×
Skakel na Engels

7 kennerswenke om jou hare sonder enige hitte reguit te maak

Wil jy gladde, reguit hare hê sonder om dit te beskadig? Die kenners deel hul beste geheime.
reguit hare

Dit verg dikwels die gebruik van chemikalieë, haardroërs en haartange op die hoogste hitteverstelling om golwende hare penreguit te maak. Maar vroue maak al dekades lank hul hare sonder enige hitte reguit – nog lank voordat keramiekplate, toermalyn of ioniese toestelle uitgevind is.

Hittevrye tegnieke sal nie noodwendig vir almal werk nie. “Dit is eerlikwaar nie baie realisties om krulhare sonder enige vorm van hitte of ’n hittetoestel te probeer reguit maak nie,” sê Jill Engelsen, ’n senior stilis by Butterfly Studio in New York. Maar dis heel moontlik as jy natuurlike golwende, medium tot fyn hare het.

Hier is dus sewe selfdoenwenke om jou hare sonder hitte reguit te maak as jy dit nie wil beskadig nie.

1. Begin met die regte sjampoe en opknapper

“Dit is baie belangrik om ’n ordentlike sjampoe en opknapper spesifiek vir reguit hare te gebruik,” sê Scunci se selebstilis Laura Polko. “Nadat jy dit gewas het, probeer om soveel moontlik vog uit te kry en wend dan ’n vergladdende room aan – of gebruik ’n aanlosopknapper om jou hare voor te berei en rond dit af met ’n vergladdende serum of olie, na gelang van jou haartipe.

2. Gebruik ’n absorberende handdoek

“Hittevrye tegnieke werk die beste op ’n fyn tot medium haartekstuur wat reguit of effens golwend is,” sê Engelsen. Hoewel dit ure kan duur voordat jou hare heeltemal droog is, “kan jy die proses bespoedig deur absorberende materiaal te gebruik wat die vog vinnig uit die hare sal haal sonder om skade en kroeserigheid te veroorsaak”.

3. Borsel jou hare totdat dit droog is

“Vir lang tot medium style wat maklik reguit gemaak kan word, borsel nat hare afwaarts en trek dit elke paar minute met jou hande styf totdat dit droog is,” sê Engelsen. “Hierdie tegniek sal ’n effense onnet dog stadsjiek voorkoms – wat so dikwels op die loopplanke gesien word – aan natuurlike golwende hare verleen, en jy kan die styl afrond deur olie of pommade aan die punte aan te wend om jou hare glad te maak.” Ons beveel die Wet Brush aan as jy onseker is oor watter borsel om te gebruik.

4. Draai jou nat hare rondom jou kop en wag

“Tydens my grootwordjare in Argentinië het ek gesien hoe my susters hul hare met koue lug droogblaas en dan ’n tegniek wat hulle ‘toca’ noem, gebruik,” sê die selebhaarstilis Ricard Rojas van Ricardo Rojas Atelier in New York. “Die proses begin deur jou hare met koue lug droog te blaas totdat dit amper droog is, en dan gedeeltes hare om jou kop te draai en vas te knip. My susters het dit saans gedoen en die volgende oggend met reguit en sygladde hare opgestaan.”

5. Gebruik groot rollers

“Gebruik sowat ses groot rollers vir lang hare. Verdeel hare wat met ’n handdoek drooggevryf is in dele so breed soos die rollers, kam dit opwaarts en draai jou hare plat teen die roller,” sê Engelsen. “Steek aan elke kant met ’n knip vas. Plastiekrollers – pleks van Velcro- of skuimrollers – sal ’n gladder effek skep.”

6. Gebruik die regte produkte

Die regte produkte beveg kroeserigheid en maak jou hare lieflik glad.

7. Gebruik die koue verstelling op jou haardroër

“Ek beveel ’n haardroër met koue lug aan. Moenie ’n produk aanwend nie en gebruik ’n kombinasie van ’n borsel en jou vingers om jou hare reguit te maak,” sê Rojas. “Sodra jou hare heeltemal droog is, gebruik ’n natuurlike produk soos klapperolie om die haarkutikels te ontspan en kroeserigheid te keer.”

Hierdie artikel het oorspronklik op Good Housekeeping.UK verskyn.

LEES OOK:

Almal gons oor hierdie nuwe stryktang-tegniek
8 geldbesparende skoonheidswenke wat jy moet probeer
Die nuutste gier: omgekeerde harewas

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
3 topwenke vir lieflike lokke

Volg hierdie beproefde en getoetste truuks en tendense vir jou mooiste, gesondste lokke tot nog toe

Close