×
Skakel na Engels

5 wenke om dié maand geld te spaar

Ons het dalk aan die begin van elke maand die beste bedoelings om geld te spaar, maar dan kom die alledaagse lewe in die pad en vreet ons spaargeld op

Hier is ’n paar maklike dinge wat jy kan doen om dié maand geld te spaar.

1. Pak ’n kosblik!

’n Mens hou nie altyd tred met hoeveel geld jy op kantoor op kos uitgee nie. Vergeet van wegneemetes en pak ’n kosblik by die huis. Neem eerder jou gunsteling-happies, soos ’n toebroodjie of slaai, werk toe en spaar só ’n hele paar rand. Dink só daaraan: As jy elke dag R30 aan kos bestee, is dit R600 per maand en R7 200 per jaar.

2. Lus vir uiteet? Kies ontbyt

Eerder as om in ’n restaurant vir ’n duur aandete te gaan aansit, geniet ’n klassieke ontbyt en koffie saam met vriende. Jy sal waarskynlik minder geld aan ontbyt bestee as aan enige ander maaltyd. By aandete kan jy gewoonlik drankies byreken en voordat jy jou oë uitvee, is die rekening aansienlik hoër as wat jy gedink het.

Selfs al bestel jy ’n ekstra vulsel vir jou omelet, behoort jy minder te bestee as aan ’n aandete.

Lees: 10 lesse wat jy jou kinders oor geld kan leer

3. Stadig met die koffie

Probeer om nie elke dag gou uit te hardloop vir ’n cappuccino by jou gunsteling-koffieplek nie. R20 klink dalk nie so erg nie, maar jy sal geskok wees as jy uitwerk hoeveel geld jy eintlik elke maand aan koffie bestee.

As jy elke dag by die werk koffie gaan koop, sal dit jou R400 per maand uit die sak jaag, met ander woorde R4 800 per jaar. Belê eerder in ’n reisbeker en maak dit vol voordat jy werk toe gaan.

4. Koop generiese handelsname

Kom dit by inkopies doen, is dit maklik om aan jou gunsteling-handelsname gewoond te raak en te glo dis beter as die generiese weergawe. Raai wat? Dikwels is daar bitter min verskil! Eksperimenteer met ’n paar produkte en besluit dan of jou vertroude handelsname wel beter is. Gewoonlik is die generiese produkte goedkoper.

5. Begin ’n saamryklub

Vra mense in jou kantoorgebou wat in dieselfde gebied as jy woon dat julle ’n saamryklub begin. Selfs al ry julle net een keer ’n week saam, sal jy geld spaar op brandstof en dalk parkering.

FOTO: iStock/andresr

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 wenke vir wanneer jy huisversekering kies

’n Huis is meer as net ’n blyplek. Maak dus seker jy het die beste versekeringsdekking vir jou gesin se...

Close