×
Skakel na Engels

5 wenke om PET-plastiek te herken en te herwin

Herwin plastiek en help om die aarde vir jou nageslag te bewaar
PET-Plastiek

Met soveel verskillende soorte plastiek beskikbaar kan dit ietwat van ’n uitdaging wees om vas te stel watter plastiek herwin kan word en watter nie. PET-plastiek is die een waarna jy moet uitkyk omdat dit 100% herwinbaar is en ook die plastiek is wat wêreldwyd die meeste herwin word.

Wat is PET-plastiek en hoekom moet ons dit herwin?

PET staan vir poliëtileen-tereftaal en dit word algemeen gebruik om plastiekwaterbottels mee te maak. Dit is ’n deursigtige, sterk en ligte plastiek wat herwin kan word om bruikbare artikels soos kos- en koeldrankverpakking, materiaal en selfs motoronderdele van te maak!

Volgens Cheri Scholtz, uitvoerende hoof van die herwinningsmaatskappy PETCO, is meer as 2 miljard PET-plastiekbottels in 2016 in Suid-Afrika herwin. Die tonnemaat van herwinde plastiekbottels in Suid-Afrika het sedert 2005 met meer as 800% toegeneem. Maar hoe moet ons te werk gaan om plastiekbottels te herwin?

1. Maak PET-plastiek bymekaar

Die meeste van ons gebruik PET-plastiekverpakking sonder dat ons dit eens besef. PET-plastiek word meestal gebruik om waterbottels, koeldrankbottels, kosverpakking en bottels vir produkte vir persoonlike sorg te maak.

2. Ken PET-plastiek uit

Alle plastiekhouers kry ’n herwinningsimbool op wat aandui van watter soort plastiek dit gemaak is. Dié simbole bevat ’n syfer tussen 1 en 7, en dit is ’n aanduiding van watter plastiek jy mee te make het. Kyk uit na simbole met ’n nommer 1, want dit is produkte wat van PET-plastiek vervaardig is en dus herwin kan word.

3. Berei jou plastiek voor

Moenie net al jou plastiek in ’n sak prop nie – spoel en was bottels uit om te keer dat jou rommel ’n klankie kry. Druk die bottels plat om die herwinningsproses makliker te maak. Dis ’n goeie idee om die bottelproppies ook te herwin. 

4. Kry ’n herwinningsdrom

Kry ’n herwinningsdrom om te verseker dat die plastiek nie met jou ander rommel deurmekaar raak nie. Die gerieflikste plek vir ’n herwinningsdrom is waarskynlik in jou kombuis of garage.

5. Neem jou plastiek na die herwinners toe

Wanneer jy al jou PET-plastiek bymekaargemaak het, neem dit na die naaste aflaaipunt or reël dat dit by jou huis opgelaai word. Jou plastiek sal dan gesorteer word, platgedruk word en in plastiekkorrels omskep word waarvan nuwe, herwonne produkte gemaak kan word.

Vir nog inligting oor PET-plastiek en die verskillende aflaaipunte, besoek PETCO.

FOTO: PETCO 

LEES OOK:

Danksy H&M kan jou klere ’n tweede lewe hê

Herwin 101 

Skep ’n ekovriendelike kombuis 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Doen hierdie dinge vandag vir meer woema!

Probeer dié dieetaanpassings vir meer energie

Close