×
Skakel na Engels

7 “ongesonde” kosse wat voedingkundiges eet

Voedingkundiges word opgelei om vir ons te sê watter kosse om tot elke prys te vermy. Maar wees gerus; daar is sekere “ongesonde” kosse wat hulle sal eet!
pasta

Moenie hierdie skynbaar ongesonde kosse vermy nie. Voedingkundiges is ook dol daaroor!

Daar word dikwels vir ons gesê watter ongesonde kosse ons nie behoort te eet nie, maar hier is goeie nuus: Voedingkundiges verbied nie alle smaaklike kosse en drankies nie! Hier is ’n paar wat jy by ’n gesonde dieet kan insluit:

  1. Spek

    Ja, jy het reg gelees. Daar is voedingkundiges wat spek eet. Maar matigheid is belangrik! Spek gee slaaie en oondstoofgeregte ’n rokerige, soutige geur, en ’n bietjie is genoeg om jou lus te bevredig. Rooster pleks van braai dit en hou jou porsiegrootte dop.

  2. Aartappels 

    Aartappels is ’n bekostigbare voedingsbron propvol vitamiene B en C, kalium, yster en vesel. As jy jou porsies dophou en aartappels geniet sonder om dit in romerige souse en botter te verdrink hoef dit nie sleg vir jou middellyn te wees nie.

  3. Rosyntjies

    Hoewel voedingkundiges gewoonlik vir ons sê droëvrugte is nie so onskuldig soos dit lyk nie, bevat rosyntjies nie bygevoegde suiker en preserveermiddels nie; dis bloot gedroogde druiwe. Maar as jy jou suikerinname dophou, hou in gedagte dat een rosyntjie gelykstaande aan een druif is. 

  4. Eiers

    Ons praat nie net van die eierwit nie, maar die hele eier! In studies is bevind dat diëters wat eiers vir ontbyt geëet het 65% meer gewig verloor het as dié wat ’n styselryke ontbyt geëet het. Kyk hierdie video oor hoe om die perfekte mikrofolf-eiers te maak vir ’n vinnige proteïenhappie.

  5. Pasta

    Glo dit of nie, hierdie koolhidraat hoef nie jou gesondheid te ondermyn nie. Kies vars pasta of volgraanpasta waar moontlik, en transformeer hierdie trooskos in ’n voedsame maaltyd deur dit met maer proteïen en groente te kombineer. Hou by souse met ’n tamatiebasis pleks van romerige souse en jy kan pasta so te sê sonder skuldgevoelens geniet.

  6. Volroomjogurt

    As jy altyd die laevet- of vetvrye weergawes koop, moenie! Die ekstra vet sal jou vir langer versadig hou en peuseltogte gedurende die dag in toom hou. Jy sal waarskynlik die geur van volroomjogurt meer geniet as hul “maerder” eweknieë. As jy jogurt by jou daaglikse dieet insluit, hou jou porsiegrootte dop, want volroomjogurt bevat meer kilojoules en versadigde vet as laevetjogurt.

  7. Koffie

    Hoewel koffie dikwels as ’n ongesonde drankie beskou word. bevat koffie van ’n goeie gehalte heelwat antioksidante en kan die metabolisme ’n hupstoot gee. Matigheid is egter belangrik. Moenie meer as een of twee koppies soggens drink nie en drink die res van die dag water en kruietee. Hou ook in gedagte hóé jy jou koffie drink. Kies filterkoffie eerder as ’n caffé latte of ’n gegeurde koffiedrankie.

     
    Lees ook:

    5 ongesonde “gesondheidskosse”
    Die 4 kosse wat enige voedingkundige uit jou kombuis sal verwyder

     

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Dís hoe GH-leser Farenaaz Allie 36 kg verloor het

Farenaaz Allie is ’n 44-jarige-oue maatskaplike werker en getroude ma van drie. Sy het haar gesondheid in haar eie hande geneem...

Close