×
Skakel na Engels

7 dinge wat vuiler as die toiletsitplek is

Hoewel ’n paar kieme nie veel skade sal aanrig nie, kruip daar ’n ontstellende hoeveelheid bakterieë en kieme weg waar jy dit die minste verwag. As jy dink ’n toiletsitplek is die ergste, is jy verkeerd
kieme

Jy het nog altyd gedink ’n toiletsitplek is waarskynlik die vuilste ding in jou daaglikse lewe. Ons is jammer om die nuus te breek, maar jy het verkeerd gedink. Hierdie artikels en oppervlakke kan verbasend onhigiënies wees:

1. Handsak

Waar was dit oral – op die vloer van ’n openbare toilet of bus? Het jy dit toe op jou lessenaar of op jou werktafel neergesit? Só versprei jy ’n paar baie slegte kieme.

Gee kieme ’n kishou

1. Hang jou handsak aan die haak in openbare toilette

2. Hou dit op jou skoot op openbare vervoer

3. Vee dit gereeld met weggooi-ontsmetlappies af

Lees: Hoe skoon is jou handsak?

2. Tandeborsel

Die meeste van ons se tandeborsel is net ’n entjie van die toilet af. Met elke spoel skiet mikro-organismes die lug in in ’n spatradius van 90 cm tot 1,8 m. Navorsers aan die Universiteit van Manchester in Brittanje het bevind tandeborsels bevat tot 10 miljoen kieme – waaronder stafilokokkusse, streptokokkus en E. coli – wat die bloedstroom kan binnedring.

Gee kieme ’n kishou

1. Moet dit nie by die wasbak hou nie; bêre dit in ’n kas

2. Vervang elke drie maande jou tandeborsel of tandeborselkop

3. Moenie tandeborsels deel nie

3. Winkeltrollie

Navorsers aan die Universiteit van Arizona in die VSA het bevind handvatsels is oortrek met bakterieë, spoeg en selfs ontlastingstowwe. Die helfte van alle herbruikbare winkelsakke was ook besmet.

Gee kieme ’n kishou

1. Maak handvatsels met antibakteriese weggooilappies skoon

2. Was jou hande of gebruik ’n ontsmetjel met ’n alkoholbasis ná jou inkopies

Lees: Die vuilste ding in jou huis is in jou badkamer

4. Kitsbanke

Wanneer ons ons geheime kode intik, kry ons meer as net kontant. Navorsing in die VSA toon dat kitsbanke so vuil soos openbare toilette is: Party is draers van Bacillus cereus, ’n bakterie wat ’n soort voedselvergiftiging kan veroorsaak. Wat die geld betref: Britse wetenskaplikes het bevind ’n £10-noot kan tot 135 000 bakterieë bevat.

Gee kieme ’n kishou

1. Maak jou hande met ontsmetjel skoon.

5. Gimtoerusting

Metisillienweerstandige Staphylococcus aureus (MWSA) is ’n superkiem wat tot ’n maand op oppervlakke kan oorleef – en in studies in die VSA is bevind dit sluip op gimtoerusting rond. Die sweterige omgewing is die ideale plek vir kieme om uit te broei, gereed om na die volgende gimgebruiker oorgedra te word. Terwyl jy jou liggaam versterk, beskerm dit ook teen dié baie wesenlike risiko.

Gee kieme ’n kishou

1. Gebruik ’n handontsmetmiddel met ’n alkoholbasis om jou hande ná gim skoon te maak

2. Gebruik weggooi-ontsmetlappies vir handvatsels of gewigte, eerder as ’n handdoek

Lees: Hou jou elektronika kiemvry 

6. Tv se afstandbeheerder 

Dit is een van die vuilste artikels in die meeste huise en kan draers van MWSA en ernstige akute asemhalingsindroom (EAAS) wees. TV-afstandbeheerders in hotelle is die smerigste.

Gee kieme ’n kishou

1. Maak afstandbeheerders met weggooi-ontsmetlappies skoon

2. Moedig jou gesin aan om hul hande te was elke keer nadat hulle die toilet gebruik het

7. Selfoon

Een uit tien van ons vat ons selfoon of tablet toilet toe. Toe navorsers aan die London School of Hygiene & Tropical Medicine in Brittanje sowat 400 selfone nagegaan het, het byna elkeen bakterieë bevat.

Gee kieme ’n kishou

1. Maak toestelle gereeld met weggooi-ontsmetlappies skoon

2. Moenie jou foon saam badkamer toe neem nie!

FOTO: iStock/Kwanchai_Khammuean

LEES OOK:

5 wenke om jou selfoondata beter te beheer

5 huisskoonmaakfoute

5 noodsaaklike huishoudelike skoonmaakprodukte

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief