×
Skakel na Engels

7 wonderlike maniere om ’n nuwe ma te help

Blomme is altyd ’n welkome geskenk, maar hierdie gawe gebare sal meer as net die lewe ophelder van iemand wat pas ’n baba gekry het

 

Jou vriendin het pas ’n baba gekry … Gaan kuier jy of gee jy haar ruimte? Neem jy blomme of kos? Hier is ’n paar goed wat haar lewe beslis ’n bietjie makliker sal maak:

1. Pas die ander kinders op

As sy nog kinders het, neem hulle vir ’n uur of twee uit sodat jou vriendin ’n bietjie kan slaap of net tyd saam met die jongste toevoeging tot die gesin kan deurbring.

2. Bederf haar, nie net die baba nie

Almal bring altyd geskenke vir die baba – wat natuurlik fantasties is – maar wees ’n goeie vriendin en bederf die ma ook. Hier is ’n lieflike idee: Maak ’n geskenkpak op met lekkergoed, lyfprodukte en haar gunsteling-tydskrif. Of kry vir haar ’n geskenkbewys vir ’n manikuur of pedikuur, maar onthou om ook aan te bied om die baba vir daardie uur op te pas.

LEES: Die beste manier om jou baba aan die slaap te kry

3. Neem kos

Spaar jou vriendin kosbare tyd deur ’n klaarbereide maaltyd (tuisgemaak of gekoop) – niemand gaan jou oordeel nie!) saam te neem wanneer jy gaan kuier. Pastas, bredies en soppe is maklik om op te warm. Maak seker jy vra (indien jy nie reeds weet nie) oor enige kosallergieë of -sensitiwiteite wat haar gesin dalk het.

4. Gaan koop vir haar kruideniersware

Dit sal ongelooflik baie help! Bel haar en gee haar genoeg tyd om ’n kruidenierswarelys saam te stel en gaan doen dan vir haar die inkopies. Of pas haar baba op terwyl sy self gaan inkopies doen – soms het nuwe ma’s ’n begeerte om “normale” goed te doen en met ander volwassenes interaksie te hê.

LEES: 10 dinge wat jy van ’n tweede swangerskap moet weet

5. Moenie te lank bly nie

Tussen voedings, badtyd en slaaptyd het jou vriendin waarskynlik ’n knap skedule. En jy is nie die enigste vriend(in) wat inloer nie – hou dus jou kuiers tussen 30 minute en ’n uur.

6. Betaal iemand om haar huis skoon te maak

Nog ’n lewensredder! Maar dit kan nie jy wees nie. Daar is nie ’n manier dat jou vriendin jou sal toelaat om haar huis skoon te maak sonder om te probeer help nie, en dit verydel die doel om háár te probeer help. Betaal dus ’n diens soos SweepSouth om die nuwe ma se huis skoon te maak en waarsku haar vooraf.

LEES: Gee jou vrugbaarheid ’n hupstoot met 6 natuurlike stappe

7. Kry haar uit die huis

Die kans is goed dat jou vriendin een of ander tyd aan kajuitkoors gaan ly. Nooi haar na ’n kindervriendelike restaurant vir middagete of ’n uitstappie na die park of strand. En onthou om haar (en haar ander kinders, as hulle saamkom) te gaan oplaai.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 goed om te doen voordat jy vir jou kind ’n slimfoon gee

Verseker dat jou kinders nie per abuis onvanpaste inhoud sien of reusagtige rekeninge veroorsaak nie

Close