthou egter om vleis en vis op die onderste rak te laat ontvries sodat vleis- en vissappe nie op ander kos in die yskas val nie.

6. Jou yskas is te vol

Om jou yskas te vol te stop kan swak lugsirkulasie en oneweredige verkoeling veroorsaak. Probeer dus ’n bietjie plek tussen kos en houers in jou yskas laat, en volg hierdie stappe om jou yskasspasie ten beste te benut.

7. Jy was nie jou hande behoorlik nie

Wie kan eerlikwaar sê hulle was hul hande behoorlik ná elke stap van kosbereiding? Ons is almal daaraan skuldig dat ons kortpaaie kies op een of ander tydstip terwyl ons ’n maaltyd berei, maar jy kan ’n pad van vernietigende voedselvergifting agter jou laat.

Onthou om altyd jou hande te was nadat jy veral rou vleis en vis gehanteer het, en probeer om nie aan krane, deurhandvatsels, oonddeure en yskaste te raak sonder om jou hande eers te was nie.

8. Jy vervang nie skottelgoedsponse en -lappe nie

Die gereedskap wat veronderstel is om jou borde en gereedskap silwerskoon te hou, kan ook die vuilste wees. Skottelgoedsponse en -lappe kan skadelike bakterieë huisves. Daarom is dit beter om dit elke week te vervang.

From: www.goodhousekeeping.co.uk

LEES OOK:

Stap vir stap: Maak só ’n speseryrak vir jou kombuis

Raak besig in die kombuis met hierdie Banting-boeke

6 maniere om in die kombuis water te bespaar

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief