×
Skakel na Engels

7 wenke vir hoe om die regte slimfoon te kies

Moenie dat die keuses jou oorweldig nie – ons nuttige koopwenke sal jou help om die beste slimfoon vir jóú te kry
regte slimfoon

Om ’n nuwe slimfoon te kies kan oorweldigend wees om die minste te sê. Met so baie handelsname, style, eienskappe en apps wat voordurend opgedateer word, kan dit moeilik wees om op net een foon te besluit.

Die meeste van ons sal in die versoeking kom om die hele rondkykproses en vergelyking van pryse te los en net te vat wat die verkoopspersoon ook al aan ons probeer verkoop. Maar omdat selfone duur is, is dit beslis die moeite werd om jou huiswerk te doen voordat jy in een belê.

Ons het probeer om jou besluit ’n bietjie makliker te maak deur ’n lys koopwenke saam te stel wat jy in gedagte kan hou. En neem altyd jou eie behoeftes en begroting in gedagte – moenie dat enige verkoopspersoon jou arm draai nie!

1. Stoorruimte

Kry ’n foon met minstens 16 GB datastoorplek. Apps is deesdae baie groter en baie van hulle kan nie die verwyderbare mikroSD-geheuekaart gebruik nie. Fone met slegs 8 GB stoorplek is ’n bron van groot frustrasie.

2. Spoed

Willekeurige toeganggeheue (RAM) is die kenmerk wat jou foon “vinnig” laat voel wanneer verskeie groot apps gelyktydig oop is. Mik vir meer as 1 GB RAM; 2 GB is die minimum vir speletjies.

Lees: Laat jou selfoon se battery langer hou

3. Omhulsels

Metaalfone is nie noodwendig duursamer as plastiekfone nie en dit kan jou opvangs belemmer, maar metaalafwerkings dui wel op beter gehalte in die algemeen.

4. Kameras

Foonkameras met ’n hoë dinamiese omvang (HDR) neem baie beter foto’s in ingewikkelde situasies met ’n kombinasie van ligte en donker dele. Let wel: Dis egter nog ’n skaars kenmerk in goedkoper fone.

5. Raaktegnologie

Vingerafdruksensors raak al hoe algemener, selfs op goedkoper fone. Dis gerieflik wanneer jy jou foon vinnig wil ontsluit en jy sal dit binnekort ook vir veilige betalings van jou slimfoon af kan gebruik.

Lees: 5 goed om te doen voordat jy vir jou kind ’n slimfoon gee

6. Skerms

’n Beskermende laag vir jou skerm is meestal onnodig. Dit word van plastiek gemaak wat baie makliker krap as die chemies verharde glas op jou foonskerm, wat teen krapmerke van sleutels en kleingeld in jou sak bestand is.

7. Krag

Kragbanke (power banks) word in milliampère per uur (mAh) gemeet net soos jou slimfoon se battery. Jou kragbank moet groter as jou foonbattery wees omdat 20% van die krag in die laaiproses verlore gaan.

FOTO: iStock/Georgijevic

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Ruim jou slimfoon op

Is jou foon heeltemal te slim? Vereenvoudig dit met ’n digitale opruiming ... Deur Carrie-Ann Skinner

Close