×
Skakel na Engels

6 mites oor jou vagina

Hoe is jy eintlik veronderstel om jou vagina skoon te hou? Kan dit rek? Ons het al die antwoorde! Deur Karen Gordon
vagina

As jy ʼn vagina het, is daar moontlik dinge wat jy te bang is om te vra of eenvoudig nog nooit in ʼn gesprek opgehaal het nie. Baie vroue het nie eens die moed om met hul dokter oor hul “vrouedele” te praat nie – wat beteken dat baie belangrike vrae onbeantwoord bly.

Dr. Karen Morton, ‘n konsulterende verloskundige en ginekoloog van Engeland, gee hier uitsluitsel oor wat normaal (en abnormaal) aan dáái deel is.

1. Jou vagina moet na niks ruik nie

Elke vagina het ʼn effense reuk, maar dit behoort nie sterk of onaangenaam te wees nie, verduidelik Karen. “Geur is ongelooflik belangrik in evolusie. Vaginale afskeidings bevat feromone, chemiese seine en reuke wat ʼn ander individu se gedrag beïnvloed. Reuk is een van die dinge wat ʼn ma en ‘n baba aan mekaar verbind en vaginale reuke is ook ʼn wyse waarop ons maat seksueel na ons aangetrek word.”

Maar ʼn sterk reuk kan daarop dui dat iets nie pluis is nie. Bakteriële vaginose (BV) kan ʼn visserige reuk hê en deur ʼn groen, slymagtige afskeiding en brandsensasie vergesel word. As dit bekend klink, moet jy jou dokter daarna laat kyk.

2. Gereelde seks kan jou vagina laat rek

Ontspan, gereelde seks sal nie jou vagina rek nie. “Daar sal aanvanklik ʼn mate van rekking plaasvind wanneer jy begin om seksueel aktief te wees,” verduidelik Karen. “Maar die vagina is ʼn besonder elastiese orgaan; hoe anders sou dit ná ‘n bevalling weer sy normale vorm en grootte kon aanneem?”

3. Jou skaamlippe moet op ʼn sekere manier lyk

Daar is nie twee vroue wie se skaamlippe presies dieselfde lyk nie. “Net soos ore en neuse in ʼn verskeidenheid vorms en groottes kom, is daar nie iets soos identiese skaamlippe nie,” sê Karen.

“Al hoe meer vroue wil plastiese chirurgie aan hul skaamlippe laat doen om die skaamlippe te verklein omdat hulle ontevrede is met wat hulle as vergrote eksterne geslagsdele beskou. Aangesien baie vroue al hul skaamhare verwyder, is hulle meer besorg oor hoe hul skaamlippe lyk. Die labia minora (die “voue” aan weerskante van die vagina) is meer sigbaar sonder hare en kan meer prominent voorkom. Dit kan ook meer geïrriteerd wees as gevolg van al die geskeer en gewaks wat daar plaasvind.”

“Dit gebeur wel soms dat daar ʼn baie merkbare asimmetrie is in hoe hulle lyk en dat hulle ongewoon groot is, maar dit is baie selde die geval. Ek gee altyd my eerlike opinie, en in die meeste gevalle is vroue se skaamlippe heeltemal normaal.”

4. Uitspoeling (douching) is die enigste manier om jou vagina skoon te hou

Om jou vagina met water uit te spoel klink dalk na ’n verstandige manier om dit skoon te maak, maar in werklikheid is die teenoorgestelde waar en word dit glad nie aanbeveel nie.

“Jou vagina is ʼn ekosisteem, nes jou mond of jou neus, waar ʼn gesonde hoeveelheid ‘goeie’ bakterieë leef. Wanneer jy dit uitspoel, spoel jy hierdie natuurlike organismes uit wat die vagina teen infeksie of irritasie beskerm. Uitspoeling kan ʼn oorgroei van skadelike bakterieë of ʼn oorgroei van gis, meer bekend as sproei, veroorsaak. Was slegs die buitenste vel en die skaamlippe met water, en bly weg van die binnekant van die vagina, wat in werklikheid selfreinigend is.”

5. Urinêre inkontinensie kom slegs ná ʼn bevalling voor

Dis nie net vroue wat reeds kinders gehad het wat deur urinêre inkontinensie geaffekteer word nie. Trouens, baie vroue beleef op ‘n gereelde basis ʼn klein hoeveelheid urienlekkasie, waarvan ʼn ouerwordende generasie en stygende vlakke van vetsug twee van die grootste risikofaktore is. Urinêre inkontinensie is egter meer algemeen ná swangerskap en ʼn normale geboorte.

“Vroue behoort oor die algemeen en veral gedurende en ná swangerskap baie meer aandag aan hul bekkenvloer te gee. Baie vroue spandeer ure in die gim, maar ons kyk nie na ons bekkenvloer nie. Jy kan jou blaasfunksie verbeter deur dit te oefen, die ‘knypers’ te versterk en die bekkenvloer ferm te hou. Probeer om hierdie oefeninge gedurende die dag te inkorporeer deur van ʼn sneller, soos lopende water, gebruik te maak. Doen jou bekkenoefeninge elke keer wanneer jy voor die wasbak staan, of jy nou tande borsel of hande was.”

6. ’n Vaginale afskeiding is ’n teken dat daar fout is

’n Vaginale afskeiding is iets wat almal van ons ervaar, sommige vroue meer as ander. “Vaginale afskeidings is heeltemal normaal,” sê Karen. “As ʼn vrou nie op die pil is nie en van vrugbare ouderdom is, is daar eintlik baie min dae in ʼn normale menstruele siklus wanneer sy glad nie ʼn afskeiding sal hê nie.”

Daar is gevalle wanneer jou afskeiding wel ʼn aanduiding kan wees dat daar fisiek iets fout is. As die afskeiding ʼn sterk reuk het, ʼn ander kleur is, bloederig is of ʼn ongewone tekstuur het, gaan sien jou huisdokter.

Bron: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/brookebecker

LEES OOK

Moenie bang wees om hierdie ses dinge met jou ginekoloog te bespreek nie

7 goed wat jou bikiniwaks-terapeut wil hê jy moet ophou doen 

Antwoorde op jou lastigste vrae oor maandstondes 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Maandstonde-verlof kan dalk ’n werklikheid word

Italianers baan dalk die weg vir die res van die wêreld ...

Close