×
Skakel na Engels

5 wenke vir ’n organiese tuin

Dis makliker om ’n omgewingsvriendelike tuin te hê as wat jy dink. Dis boonop beter vir jou, die omgewing én jou sak

1. Heilsame grondgehalte


 

Wat jy in die grond sit, sit jy in jou liggaam, of dit nou chemikalieë is wat deur die vel en longe geabsorbeer word of deur die produkte wat ons eet. As jy in die verlede ’n swaar hand gehad het, moet jy die grond se bolaag verwyder en dit aanvul met nuwe organiese grond wat deur ’n kwekery gewaarborg is. As alternatief kan jy ’n ruim hoeveelheid organiese stof by die bestaande grond inwerk. Dit behoort organiese kompos van die kwekery en ’n deklaag soos gekapte blare, fyn grassnysels en selfs gesnipperde papier en saagsels in te sluit.

 

2. Plant wys


 

Kies net gesertifiseerde organiese saad of saailinge. Sommige plante, soos aarbeie en tamaties, word veral deur peste en plae geteister. Jou kwekery sal jou oor geharder variëteite kan inlig. Hou ’n valkoog oor ’n tuin wat nie op gifstowwe staatmaak om plaag- en siektebeheer te bekamp of plante te voed nie. Wees ingelig sodat jy probleme vroegtydig kan diagnoseer. Verwyder vernielsugtige insekte met die hand en snoei aangetaste dele van plante om te voorkom dat ’n plantsiekte verder versprei.

 

 

3. Die regte natlei- en onkruidbeheermaatreëls

Volgens organiese tuinbouriglyne is plante wat net soggens natgelei word minder geneig tot swam- of bakteriese siektes. Jy sal nie chemiese onkruidbeheer kan toepas nie en moet dus voorbereid wees om jou moue op te rol. (Beskou dit as deel van jou oefenroetine.) Afwisselende deklae sal plante klam hou sonder die risiko van oormatige natleiding en dit sal ook onkruid help bestry.

 

 

4. Die pes-polisie


 

Randakkers vol bybehorende plante soos geurige kruie, madeliefies, jakobregops en gousblomme naby jou groentetuin sal help om die nodige insekte soos bye, skoenlappers en liewenheersbesies te lok terwyl dit lastige dierasies sal verdryf. Talle voëlspesies smul ook graag aan peste soos naakslakke, slakke en ruspes. Lok hulle met kos, water en plek om nes te maak. Jou tuinsentrum sal jou ook ’n keuse van omgewingsvriendelike oplossings bied.

 

 

5. Bly ingelig


 

Dis makliker om ’n omgewingsvriendelike tuin te onderhou as jy ’n goeie begrip van al jou keuses het. Ons beveel die volgende boeke (by www.kalahari.com te kry) vir wenke en inspirasie aan of wanneer jy ’n probleem het:

• Jane’s Delicious Garden deur Jane Griffiths (Sunbird Publishers).

• Organic Gardening For Dummies deur Sue Fisher (John Wiley & Sons).

• Organic Gardening deur Geoff Hamilton (Dorling Kindersley).

• Gaan ook na www.lifeisagarden.co.za vir idees en inligting.

 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
3 wenke vir jou grasperk

Die gras hoef nie groener aan jou bure se kant te wees nie! Probeer dié wenke vir jou tuin

Close