×
Skakel na Engels

6 natuurlike maniere om van ’n olierige vel ontslae te raak

Vir wanneer jy nie kladpapier of ’n poeierkwas byderhand het nie.​​

 

Die res van jou vel kan so droog soos die Sahara-woestyn wees, maar wanneer dit by jou T-strook kom, is jou vel altyd olierig. En hoewel dit gaaf sou wees om altyd jou hele grimeersakkie tot jou beskikking te hê, is die werklikheid dat daar soms nie ’n kladpapiertjie of poeierkwas naby is nie. Daar is egter ’n paar goed wat jy kan doen om die olierigheid op te suig en die glans vinnig te verwyder.

 1. Ys

Ooraktiewe vetkliere? Hou ys (net so of in ’n snesie of moeselien toegedraai) op gekonsentreerde dele van jou T-strook vir 30 sekondes op ’n keer. Dit krimp porieë, wat die vel nie net gladder en helderder laat lyk nie, maar ook olierigheid verminder en vuiligheid help uithou.

2. Klad dit

Dit kan dalk vreemd klink, maar die gratis toiletsitplekbedekkers wat jy in openbare toilette kry, werk fantasties as kladpapier. Die papier het die perfekte tekstuur om ongewenste olie op te suig.

Lees ook: 5 goed wat jou vel olierig maak

3. Komkommer

Komkommer is ’n fantastiese natuurlike verfrisser. Wanneer jy dus middagete by die slaaitoonbank kry, neem ’n paar ekstra skyfies. Vryf dit op jou gesig sodat die sap jou afkoel. Los dit aan vir so lank as wat jy wil. Dis selfs oukei om dit op jou onderlaag te plaas.

4. Sout

Moet dit nie ’n daaglikse gewoonte maak nie (dit kan jou vel uitdroog), maar jy kan jou vel poets en olie absorbeer deur ’n gladde pasta van sout en water te maak en dit aan jou T-strook aan te wend. Los dit net vir ’n paar minute aan, was dit met louwarm water af, en voilà. Olievry!

5. Servette

Nog ’n verskoning om jou duur koffieverslawing te finansier: Soos kladpapier werk herwinde bruin servette van koffiewinkels goed om olierigheid te absorbeer. Hou dit dus in jou handsak aan!

Lees ook: 5 stappe na ’n mooier vel

6. Alkohol

Ontsmettingsalkohol (rubbing alcohol) is ’n natuurlike saamtrekmiddel en absorbeer dus vuiligheid en olie. Net soos met die soutpasta moet jy dit nie daagliks doen nie, maar as jy ’n klein bietjie op ’n wattetjie giet en dit oor blink dele vryf, kan dit per geleentheid as verfrisser gebruik word.

Van: Good Housekeeping UK

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 nie-noodsaaklike grimeersakkieprodukte

Jy hoef nie elke grimeerproduk onder die son te besit nie. ’n Grimeerkenner vertel ons wat sy nié gebruik nie

Close