×
Skakel na Engels

7 maniere om jou Maandag minder blou te maak

Maandag hoef nie ’n mismoedige dag te wees nie!
maandag-blues

Om die week met ’n huppel in jou stap te begin is soms makliker gesê as gedaan. Met ’n bietjie beplanning is dit egter moontlik om daardie Maandag-mismoedigheid te fnuik en in ’n japtrap in beheer van jou week te wees.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

1. Sorg dat jy die naweek jou gunsteling-dinge doen …

Maak die meeste van die naweek deur dinge te doen wat jou energie gee. Kom by jou vriende uit en maak saam kos of gaan stap in die natuur. Doen iets lekkers. Raak weg in daai fantastiese boek waarmee jy besig is of gaan kyk die fliek waarna jy so uitgesien het. Wat jou ook al gelukkig maak, dis nóú die tyd om jouself te bederf.

2. … maar moenie te laat gaan slaap nie!

Sorg dat jy oor die naweek teen ’n redelike tyd in die bed kom. Jy het tussen sewe en nege ure slaap ’n nag nodig om behoorlik uit te rus en gereed te wees om enige iets te hanteer wat die komende week jou kant toe kom.

3. Moenie die week injaag nie

Genoeg slaap is die eerste stap na ’n meer positiewe Maandag-ervaring. Om jouself genoeg tyd te gee om die dag rustig in te gaan, is stap twee. In plaas daarvan om uit die bed te vlieg en halsoorkop reg te maak met net genoeg tyd om betyds op kantoor te wees, kan jy die dag rustig aanpak deur vroeër op te staan. Nog beter, gee jouself ekstra tyd om te oefen of te gaan stap. Dit sal jou meer energiek laat voel én daai goedvoel-endorfiene aktiveer. Of jy kan net vir ’n paar oomblikke in stilte sit en asemhaal …

4. Maak tyd om te organiseer

Knyp ’n tydjie oor die naweek af om jou week te beplan. Word ’n paar minute rustig en stel ’n program vir die week op. Besluit wat alles op jou doenlysie moet kom, soos werkstukke en vergaderings. Maar maak veral tyd om na te dink oor wat vir jou belangrik is, wat op die ou end dalk meer waarde het as als wat gedoen moet word. Skep ’n roetine wat vir jóú vervullend is, soos ’n vroegoggendstappie, tyd om te mediteer of in jou dagboek te skryf of jou tuin te geniet. Wat dit ook al is, jy sal die komende week meer positief ingaan as jy hierdie dinge by jou weeklikse program insluit.

5. Eet ontbyt

Hoekom? Jy het brandstof nodig – dis hoekom. Ontbyt gee jou liggaam energie en sien jou deur tot middagete. Dis ook goed vir ’n gesonde metabolisme en hou jou bloedsuikervlakke stabiel.

6. Beplan jou uitrustings

Dis ongetwyfeld so dat ’n mens goed voel as jy goed lyk. Beplan jou klerekas vooruit en besluit oor die naweek wat jy gedurende die week gaan aantrek. Of dan minstens die vorige aand. As jy op jou beste lyk, sal jy die selfvertroue en energie hê om ’n Maandag – en die res van die week – met ’n veel positiewer gesindheid aan te pak.

7. Doen iets vir iemand

Om minder op jouself en jou gevoelens te fokus, sal jou sommer ook beter oor jou Maandag laat voel. Stop jy vir ’n wegneemkoffie op pad werk toe? Hoekom kry jy nie een vir ’n kollega nie! Selfs iets eenvoudig soos ’n “Goeie more!” – met ’n glimlag – of om ’n kollega met haar voorkoms te komplimenteer, sal jou én die mense rondom jou, beter oor die komende dag laat voel.

 

LEES OOK:

6 gesonde gewoontes wat jou stresvlakke verlaag en jou gelukkig maak

4 verrassende gesondheidsvoordele van dankbaarheid

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 foute wat dit moeiliker maak om jou oond skoon te kry

Spaar jouself moeite deur dié foute te vermy. Deur Verity Mann

Close