×
Skakel na Engels

7 minder bekende simptome van demensie

Hoewel geheueverlies een van die bekendste tekens van demensie is, is dit nie altyd die eerste een nie en beslis ook nie die enigste nie. Deur Hannah Fox
demensie

Die vrees om demensie te kry is deesdae groter as om kanker te kry. Dit is dus belangrik om op die hoogte te kom van die verskillende simptome. “Mense is bang om demensie te ontwikkel, en wanneer hulle iets vergeet, wonder hulle of dit die begin daarvan is,” sê prof. June Andrews, skrywer van Dementia: The one-stop guide. “Navorsing en ondervinding bewys dat geheueprobleme nie altyd die eerste teken of die grootste probleem is nie.”

Hoewel die tekens hier onder glad nie ’n bewys van demensie is nie, is dit dalk wys om met ’n dokter te gesels as jy of ’n familielid dit ondervind. 

1. Sukkel om woorde te vind

Dit het al met ons almal gebeur dat die woord wat jy wil sê op die punt van jou tong is, maar dat jy dit net nie uit die diep kamers van jou geheue kan trek nie. Dit is gewoonlik glad nie iets om oor bekommerd te wees nie, maar as dit al hoe meer gebeur, kan dit ’n vroeë teken van demensie wees. 

“Demensie kan jou vermoë om te praat aantas, wat angstigheid kan veroorsaak,” sê Andrews. Dit gebeur omdat jy die verbindings in die brein wat jou help om die woord te sê wat jy wil sê, verloor soos wat die brein al hoe meer beskadig word.  

2. Probleme met beplanning en om instruksies te volg

Soos om ’n gunstelingresep te volg, of ’n weeklikse potjie brug te speel. Dit was alles eenvoudige take of aktiwiteite wat jy of ’n geliefde kon doen sonder om te dink, maar dit gaan moeiliker word. Demensie kan dit wat jou “uitvoerende funksie” – jou vermoë om dinge uit te werk – genoem word, beïnvloed en dit vererger as jy nie kan onthou hoe om dinge te doen en in watter volgorde om hulle te doen nie. 

“Daar is baie aktiwiteite wat ons elke dag doen sonder om te dink, maar wanneer jy hulle ontleed, is hulle eintlik baie ingewikkelde uitvoerende take,” sê Andrews. “As jy jou uitvoerende vermoë verloor, kan jy dalk weet dat jy hierdie dinge moet doen, maar nie in staat wees om dit alles te verstaan nie.” Die gevolg is verwarring en ’n vertraagde begrip oor hoe om die taak te doen.  

3. Gemoedsveranderings

As ’n gesinslid minder sosiaal, depressief of selfs aggressief voorkom, kan dit alles met dimensie verbind word. “Frontotemporale demensie, wat die voorkant van die brein aantas, kan aggressie veroorsaak, omdat die voorste breinlobbe die plek is waar inhibisies lê,” sê Andrews. 

In beginsel verloor jy die vermoë om jou emosies te onderdruk. Wanneer jy gefrustreerd raak omdat jy nie kan verstaan of take kan uitvoer nie, kan jy jou humeur verloor, ontsteld raak of sommer net nie meer tyd saam met mense wil deurbring nie.

Lees ook: Hoe om beter met iemand met demensie te kommunikeer

4. Slapeloosheid en moegheid

Soos wat jy ouer raak, is dit natuurlik om vir korter tye te slaap en in die nag wakker te word, maar dit kan selfs erger wees vir iemand met demensie. “Almal het ’n ingeboude horlosie wat deur die hormoon melatonien beïnvloed word. Dit verminder soos jy oud word en selfs meer in die geval van alzheimersiekte,” sê Andrews.

Dit kan daartoe lei dat jy meer dikwels wakker word, wat natuurlik tot moegheid en slapies in die dag lei. Wees ook op die uitkyk na hierdie tekens. Sekere soorte demensie, soos Lewy se liggaamsdemensie, kan ook fisieke veranderings in die brein veroorsaak wat nagmerries kan aanhelp en slaap versteur. 

5. Probleme om te bestuur

Wanneer iemand vir meer as 40 jaar bestuur, doen hy dit amper outomaties. Wanneer dit vir iemand moeilik word om te bestuur, kan dit ’n teken van demensie wees. “Om te bestuur verg vinnige oordeel en nakoming van sekere reëls. Iemand met demensie oordeel stadiger en vergeet van die reëls,” sê Andrews.

Dit gebeur nie net omdat jou reaksietyd stadiger word soos wat jy ouer word nie. Dit is ook omdat demensie jou vermoë beïnvloed om padreëls te onthou. Iemand wat demensie het, kan dalk die verkeerde rigting om ’n sirkel ry of selfs verdwaal op pad huis toe. 

6. Kossmake kan verander

Soos mense ouer word, is hulle gewoonlik nie so lus vir soetgoed nie, maar ’n verandering in smaak word met demensie verbind. “Demensie word deur breinskade veroorsaak en veranderings in jou sensoriese gewaarwonderings, waaronder smaak, is alles tekens van breinskade,” sê Andrews. 

’n Australiese studie het in werklikheid ’n verbintenis tussen frontotemporale demensie en ’n toenemende lus vir soet, suikerryke kos gevind. 

7. Val en sukkel om te loop

Om te val kan ’n groot bekommernis wees soos jy ouer word, en ongelukkig kan demensie jou risiko vergroot. “Mense met vaskulêre demensie is meer geneig om probleme met ruimtelike bewustheid te hê wat die risiko vergroot dat hulle kan val,” sê Andrews.

Stapspoed kan ook afneem. In ’n studie wat in Neurology gepubliseer is, is die stapspoed van 128 mense met ’n gemiddelde ouderdom van 76 getoets en breinskanderings op hulle gedoen. Dit het bevind dat mense wat ’n opbou van ’n proteïen genaamd beta-amilioïed, wat met demensie verbind word, in die brein het, stadiger gestap het. 

“Almal van ons struikel elke af en toe, maar die gevaar van demensie is dat ’n mens langer vat om te herstel van ’n struikeling en veral ’n val,” sê Andrews. 

Van: Prima UK

FOTO: iStock/ivanastar

LEES OOK:

Die regte dieet kan jou slimmer maak

Voorkom alzheimersiekte

4 verrassende oorsake van veroudering 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Jou 8 vrae oor grys hare beantwoord

’n Haarkundige beantwoord al jou vrae oor grysword ... Deur Bridget March

Close