×
Skakel na Engels

6 geregte met ’n verrassende oorsprong

Het jy al ooit gewonder waar jou gunsteling-kos vandaan kom? Jy gaan dalk verstom staan! Lees verder vir ’n paar interessante feite
geregte met ’n verrassende oorsprong

1. Fortuinkoekies

Ons het nog altyd gedink dat hierdie delikate klein koekies met hul verspotte boodskappies binne-in uit China kom. Die Weste glo dat hulle van China af kom, terwyl die Chinese aanvaar dat hulle van die VSA afkomstig is. Albei is verkeerd, want die koekies is in die laat 18de eeu deur die Japannese na Kalifornië gebring.

2. Hoender tikka masala

Ons was nog altyd onder die indruk dat hierdie geurige dis uit Indië kom. Maar hoender tikka masala is vir die eerste keer in Groot Brittanje gemaak – in Glasgow, Skotland, om spesifiek te wees! Die verhaal van die gereg se oorsprong is ’n bietjie vaag.

Daar word gesê dat dit per ongeluk ontstaan het toe ’n kliënt in ’n Indiese restaurant gekla het dat sy hoender te droog was. Die sjef het vinnig ’n sous van joghurt en speserye aanmekaargeslaan. Al is ons nog nie 100% seker of dit die waarheid is nie, kan ons met sekerheid sê dat hoender tikka masala beslis nié van Indië af kom nie. 

3. Croissants

Wat is meer Frans as ’n croissant? Wel, blykbaar ‘n klomp ander dinge, maar nie croissants nie! Alhoewel hierdie botterige, bros gebak deur die Franse aangepas is, het die croissant soos ons dit ken uit ’n Oostenrykse sekelvormige suurdeegrolletjie ontstaan. Hierdie lekkerny is na Frankryk toe gebring waar dit effens gewysig is en heel gepas die “croissant”, wat “halfmaan” beteken, genoem is. 

4. Franse roosterbrood

Nog ’n gereg met ‘n verrassende oorsprong is weer eens ’n Franse (wel, blykbaar nié Franse nie) lekkerny – Franse roosterbrood. Die resep waarvolgens ou brood in ’n eier-en-melkmengsel gedoop word, is in die Apicius, ’n Latynse versameling resepte in 4de-eeuse Rome, ontdek.

Die gereg het gedurende die Middeleeue in Europa bekendheid verwerf. In die Engelse hof het hierdie gereg gedurende die 15de eeu as pain perdu (Frans vir “verlore brood”) bekend gestaan, en gewild geraak. 

Lees ook: Spek-en-broodgebak

5. Roomys

Daar word algemeen aanvaar dat hierdie romerige lekkerny uit Italië kom, maar roomys dateer uit die verre verlede toe die Chinese in 200 v.C. melk en ryswater gemeng het. Hierdie mengsel is in potte gegooi en gevries deur die potte met sneeu en salpeter te bedek. Volgens legende het Alexander die Grote sy eie weergawe van roomys geniet – sneeu gemeng met heuning!

6. Caesarslaai

Nou toe nou, Caesarslaai is nie na die Romeinse leier genoem nie! Dié slaai is in werklikheid vir die eerste keer in Mexiko deur ’n Italiaanse immigrant, Caeser Cardini, gemaak. Hy het eenvoudig oorskietbestanddele gebruik om ’n slaai aanmekaar te slaan wat ons vandag as ’n Caesarslaai ken. 

FOTO: iStock/GMVozd

LEES OOK: 

Nutella: 11 feite wat jy nie geweet het nie

6 algemene mites oor die vries van kos

5 van die beste roomyswinkels in Kaapstad

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief