×
Skakel na Engels

8 goed wat jy net een keer ’n jaar hoef skoon te maak

Dit is nou ’n skoonmaaklysie waarmee ons kan saamleef!
skoon

1. Vee die buitekant van jou vensters af

Hierdie taak is basies dieselfde as wanneer jy dit aan die binnekant doen – net soms hoër. As jy dit dus nie kan (of wil!) bykom nie, sê Carolyn Forte, die direkteur van die skoonmaaklaboratorium in die Good Housekeeping Institute,  jy kan ’n kenner kry om te help. Gebruik andersins ’n borsel (of ’n handstofsuier as dit baie vuil is) om vuiligheid rondom die raam af te vee, en gebruik dan ’n sproeireiniger en pluisvrye lap om horisontaal te vee totdat dit droog is.

2. Was jou gordyne en drapeersels

Die materiaal versamel gedurende die jaar stof. Jy kan dit in jou wasmasjien was of dit na jou naaste droogskoonmaker neem. Maar Forte sê daar is een uitsondering: “Valletjies wat aan borde geheg is, kan gewoonlik net gestofsuig word.” Om dit te doen, gebruik ’n trapleertjie en ’n handstofsuier en werk van bo na onder om die stof op te suig.

LEES OOK: 3 stappe om jou waskamer reg te ruk

3. Stofsuig jou kaggel

Sodra die koue weer verby is, gebruik ’n industriële stofsuier om die as op te suig en gebruik dan klam handdoekpapier om die res skoon te vee. Vir die skoorsteen sal jy hulp nodig hê, sê Forte: “Jy kan die kaggel en die vuurherd en omliggende gedeeltes stofsuig, maar die skoorsteen moet jaarliks deur ’n kenner skoongemaak en ondersoek word.”

4. Maak gestoffeerde meubels goed skoon

Dis altyd ’n goeie idee om jou rusbank en ander meubels gedurende die jaar skoon te maak as jy iets daarop mors, maar Forte beveel nie aan dat jy die jaarlikse skoonmaak alleen aanpak nie. “Dis die beste om ’n kenner hiervoor in te kry omdat dit nie iets is wat ’n huiseienaar maklik op hul eie kan doen nie,” sê sy.

5. Maak jou motorhuis skoon

As jy soos ons is, is jou motorhuis waar alles ingeprop word wanneer daar nêrens anders is om dit te sit nie, en dit is hoekom Forte aanbeveel dat jy elke jaar tyd maak om te kyk na wat jy bymekaar gemaak het en wat jy nie meer nodig het nie.

6. Stofsuig rondom lugopeninge

Dit is nou verhittingsbuise en lugversorgingsopeninge. Forte beveel aan dat jy die sagte borsel (die een met die borselhare) op jou stofsuier gebruik en sê jy moet dit oor die hortjies beweeg om te keer dat stof heeljaar lank deur jou huis blaas.

7. Diepreinig jou matte

Volgens Forte is dit nie jou gemiddelde stofsuigsessie nie. “Die huiseienaar kan dit met ’n gehuurde of gekoopte matskoonmaker doen, maar dis ’n goeie idee om elke 12 tot 18 maande ’n professionele skoonmaker te kry, wat doeltreffender is.”

8. Maak jou geute leeg

As jou geute vol blare gestop is, sal dit nie water dreineer soos dit ontwerp is om te doen nie. Voel jy avontuurlustig? “My man klim op ons dak om ons geute skoon te maak,” sê Forte. Maar sy erken die meeste huiseienaars wat sy ken huur ’n diens om hierdie vertikaal uitdagende taak te verrig.

Van: Woman’s Day

FOTO: iStock/KucherAV

LEES OOK:

Twee skoonheidsneigings waaroor ons dol is

5 huisskoonmaakfoute

5 noodsaaklike huishoudelike skoonmaakprodukte

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
21 skoonmaakprobleme waarvoor jy koeksoda kan gebruik

Jy het ’n houer vol hiervan in elke vertrek van jou huis nodig

Close