Vir die van ons wat nie oggendmense is nie en sukkel om douvoordag op te staan, kan dit verbysterend wees dat daar mense is wat elke oggend vol woema en energie uit die bed spring. Jy voel dalk selfs ’n bietjie jaloers op hul byna bonatuurlike vermoë.
Maar volgens ’n gedragsielkundige van Brittanje kan jy ook só voel as jy hierdie sewe stappe volg, berig Mail Online.
Die sielkundige, Jo Hemmings, het ’n wetenskaplik gegronde roetine uitgewerk wat blykbaar van enige iemand ’n oggendmens kan maak, selfs naguile.
Pleks van daardie sluimerknoppie te druk en te druk, volg dié stappe en staan ’n slag vroeg en vars op. Party van dié wenke sal jou verbaas.
7 stappe om ’n oggendmens te word
1. Slaap op die linkerkant van die bed
2. Dra iets geel wanneer jy gaan slaap
3. Stel jou wekker om jou gunsteling-goedvoelliedjie te speel
4. Oefen wanneer jy opstaan (5 minute)
5. Staan op jou kop – regtig! (2 minute)
6. Vat ’n koue stort (3 minute)
7. Eet ’n ontbyt wat stadig energie sal vrystel (5 minute)
“Pleks van soggens die sluimerknoppie vir 18 minute te druk, wat jou op die ou end nog moeër en deur die blare kan laat voel, gebruik eerder daardie tyd om hierdie eenvoudige oggendroetine toe te pas,” het Hemmings aan Mail Online gesê. “Die formule bevat aspekte wat jou op en wakker sal maak.”
Volgens Hemmings sal dié stappe jou ’n energiehupstoot gee, bloed na jou brein laat vloei en ’n glimlag op jou gesig sit.
Komaan, naguile, probeer dit gerus en geniet ’n slag die mooi sonsopkoms.
Van: Good Housekeeping UK
Foto: iStock/Geber86
LEES OOK:
Die voordele van 20 minute se vroegoggend-oefening