×
Skakel na Engels

6 maniere om jou kinders van gendergelykheid te leer

Dis tyd om te besin oor hoe gender by die huis uitgebeeld word!
geslagsgelykheid

Of jy nou dogters, seuns of albei het, deur hulle van gender te leer kan jy ’n groot verskil maak aan jou kinders se oortuigings aangaande wie hulle is en wat hulle kan word. Hier is ’n paar wenke oor wat jy kan doen om te sorg dat jou kinders ’n gesonde gesindheid teenoor gender ontwikkel.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

1. Weerspreek die “mikroboodskappe” wat jou kind ontvang

Jou kind word van dag een af deur ’n netwerk van stereotipering omring – van daardie eerste “pienk vir ’n dogtertjie, blou vir ’n seuntjie”-babageskenke af. Vanselfsprekend is hulle in daardie stadium te klein om enige iets in te neem, maar dit gaan nie lank duur nie.

Navorsing toon dat kinders vanaf ’n jong ouderdom allerhande idees oor gender kan absorbeer, en daarvolgens prentjies skep oor hoe seuntjies en dogtertjies behoort te wees – van hulle eienskappe en die manier waarop hulle moet aantrek tot die speelgoed waarmee hulle “veronderstel” is om te speel en die loopbane wat hulle later behoort te volg.

Een Amerikaanse studie van 2017 het byvoorbeeld getoon dat dogtertjies van slegs ses meer geneig was om te aanvaar dat storieboekkarakters wat as “briljant” beskryf word, manlik was. Let dus daarop dat die som van al hierdie klein dingetjies – die “mikroboodskappe” – uiteindelik ’n sterk boodskap oordra, en maak ’n punt daarvan om dit te weerspreek waar nodig. As jy byvoorbeeld opmerk dat al die superhelde in die boeke wat jou kind onlangs gelees het manlik is, kan jy dalk ’n paar boeke met vroulike superhelde aanskaf.

2. Kyk uit na geslagsneutrale kleredrag en speelgoed

Moedig jou kind aan om oopkop te wees oor die klere en speelgoed wat op hulle geslag gerig is en let op wat jy vir hulle koop. Daar is geen rede waarom dogtertjies moet pienk dra en popspeel nie, of waarom seuns aangemoedig moet word om meer van blou te hou en met byvoorbeeld konstruksiespeelgoed moet speel nie.

Daar is vandag baie geslagsneutrale klere-opsies, aanlyn sowel as in winkels. Maar moenie te bekommerd wees as jou kind van nature tot genderspesifieke speelgoed of klere neig – maak net seker dat jy hulle ’n keuse gee.

3. Werk daaraan om positiewe rolmodelle by die huis te wees

As julle ’n twee-ouer-gesin is, wil julle die huistake waarskynlik volgens mekaar se sterk punte indeel. Ma en Pa se verantwoordelikhede word dikwels deur hulle werksverpligtinge bepaal, maar ideaal gesproke behoort take nie volgens die tradisionele “Pa maak dinge reg, Ma maak kos”-kategorieë ingedeel te word nie. Dit is raadsaam om te sorg dat kinders in die huis help en nie-stereotipiese vaardighede aanleer. Albei geslagte sal byvoorbeeld later in hulle lewe dankbaar wees dat hulle ’n knoop kan vaswerk en ’n gloeilamp kan vervang.

Lees ook: Leer só om transgender kinders beter te verstaan

4. Let op hoe jy jou kind se gedrag en karakter beskryf

Dit is baie maklik om tradisionele byvoeglike naamwoorde soos “mooi” en “oulik” vir dogtertjies en “sterk” vir seuntjies te gebruik, maar dit gee kinders weer eens idees oor waar hulle eiewaarde lê en watter eienskappe hulle behoort te hê. Sorg eerder dat jy nie net op eienskappe fokus wat as spesifiek van toepassing op meisies of seuns beskou word nie – komplimenteer jou dogter byvoorbeeld omdat sy sterk sowel as liefdevol is.

5. Vergoed vir outydse idees

Ongelukkig is dit onvermydelik dat jou kind steeds genderstereotipering sal ervaar. Dit kan uit ’n ou rolprent of storieboek kom, of via familie en vriende wat dalk nie besef dat hulle uitgediende idees verkondig nie. Die belangrike ding is dat jy die idees neutraliseer wat jou kinders elders teëkom. Aanvaar egter dat jy nie alles kan beheer wat hulle hoor en sien nie.

6. Help hulle vriendelik reg

As jou kind iets seksisties of stereotipies sê, behoort jy hom vriendelik reg te help en te verduidelik waarom sy aanname verkeerd is. Gebruik voorbeelde waar nodig. As hy byvoorbeeld sê: “Mammas bly altyd by die huis by die kinders terwyl pappas gaan werk,” kan jy na ’n gesin verwys waar die teenoorgestelde gebeur of waar dieselfde rolle gedeel word.

Liat Hughes Joshi se nuwe boek, 5-Minute Parenting Fixes: Quick tips and advice for the everyday challenges of raising children (R208), is propvol wenke en raad oor hoe om die alledaagse uitdagings van ouerskap aan te pak.

Van: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/Geber86

LEES OOK:

My oorgangsverhaal – Luke (13): “My oorgang van ’n meisie na ’n seun was bevrydend”

Wat jy van jou familie se mediese geskiedenis moet weet

Gesinsgeregte met net 5 (of minder) bestanddele

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief