×
Skakel na Engels

7 maniere om jou brein op te skerp

Gee jou grysstof ’n hupstoot
brein

Gereelde oefening, genoeg slaap en ’n gebalanseerde dieet is die eerste stappe vir ’n sterker, gesonder verstand. Probeer ook hierdie maklike wenke so dikwels moontlik vir selfs beter resultate:

1. Drink meer melk

Kalsium hou jou breinselle gesond en ’n glas melk is waarskynlik die beste bron. Daar is in een studie bevind dat deelnemers wat onlangs melk gedrink het ook hoër vlakke van ’n oksidant genaamd glutatioon gehad het wat selskade in die brein voorkom.

Probeer om 250 ml melk drie keer per dag te drink – afgeroomde en laevetmelk is ook voldoende. As dit vir jou te veel is, kan jy ook kalsium deur donker blaargroente, kaas (lekker!) en jogurt inkry.

2. Skryf dinge neer

Gebruik ’n potlood en jy sal jou kruidenierswarelysie of ’n nuwe woord makliker onthou as wanneer jy dit uittik. Dit help jou om die inligting te verwerk. In een studie is bevind dat studente wat ’n skootrekenaar in die klas gebruik het, notas getik het sonder om te dink wat hulle tik, terwyl dié wat met ’n pen en papier notas gemaak het net die belangrikste neergeskryf het.

3. Neem ’n nuwe roete werk toe

“Die brein werk meestal uit gewoonte,” sê dr. Ian Robertson. “Wanneer jy iets onbekends doen, stuur jou brein neurotransmitters uit wat kommunikasie tussen die verskillende dele van die brein verbeter.” As jy reeds ’n nuwe roete werk toe probeer het, vind ander maniere om jou daaglikse roetine te ontwrig: As jy regs is, borsel byvoorbeeld jou hare met jou linkerhand.

4. Peusel aan sade

Pampoen- en sonneblomsaad bevat al twee magnesium en die meeste van ons kry nie die 400 mg per dag in wat vir goeie gesondheid aanbeveel word nie, sê dr. Drew Ramsey, ’n assistent- kliniese professor in psigiatrie aan die Columbia-universiteit in die VSA. Magnesium stimuleer breingroei en kalmeer die senuweestelsel, wat jou kalm hou.

5. Kies volgraanbrood

Dis ’n fantastiese bron van sink, wat die reukdeel van die brein help om reuke en smake te verwerk. Dis juis die twee sintuie wat geneig is om te verswak namate ons ouer word.

6. Speel met ’n bal

Gooi ’n tennisbal teen ’n muur en vang dit met een hand of bons dit op ’n raket om die verbindings wat jou oë, hande en brein aan mekaar koppel ’n goeie oefensessie te gee. Enige gooi-en-vangaksie sal werk en hoe kleiner die bal is (volgende is ’n pingpongballetjie), hoe groter is die uitdaging.

7. Lees ’n roman

Navorsing toon dat fiksie emosionele intelligensie bevorder, wat jou help om empaties teenoor ander te wees soos wat jy dalk met die karakters is. Dis nooit te laat om ’n beter – of skerper – mens te word nie!

FOTO: iStock/portishead1

LEES OOK:

4 maniere waarop jou slimfoon jou brein verander

Oefen jou brein vir meer slaap

Dít is wat jou hoofpyne vir jou probeer sê

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hierdie eenvoudige tekentoets kan parkinsons identifiseer

Nuwe sagteware kan ’n vroeë diagnose baie makliker maak. Deur Jenny Cook

Close