×
Skakel na Engels

8 dinge wat jy van spatare en spinnekopare moet weet

Besorg oor spatare of bekommerd dat jy jou ouers se geaarde bene gaan oorerf? Hier is inligting wat jou gerus kan stel.

 

1. Om jou bene te kruis veroorsaak nie spatare nie. Ook nie om hoëhakskoene te dra nie. “Dit is net ouvroustories,” sê dr, Luis Navarro, mediese direkteur van The Vein Treatment Center in die VSA. Die opdamming van bloed word in werklikheid meer algemeen veroorsaak wanneer jy lank sit en/of staan. Ander noemenswaardige oorsake is “vetsug, rook, ’n gebrek aan oefening en hormonale geboortebeperking”.

2. Dis nie net ’n kosmetiese probleem nie. Die algemeenste wanopvatting oor spatare is dat mense dit net laat behandel omdat hulle ydel is. Hoewel kenners saamstem dat spatare meestal nie ’n gesondheidskwessie is nie, behoort dit nie geïgnoreer te word nie.

“Spatare veroorsaak moegheid van die bene, swelling en algemene ongemak. Dit kan ook ’n waarskuwingsteken van langtermyn-gesondheidsrisiko’s wees, waaronder diepvenatrombose, bloedklonte, swak sirkulasie en beensweeling,” sê Navarro.

Wanneer behoort jy ’n dokter te gaan sien? As jou bene aan die einde van die dag of tydens fisieke aktiwiteit swaar of seer voel.

3. Dis beslis geneties, maar moenie sommer jou ouers die skuld gee nie. Jy kan die neiging van een of albei kante van die familie oorerf, en dit kan selfs ’n generasie oorslaan.

4. Spatare en spinnekopare is nie dieselfde ding nie.

Spinnekopare:

  • is klein, dun bloedvate wat onder die vel gesien kan word
  • is gewoonlik onskadelik
  • kan ’n simptoom van swak sirkulasie en spataarvorming wees

Spatare:

  • is uitgerekte are waar bloed opgedam het
  • is dik, “tou-agtig” en staan op die bene uit
  • gebeur wanneer eenrigtingkleppe nie behoorlik werk nie

Dit is nie ongewoon om spatare en spinnekopare in een been te hê nie.

5. Mans kry dit ook. Hoewel kenners dit eens is dat 70% tot 80% van pasiënte wat vir spatare behandel word, vroue is, ly mans ook aan veneuse siektes, selfs al is hulle minder geneig om behandeling daarvoor te kry.

6. Maar swangerskap kan spatare veroorsaak. Swangerskap veroorsaak toenemende druk teen die inferior vena cava (holaar), die hoofaar wat bloed van die onderste helfte van die liggaam dreineer. In sekere liggaamsposisies kan die fetus die bloedvloei versper.

Die ekstra produksie van hormone gedurende swangerskap veroorsaak ook dat die gladde spier van die are ontspan, wat hul stoorkapasiteit én geneigdheid om te verwyd vergroot. Dit vergroot weer die risiko van spatare en spinnekopare. Enige iets wat druk in jou buik laat toeneem, kan tot sparare lei, insluitende “oortollige vet”. En dit bring ons by die volgende punt …

7. Oefening is die beste manier om probleme met are te keer. Voeg dit dus by jou lys redes om te oefen of meer trappe te klim. Eenvoudige toonopdrukke kan help: Versterk en oefen jou kuitstpiere regdeur die dag deur jouself eenvoudig op die bal van jou voete op te druk en weer te laat sak.

8. Daar is geen bewese manier om die voorkoms daarvan te verminder nie (behalwe professionele behandeling), hoewel sommige pasiënte grimering gebruik om prominente are te bedek. Jy kán egter pynlike simptome met die volgende verlig:

  • Kompressiekouse of sykouse in kniehoogte, dyhoogte en middelhoogte groottes
  • Wildekastaiingsaadekstrak, wat help om aaruitswelling te verminder
  • Hamamelis, wat ’n “pypeffek skep met ’n lagie van ’n chemikalie wat druk op die vel toepas en pyn verlig,” sê dr. Greg Martin, skrywer van Say Goodbye to Varicose & Spider Veins Now! (Plentiful Publishing)

Van: Prima

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief