×
Skakel na Engels

7 maniere waarop jy droë sjampoe verkeerd gebruik

Hierdie wonderproduk verrig net wonderwerke as jy dit reg gebruik

Droë sjampoe kan een van die wonderlikste goed onder jou skoonheidsmiddels wees – solank jy dit natuurlik reg gebruik. Maak die beste gebruik van hierdie haarsorgstaatmaker deur dié algemene foute te vermy.
Fout #1: Jy spuit dit te naby aan jou kopvel.
Om dit eweredig deur jou hare te versprei en te keer dat dit soos kryt lyk, spuit die droë sjampoe sowat 20 cm weg van jou wortels.
Fout #2: Jy gebruik te veel van die produk.
Wanneer jou hare olierig is, kan ’n goeie dosis droë sjampoe dit varser laat lyk, maar wanneer jy te veel daarvan aanwend, sal jou hare vaal en verbleik lyk. Soos met alle produkte is dit makliker om later meer aan te wend as om dit te verwyder. Gebruik dus net ’n bietjie, wag ’n paar minute en voeg nog by as jy voel jou hare is nog te olierig.

Fout #3: Jy wend dit aan die verkeerde deel van jou hare.
Moenie droë sjampoe oor jou hele kop aanspuit nie – bly net by die boonste paar sentimeter. Die kans is goed dat die onderkant van jou hare nie olierig is nie. As jy dus ’n olie-absorbeerder oraloor aanwend, kan dit jou hare styf en leweloos maak.
Fout #4: Jy masseer dit nie in nie.

As jy dit nie doen nie, sit die droë sjampoe net bo-op jou hare en kan nie sy werk doen nie. Gebruik dus jou vingerpunte om dit in jou wortels en kopvel in te masseer.
Fout #5: Jy gebruik die verkeerde kleur vir jou hare.

As jy donkerbruin hare het en ’n droë sjampoe met ’n ligte tint gebruik, kan dit lyk asof jy kryt oral oor jou wortels gesprinkel het. As jou hare blond is en jy ’n donker skakering gebruik, sal dit jou hare verkleur. Al hoe meer handelsmerke maak gekleurde droë sjampoe. Maak seker jy kry die regte kleur.

Fout #6: Jy vryf dit onmiddellik in nadat jy dit aangespuit het.
Moenie net spuit en los nie. Gee die produk kans om regtig die olie by jou wortels te absorbeer deur dit vir ’n paar minute aan te los voordat jy dit inmasseer en deurkam of -borsel.
Fout #7: Jy maak elke dag daarop staat.

As iemand wat op die meeste een keer ’n week my hare was, gebruik ek altyd droë sjampoe tussen wasse en dit is wonderlik om olierigheid teen te werk. Maar as jy dit te dikwels doen, kan dit nadelig wees omdat die opgeboude residu jou follikels kan verstop. Probeer dus om dit net een keer tussen wasse te gebruik sodat jou kopvel kans het om asem te haal.

Hierdie artikel het oorspronklik in www.goodhousekeeping.co.uk verskyn.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Prins William praat openlik oor die verdriet nadat sy ma dood is

Die pa van twee maak oop oor prinses Diana se dood in ’n toespraak vir Child Bereavement UK

Close