×
Skakel na Engels

5 wenke om ’n huurhuis te versier

Jou man het jou verbied om nóg ’n strooikussing te koop. Moenie dat dit jou pla nie! Daar is hope ander slim, kreatiewe maniere om ’n gehuurde woning jou eie te maak.
huurhuis

Sommmige huiseienaars kan baie streng wees wanneer dit kom by wat jy mag en nie mag verander nie. Enige permanente veranderinge (soos om die mat te verwyder of spykers in die mure te kap) is gewoonlik ontoelaatbaar, maar met ’n bietjie kreatiwiteit kan jy jou gehuurde woning mooi maak én die huiseienaar gelukkig hou. En dit hoef nie duur te wees nie! Jy weet wat jy nié mag doen nie, maar hier is wenke vir wat jy kán doen:

1. Kry los matte

Oukei, jy mag nie daardie retro-volvloermat uithaal nie, maar jy kán dit met die grootste los mat bedek wat jy kan vind. Besoek www.airloom.co.za of www.mrphome.com vir ’n paar wonderlike opsies wat in jou behoeftes sal voorsien én jou sak pas.

2. Verf jou meubels 

Dis gewoonlik nie toelaatbaar om die mure van ’n huurhuis te verf nie, maar jy kán jou meubels verf vir ’n ewe indrukwekkende verandering (en waarskynlik teen ’n fraksie van die prys). Pinterest is jou beste vriend wanneer dit by inspirasie vir selfdoenprojekte kom. Doen ’n soektog vir die frases “diy painted furniture”, “dipped paint furniture” of “spray paint furniture”.

3. Maak dit mooi met huisplante

Ja, jy kán jou persoonlike stempel op ’n gehuurde eiendom afdruk sonder om jou huurkontrak te oortree. Binnenshuise plante is ’n vinnige en maklike manier om enige vertrek op te kikker. Groter plante kan ook gebruik word om onaantreklike mure te verdoesel of die fokus weg van lelike badkamerteëls te lei. Maak seker jy kies die regte groenigheid vir jou ruimte en styl. Lees ons wenke oor hoe om huisplante te laat floreer.

4. Verander die ligte

Met soveel verskillende style lampskerms en gloeilampe kán jy die voorkoms en gevoel van ’n vertrek verander sonder om ’n plaas se prys te betaal – of enige permanente skade aan te rig. Belê in ligtoebehore waarvan jy hou en onthou om die oorspronklikes te hou – jy sal dalk jou nuwe aankope saam met jou wil neem wanneer jy uittrek. Is jy lus vir ’n selfdoenprojek? Maak ’n lampskerm in ’n japtrap.

5. Verfraai die mure

Verf en muurpapier is buite die kwessie wanneer jy ’n gehuurde woonplek se interieur wil opkikker, maar jy kán die mure met vinielkuns laat mooi lyk. Verwyderbare plakkers is nog ’n manier om jou ruimte te versier sonder om skade aan te rig. Een van ons gunsteling-verskaffers van muurdekals en vinielmuurkuns is mywalltattoos.com

Geniet dit om jou gehuurde woonplek jou eie te maak!

FOTO: iStock/KatarzynaBialasiewicz

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om huisplante te laat FLOREER

Maak seker dat jou huisplantee aan die lewe bly

Close