×
Skakel na Engels

6 maniere om aambeie te voorkom

Meer as 80% van ons sal iewers in ons lewe aambeie ontwikkel. Só kan jy daardie risiko verlaag.
aambeie

Aambeie is geswelde bloedvate in en om die laer gedeelte van die anus en rektum. Wanneer dié are gerek word of druk ervaar, kan dit baie geïrriteerd raak en swelling, slym, bloeding en ongemak veroorsaak.

Die verleentheid waarmee dié toestand geassosieer word, maak dat dit selde openlik bespreek word, maar in werklikheid is aambeie baie algemeen – na skatting sal meer as 80% van ons op een of ander tydstip daaraan ly. Mnr. Amyn Haji – konsulterende kolorektale chirurg by die Whiteley-kliniek – deel sy raad oor maklike maniere om aambeie te voorkom.

1. Drink baie water

“Een van die eenvoudigste maniere om aambeie te voorkom is om gehidreer te bly. Deur baie water te drink, kan jy hardlywigheid voorkom, met die gevolg dat daar minder spanning en druk op die anale bloedvate sal wees wanneer jy die toilet gebruik. Ek beveel altyd aan dat my pasiënte minstens ses tot agt glase water ’n dag drink om gesonde opelyf te handhaaf.”

2. Handhaaf ʼn gesonde gewig

“Oorgewig is ’n algemene oorsaak van aambeie as gevolg van die ekstra druk wat dit op die rektale spiere plaas. Diegene wat dus ’n paar ekstra kilo’s saamdra, se beste verweer teen dié toestand is om ’n gesonde liggaamsgewig met behulp van ’n beter dieet en fisieke aktiwiteit te bereik.”

3. Oefening

“Gereelde oefening is belangrik want dit help om dermbeweging te stimuleer en hardlywigheid te voorkom. Mense met ’n sittende werk of leefstyl behoort so aktief moontlik te wees deur elke halfuur op te taan en ’n draai te loop (dalk sommer ’n glas water gaan drink), of deur gereelde aktiwiteite by hulle weeklikse program in te sluit, soos joga of swem. Wanneer jy sit, is daar meer druk op die area in jou laer rektum. Om aktief te wees sal help om hierdie druk te verlig en te voorkom dat aambeie opvlam.

“Pasiënte moet egter in gedagte hou dat nie alle soorte oefening voordelig is nie. Intense oefeninge en aktiwiteite wat abdominale druk of inspanning verhoog, soos gewigoptel, kan die vorming van aambeie bevorder.”

4. Eet meer vesel

” ’n Hoëveseldieet is nog ’n manier om aambeie te voorkom en te behandel. Deur ’n verskeidenheid vrugte, neute, volgrane, peulvrugte en groente in jou winkeltrollie te laai, sal jy jou spysverteringstelsel gelukkig hou, wat tot gesonde en welgevormde stoelgange lei. Dit sal die risiko vir die ontwikkeling van aambeie verlaag aangesien jou opelyf minder inspanning sal verg.”

5. Vermy kitskos en alkohol

“Dit maak net sin dat vetterige, verwerkte kosse ’n gevaar kan inhou as jy tot aambeie geneig is. Hierdie kosse bevat baie min voedingstowwe en vesel, en indien jy jou gereeld daaraan vergryp, kan dit tot swak spysvertering en hardlywigheid lei.

“Alkohol behoort ook vermy te word. Dit versteur nie net die verteringsbalans in jou ingewande nie, maar is ook dehidrerend, wat tot hardlywigheid en ’n moeisame opelyf kan lei. Voorkom probleme deur jou alkoholinname te beperk.”

6. Laat dit in vrede

“Aambeie is nie altyd ewe ernstig nie en in sommige gevalle sal dit binne ’n paar dae vanself verdwyn, mits jy ʼn paar eenvoudige stappe volg om herstel te bevorder. Voorkom dat jou toestand vererger deur baie water te drink en vir ’n oor-die-toonbankmedikasie te vra – daar is ’n verskeidenheid salwe, rome en jels beskikbaar.”

Om enige ongemak te verlig, kan jy van die volgende probeer:

Probeer om nie te druk wanneer jy op die toilet is nie
Gebruik klam toiletpapier of babalappies in plaas van droë paper
Klad die area skoon in plaas daarvan om dit af te vee

Moontlike behandelings

“Alhoewel baie aambeie vanself sal opklaar, is daar gevalle waar verdere behandeling vereis word.

“Tradisionele behandelingsopsies vir aambeilyers is nie baie aangenaam nie. Een van die mees algemene prosedures ’n ‘hemoroïdektomie’, wat onder algemene narkose uitgevoer word en behels dat die chirurg die aambei uitsny en enige ekstra weefsel verwyder. Hierdie behandeling is baie pynlik en na afloop van die prosedure sal die pasiënt ongemak ervaar. Herstel duur gewoonlik tussen een en twee weke.

Uit: Good Housekeeping UK

Foto: iStock/htomas

Lees ook:

9 gesondheidsprobleme wat jou man nie moet ignoreer nie

9 goed wat jou stoelgang oor jou gesondheid onthul

8 redes hoekom jy altyd toilet toe moet gaan

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
“Ek het maandstondebroekies gebruik en die resultaat het my werklik verbaas”

Die GH-skrywer Helen Walace het maandstondebroekies op die proef gestel, en dís wat sy daaroor te sê het

Close