×
Skakel na Engels

6 maniere om vlugvoosheid vinnig af te skud

Moenie toelaat dat vlugvoosheid jou vakansiepret bederf nie. Deur Sophie Hines
maniere om vlugvoosheid vinnig af te skud

Daar is nie baie nadele aan oorsese vakansies nie, maar vlugvoosheid is beslis een daarvan. Jy het pas by jou bestemming aangekom en kan skielik nie jou oë oophou nie – vyf uur later skrik jy in jou hotelkamer wakker en sien dat dit reeds vroegaand is.

Om oor tydsones te reis kan jou biologiese klok disoriënteer en jou energievlakke verlaag. Alhoewel die verandering in tyd onafwendbaar is, is daar ’n paar eenvoudige stappe wat jy kan volg om vinnig van vlugvoosheid ontslae te raak …

1. Verander jou slaappatroon ’n paar dae voor jou vertrek 

Vlugvoosheid word deur die verwarring tussen jou biologiese klok en die plaaslike tyd veroorsaak wanneer jy binne ’n kort tydjie tussen twee of meer tydsones reis. Troef jou vlugvoosheid deur jou biologiese klok op die verandering voor te berei.

2. Probeer die aand voor jou vlug goed slaap

Stres kan jou maklik uit die slaap hou voordat jy vlieg, veral as jy ’n vroeë vlug moet haal. ’n Goeie nag se slaap die dag voor jou vertrek kan vlugvoosheid help voorkom; probeer jou angstigheid dus tot die minimum beperk.

Gun jouself genoeg tyd om in te pak sodat jy nie op die laaste nippertjie moet rondskarrel of nie kan afskakel nie. ’n Bietjie ligte oefeninge is bevorderlik vir ’n goeie nagrus, kan angstigheid verlig en help om vlugvoosheid te klop.

3. Bring baie tyd in daglig deur

Jy is biologies geprogrammeer om wakkerder in daglig te voel. Gebruik dit tot jou voordeel en gaan uit in plaas daarvan om in jou hotel- of slaapkamer weg te kruip. Dit sal ’n positiewe uitwerking op jou biologiese klok hê.

Lees ook:  Vliegtuigetiket 101

4. Sorg dat jy ’n vlugplan het

Stel jou horlosie met die intrapslag dadelik na jou bestemming se tyd om jou brein op die verandering voor te berei en later se vlugvoosheid teë te werk. As jy in die middag of aand land, moet jy probeer om nie op die vliegtuig te slaap nie sodat jy met jou aankoms reg is vir die plaaslike slaaptyd.

Beperk kafeïen en alkohol tydens die vlug, loop ’n bietjie rond en strek. Land julle in die oggend? In daardie geval is waterdrink en slaap die beste kuur vir vlugvoosheid. Bewapen jouself met oorpluisies, ’n oogmasker, gemaklike klere, ’n kombers en hou ’n bottel water byderhand. Jy sal meer energie hê wanneer jy arriveer, en dus vinniger herstel.

5. Pas by jou nuwe tyd aan

Skakel onmiddellik by die plaaslike tyd in – gaan buitentoe as dit dag is en eet, werk, kuier en gaan slaap op die plaaslike tyd. Alhoewel jy in die versoeking sal wees om by jou gewone roetine te hou (en jou liggaam daarvoor gaan vra), moet jy teen die prikkels skop – jy sal vinniger beter voel as wat jy verwag het.

Daar is nie ’n eenvoudige kuur vir vlugvoosheid nie. Maar as jy jouself in jou nuwe tydsone geniet in plaas daarvan om oor verlore slaap te stres, sal jou interne klok vinniger aanpas. Maak dus die meeste van jou vakansie – rus, ontspan en skakel af.

6. Doen ’n bietjie oefening

Ons sê nie dat jy gim toe moet jaag sodra jy jou vakansiebestemming bereik nie, maar selfs ’n ligte stappie sal deug. Oefening help die liggaam om kalmerende stowwe in die bloed te genereer en lei tot ’n dieper slaap sodat jy uitgerus opstaan. Moet egter nie net voor slaaptyd oefen nie aangesien dit moeiliker is om aan die slaap te raak wanneer jy nie heeltemal ontspanne is nie.

Uit: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/Choreograph

LEES OOK:

Tien maniere om rugpyn te keer wanneer jy reis

Hoe om by jou oefenroetine te hou

Bly só gemotiveerd vir oefening in die vakansie

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief