×
Skakel na Engels

7 suksesvolle strategieë vir voornemens

Is jy vasbeslote om in 2015 veranderinge in jou lewe aan te bring? Probeer dié eenvoudige strategieë sodat jy daarmee sal vorhard

 

 

1. GOEIE REDE

As jou voorneme een of ander vorm van opoffering behels, van vroeg opstaan tot draf tot ophou suiker in jou koffie drink, sorg dat jy ’n duidelike idee van jou einddoel het – of dit nou fiksheid, gewigsverlies of ’n afname in jou cholesteroltelling is. Dit is ’n uitstekende manier om jou te motiveer.

 

2. WEES SPESIFIEK

Hoe meer spesifiek jy is, hoe groter is die kans dat jy sukses sal behaal. “Om gesonder te leef” is ’n te algemene doelwit om by te hou. Sny byvoorbeeld koolhidrate twee dae per week uit om teen Februarie 2 kg te verloor – dis ’n meer spesifieke en meetbare doelwit.

 

3. SKRYF GOED NEER

Sit jou doelwitte in ’n joernaal uiteen, of in die aantekeninge-app op jou slimfoon of in die doenlysie van jou dagboek. Wat jy ook al beplan om te doen, skryf dit neer. In ’n studie aan die Stanford-universiteit in die VSA is bevind as mense hul doelwit neerskryf, verhoog dit die waarskynlikheid dat hulle dit sal behaal met meer as 70%.

 

4. OMGEWING IS ALLES

As jy vasbeslote is om gesond te eet, maar jou spens is vol gemorskos, is jy klaar op pad om te ontspoor. Sluit aan by ’n groep wat op dieselfde doelwitte as jy gefokus is, skep ’n kaart waarop jy jou vordering aanstip en deel jou suksesse en teleurstellings met iemand wat ook op ’n pad na verandering is.

 

5. FOKUS JOU ENERGIE

As jou voornemens gepeper is met te veel doelwitte en dinge wat jy wil verander, is jou kans hoër om te misluk, sê kenners. Wanneer jy ’n enkele doelwit skep met verskillende stappe om dit te bereik sal dit jou help om op koers te bly.

 

6. VOLHARDING BETAAL

Wanneer dit by voornemens kom, kom baie van ons gou aan die gang, maar raak traag wanneer die resultate nie gou genoeg sigbaar is nie. Onthou dat alles ’n proses is – om op klein daaglikse oorwinnings te fokus wat met die gewoonte of vaardigheid verband hou waaraan jy werk, is jou kans op sukses soveel hoër.

 

7. VERGEWE JOUSELF VIR MISLUKKINGS

Oukei, jy het toe nou nie jou liassering gedoen soos jy gesê het jy sou nie, of jy het die sluimerknoppie gedruk en gim gemis. Jou terugslae definieer nie jou sukses nie; jou reaksie daarop doen dit wel. Jou sukses word bepaal deur of jy dit regkry om jouself af te stof en opnuut op jou doelwit te fokus.

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Wenke vir terug-skool-toe-inkopies

Ons help jou voorberei vir dié gewigtige taak deur die huiswerk vír jou te doen

Close