×
Skakel na Engels

6 maniere om te sosialiseer sonder om jou dieet te saboteer

Ja, jy kan partytjies bywoon en uiteet sonder om jou gewigsverliesdoelwitte in die wiele te ry

Asof dit nie moeilik genoeg is om ’n gesonde lewenstyl in die winter te handhaaf wanneer ons motivering dikwels laer as die temperatuur buite is nie, kan dit jou somerlyfplan heeltemal onbereikbaar laat voel as jy gereeld werk- en ander sosiale byeenkomste moet bywoon.

Jy kan seker “nee” sê vir al die uiteet en aandete-uitnodigings, maar wat as jy ’n ekstrovert is wat ’n groter behoefte aan sosialisering het as aan sjokolade? Of as jy die sosialemediaverteenwoordiger vir ’n kosverwante maatskappy is? Of as jy bloot gewild is (niemand oordeel jou nie!) en sleg voel om uitnodigings van vriende en familie van die hand te wys?

Die goeie nuus is dat jy nie tussen jou sosiale lewe en gesondheid hoef te kies nie. En nee, jy hoef ook nie jou handsak vol wortelrepies en seldery te prop nie!

 

1. BESKOU ENIGE AANDGELEENTHEID AS AANDETE.

Moenie ’n skemerpartytjie of buffet as voorgereg beskou nie, sê Wansink, wat ook Slim by Design: Mindless eating solutions for everyday life (William Morrow) geskryf het. Sy navorsing toon mense wat beplan om later aandete ook te eet, eet dalk minder by die voorafgeleentheid, maar neem in totaal meer kilojoules in.

2. PEUSEL AAN PROTEÏEN.

Eet ’n proteïenryke happie voordat jy uitgaan – dit sal jou langer vol hou. Om nie rasend honger op te daag nie sal jou boonop help om beter koskeuses te doen, sê die dieetkundige Jaclyn London. Probeer 150 ml Griekse jogurt met ’n peer of twee snye kaas met seldery.

3. OEFEN VOORAF.

Ruim tyd vir ’n 10-minute-oefensessie in voordat jy begin stort en klaarmaak. Navorsing toon dat intense oefening jou aptyt een tot twee uur lank kan onderdruk, sê die fiksheidswetenskaplike Jessica Matthews.

4. JY’S NIE NET DAAR VIR DIE KOS NIE.

Ja, ons raak almal opgewonde oor deegworsies, maar daar is ook nie-kosverwante vermaak – dis tog ’n partytjie! Gaan ’n weddenskap met jou maat aan om te kyk wie die verspotste staaltjie kan kry, die meeste selfies saam met familie kan neem of eerste gaste op die dansvloer kan kry.

5. STADIG MET DIE APTYTWEKKERS.

Dié strategie kan jou help om 10% minder kilojoules in te neem. Dis so maklik om onbewustelik ’n vrag versnaperinge te eet nog voordat jy vir aandete aansit.

6. HOU JOU HANDE BESIG.

Hou heeltyd iets in albei hande vas, soos ’n drankie en jou handsak, sê London. Dié truuk sal help keer dat jy doelloos happies van snoepborde af oppik.

LEES OOK

10 stappe om jou suikerverslawing te verbreek
4 dinge om vanaand voor slaaptyd te doen om môre gewig te verloor
Die smulpaap se manier om gewig te verloor

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Dr. Oz se 5 top-verslankingswenke

Kry die dokter se goeie raad oor hoe om gewig te verloor en gesond te bly

Close