×
Skakel na Engels

8 dinge wat jy van die 2018 Olimpiese Winterspele moet weet

Op jul merke, gereed, skreeu vir Suid-Afrika!
winter olympics

 

Elke vier jaar reis atlete van oor die wêreld heen om in die grootste sportbyeenkoms ter wêreld mee te ding: die Olimpiese Spele. Omdat daar so ’n groot verskeidenheid sportsoorte is, word dit in die Somer- en Winterspele opgedeel. Vanjaar is die Winterspele aan die beurt en dié byeenkoms skop op die 9de Februarie 2018 af.

Hier is agt dinge wat jy van die 2018 Olimpiese Winterspele moet weet. 

1. Suid-Korea bied die 2018 Winterspele aan

Suid-Korea, en meer spesifiek Pyeongchang, is vanjaar se gasheerstad vir dié sportbyeenkoms. Pyeongchang is in die Gangwon-provinsie in die Taebaek-bergstreek geleë. Dis die eerste keer dat Suid-Korea die Olimpiese Winterspele aanbied en die tweede keer dat ’n Olimpiese byeenkoms in dié land gehou word sedert die 1988 Somerspele in Seoel.

PyeongChang se hoogte bo seespieël maak dit ’n gewilde plek vir ski en bergklim. Baie van die items gaan in die Alpensia-sportpark aangebied word, wat deel van die gewilde Alpensia-oord is. Suid-Korea is sewe uur voor Suid-Afrika.

2. Die Winterspele is voorwaar ’n internasionale geleentheid

Vanjaar se Spele spog met 15 verskillende sportsoorte wat oor 102 items en 18 dae versprei gaan word, en van die items sal reeds op die openingsaand plaasvind. Daar gaan byna 3 000 atlete van 92 lande wees, waaronder Ecuador, Eritrea, Kosovo, Maleisië, Nigerië en Singapoer.

3. Afrika gaan ook by die Spele verteenwoordig word

Vanjaar gaan die meeste Afrika-lande nog aan die Winterspele deelneem – ’n volle agt. Altesaam 13 lande is al in die verlede in die Olimpiese Spele verteenwoordig, en minstens een Afrikaland neem al elke jaar sedert 1984 deel. Vanjaar gaan die totaal na 15 vermeerder aangesien Eritrea en Nigerië vir die eerste keer gaan deelneem.

Die agt Afrikalande wat vanjaar gaan deelneem is Suid-Afrika, Eritrea, Nigerië, Kenia, Marokko, Ghana, Madagaskar en Togo, en hulle gaan ’n totaal van 13 atlete stuur om mee te ding.

Vir ons Suid-Afrikaners is dit baie opwindend omdat ons almal bankvas agter één atleet gaan staan. Die 21-jarige Connor Wilson gaan die Suid-Afrikaanse vlag by die openingseremonie swaai. Wilson gaan aan die alpeski-slalom-/reuse-slalom-item deelneem wat op 18 Februarie plaasvind.

Hier is die volledige lys van Afrikalande en hul atlete, asook aan watter sporte hulle gaan deelneem:

Suid-Afrika: Connor Wilson (alpeski vir mans)

Eritrea: Shannon Abeda (alpeski, reuse-slalom en slalom, alles vir mans)

Kenia: Sabrina Simader (alpeski vir vroue)

Nigerië: Akuoma Omeoga (bobslee), Moriam Seun Adigun (bobslee) en Simidele Adeagbo (Skeleton-ski)

Morocco: Adam Lamhamedi (alpeski vir mans) en Samir Azzimani (heg-en-steg-ski vir mans)

Ghana: Akwasi Frimpong (Skeleton-ski)

Madagascar: Mialitiana Clerc (alpeski vir vroue)

Togo: Alessia Afi Dipol (alpeski vir vroue) en Mathilde-Amivi Petitjean (heg-en-steg-ski vir vroue)

4. DStv gaan die Winterspele uitsaai

Die 2018 Winterspele sal op al vier SuperSport-kanale vanaf Vrydag 9 Februarie uitgesaai word. Dit sal regstreeks op SS11 (DStv 211) en SS12 (DStv 212) uitgesaai word, asook op SS13 (DStv 213) en SS14 (DStv 214), wat as tydelike kanale spesifiek vir die Winterspele sal dien.

SuperSport 11 saai reeds inhoud oor die komende én vorige Spele uit. Dis ook die kanaal waarop die openingseremonie op die 9de Februarie om 13:00 uitgesaai gaan word. Al vier dié SuperSport-kanale sal ook op die DStv Now- digitale platform beskikbaar wees. 

Daaglikse hoogtepunte van al die medaljewenners se prestasies en die oorhandigingseremonies, asook die rekordprestasies sal op die DStv Catch Up-diens gelaai word. ’n Daaglikse uurlange Engelse hoogtepunt-pakket sal ook op die Maximo-kanaal op DStv beskikbaar wees.

Lees ook: DStv Now, Netflix of ShowMax?

5. Wat gaan tydens die openingseremonie gebeur?

Die seremonie vind plaas op Vrydag 9 Februarie 2018 in Pyeongchang se Olimpiese Stadion wat spesiaal vir dié geleentheid gebou is. Dit kan tot 35 000 mense hou en gaan slegs vir die opening- en afsluitingseremonies gebruik word. Die openingseremonie gaan in meer as 200 lande oor die wêreld heen uitgesaai word.

Die seremonie se fokus gaan op vrede wees, met vyf kinders van die Gangwon-provinsie wat die optog gaan lei, asook diere, natuurelemente en 2 000 mense wat deel van die skouspel gaan wees. Belangrike gaste by die seremonie gaan onder meer die president van Frankryk, Emmanuel Macron, die Duitse president, Frank-Walter Steinmeier, en die president van Switserland, Alain Berset, wees. 

6. Gaan Rusland deelneem ná die onlangse verbod?

Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) het Rusland verbied om aan die 2018 Winterspele deel te neem weens bewyse van staatsgesteunde opkikkergebruik onder sy atlete. Daar sal egter 169 atlete van Rusland deelneem, maar onder baie streng maatreëls en onder die titel van “Olimpiese atlete van Rusland” (OAR), nie hul vlag nie. Die Russiese vlag sal glad nie by die Spele erken word nie, soos deur die IOK bepaal.

7. Wat is die amptelike gelukbringer van vanjaar se Winterspele?

Volgens tradisie het elke Spele sy eie gelukbringer wat die land moet verteenwoordig waarin dit aangebied word. Vanjaar gaan dit ’n wit animasie-tier genaamd Soohorang wees. Die wit tier word as Suid-Korea se “bewakerdier” beskou.

Die gelukbringer se naam is ’n kombinasie van ’n paar Koreaanse woorde. “Sooho” beteken “beskerming”; “rang” kom van die Koreaanse woord vir ’n tier, “ho-rang-i”, af, asook van die volksliedjie “‘Jeong-seon A-ri-rang'”, die tradisionele liedjie van die provinsie Gangwon, waar die Spele gaan plaasvind.

8. Waar gaan die volgende Olimpiese Spele gehou word?

Die volgende Winterspele in 2022 sal in Beijing plaasvind, wat ook die Olimpiese Somerspele in 2008 gehou het. Die 2020 Somerspele gaan in Tokio plaasvind, die 2024 Somerspele in Parys, en Los Angeles gaan die 2028 Somerspele aanbied. Die gasheerstad vir die 2026 Winterspele is nog nie aangekondig nie.

FOTO: iStock/technotr

 

LEES OOK:

5 goed wat jy moet weet voordat jy jou volgende sportbra koop

Die voordele van 20 minute se vroegoggend-oefening

3 maniere om oefening by die werk in te pas

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Video: Kyk die lokprent van “Tali’s Wedding Diary” met Suzelle DIY as die hoofster

Ons kan nie wag om hierdie reeks te kyk nie!

Close