×
Skakel na Engels

6 boeke wat jy hierdie maand moet lees

Vir jou boekrak
boeke

1. Hans steek die Rubicon oor deur Rudie van Rensburg

Loslit-humor oor kanniedoodbejaardes wat nie nonsens duld nie. Die 90-jarige Hans se kinders (hy noem hulle die “Verenigde Nasies”, want almal woon oorsee) probeer hom oortuig dis ’n goeie idee om in Huis Madeliefie te gaan woon, want dis so veilig vir “oumensies” en daar is allerlei aktiwiteite om hom besig te hou. Hy probeer alles om hom daaruit te wriemel en weer sy eie blyplek te kry, maar tevergeefs.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

In die proses ontmoet hy ’n paar bedenklike karakters wat sy lewe in gevaar stel. Dan begin hy met die hulp van ’n paar medeinwoners ’n revolusie teen die drakoniese matrone se belaglike reëls. Soms is die humor nogal stout, maar dis ’n hoogs vermaaklike verhaal wat jou kliphard sal laat skater. Hans steek die Rubicon oor deur Rudie van Rensburg (R226, Exclusive Books)

2. Vroue van Atlantis saamgestel deur Anastasia de Vries en Eldridge Jason

Die stem van 12 vroue word op papier verewig in hierdie inspirerende verhale. Hulle het in beproewende omstandighede kragtige pilare onder ’n wankelende samelewing opgerig. Dis stories van “hoop en geloof en daadkrag”. (R168, Loot.co.za

3. Spertyd deur Elsa Joubert

Dié boek is die voltooiing van die outobiografiese drieluik van een van ons mees gevierde skrywers. Dis ingelui deur ’n Wonderlike wêreld (2005) en Reisiger (2009). Spertyd fokus hoofsaaklik op haar later jare. Joubert is veral bekend vir Die swerfjare van Poppie Nongena en Die reise van Isobelle, waarvoor sy met die Hertzogprys bekroon is. (R253, Exclusive Books

4. Terreur in Kaboel deur Hannelie Groenewald

Ná 11 jaar in Afganistan, waar die Groenewald-gesin geroepe gevoel het om te gaan werk, word Hannelie se man en twee tienerseuns in ’n terreuraanval wreed vermoor. Sy bly alleen agter. Haar openhartige verhaal vertel van ’n lewe in geloof, van God se liefde, genade en die krag van vergifnis. Sy wys dat enige iemand uit die as kan opstaan. (R180, Exclusive Books

5. Blou is nie ’n kleur nie deur Carin Krahtz

Die Vorsters se lewe val sedert die ongeluk drie jaar gelede uitmekaar. Dié roman uit die oogpunt van die 16-jarige Vicky is ’n nugtere kyk na die lewe van ’n gesin wat deur voorstedelike angs en ander bagasie verbrokkel en verswelg word. Krahtz temper die soms somber verhaal met skerp dialoog en humor. (R165, Exclusive Books

6. Soen deur Jan Vermeulen

Peet Rautenbach is die hoofseun van Algoa Hoër. Hy is sy ouers se oogappel en kan volgens hulle nie ’n voet skeefsit nie. Daar word sewe onderskeidings van hom verwag. Maar Peet het ’n donker geheim: sy obsessie met ’n blonde onderwyseres. Dit kan hom sy lewe kos. (R166, Exclusive Books

FOTO: iStock/Eva-Katalin

LEES OOK:

Raak besig in die kombuis met hierdie Banting-boeke

Die ideale boeke om oor ’n naweek te lees

5 boeke wat jy moet hê

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
GH se boek van die maand

Dié maand se beste kopies

Close