×
Skakel na Engels

5 tekens dat jy dalk jou skootrekenaar moet vervang

Maak jou skootrekenaar snaakse geluide? Bom dit gereeld uit? Die Good Housekeeping Institute verduidelik waarom dit waarskuwingstekens kan wees dat jou toestel besig is om die gees te gee … Deur Carrie-Ann Skinner

Skootrekenaars is beslis die algemeenste tegnologiese werktuig van die moderne era: Dit word verskeie kere per dag gebruik, gewoonlik vir ure aaneen, en ons maak daarop staat om inligting te bekom en om lêers, foto’s en video’s te stoor. As die battery pap raak, kan jy moontlik lêers verloor. Maar hoe weet jy of jy jou skootrekenaar moet vervang?

Hier is vyf tekens wat daarop dui dat jy ’n nuwe skootrekenaar nodig het

1. Jou skootrekenaar maak harde geluide

Maak jou skootrekenaar ’n kliek- of knersgeluid wanneer jy probeer om lêers, foto’s, musiek of ’n program oop te maak? Dit dui gewoonlik daarop dat die hardeskyf se meganiese onderdele besig is om te verweer. Die hardeskyf sal ná ’n ruk oppak, wat beteken dat jy al die data wat daarop is, sal verloor. Maak dus seker dat jy jou data ook aanlyn stoor. Dit is moontlik om ’n skootrekenaar se hardeskyf te vervang, maar dit is ’n netelige takie en as jy nie baie seker hieroor is nie, is dit tyd om in ’n nuwe skootrekenaar te belê.

2. Jou skootrekenaar raak baie warm

Voel jou skootrekenaar baie warm wanneer jy dit gebruik? Stof en vuiligheid kan die skootrekenaar se waaier laat verstop, wat keer dat dit jou skootrekenaar afkoel. Probeer om die stof en vuiligheid met ’n blikkie saamgeperste lug uit die skoonrekenaar se luggate te spuit. As dit nie die probleem oplos nie, is dit dalk ’n goeie idee om ’n nuwe skootrekenaar aan te skaf omdat oorverhitting jou hardeskyf kan laat oppak en die skootrekenaar kan laat vries.

3. Gekorrupteerde data

As jy dokumente op jou skootrekenaar stoor en ’n foutboodskap ontvang wat sê dat die lêer gekorrupteer is, is jou skootrekenaar besig om die gees te gee. Dit is ’n fout wat gewoonlik veroorsaak word omdat die hardeskyf besig is om op te pak. Vervang dus die hardeskyf of skaf ’n nuwe skootrekenaar aan.

4. Die battery raak vinnig pap

Is jy gefrustreerd omdat jou skootrekenaar se battery nie meer so lank hou nie? Jou battery is dalk besig om die gees te gee. Hoe meer kere jy dit laai, hoe korter is die battery se lewensduur. In sommige gevalle kan jy ’n nuwe battery direk van die skootrekenaarverskaffer koop. Maar as jou skootrekenaar oud is, is daar dalk nie meer batterye vir die model beskikbaar nie. Dit is dus tyd om jou skootrekenaar te vervang.

5. Jou skootrekenaar vries dikwels of die hardeskyf bom gereeld uit

Dit kan veroorsaak word omdat die skootrekenaar oorverhit: Verwyder enige stof met ’n blikkie saamgeperste lug uit die luggate as jy dit nog nie gedoen het nie. As jy dit gedoen het en die skootrekenaar gaan voort met sy nukke en grille, moet jy maar jou oë toeknyp en ’n nuwe skootrekenaar koop omdat daar moontlik probleme met die moederbord of hardeskyf is.

Let wel: As jou skootrekenaar stadig is, maar dit word nie deur enige van die bogenoemde veroorsaak nie, is dit dalk net nodig om jou skootrekenaar so ’n bietjie op te ruim.

FOTO: iStock/mihailomilovanovic

Van: Good Housekeeping UK

LEES OOK:

Is jy verslaaf aan tegnologie?

Wenke om gratis e-boeke op jou Kindle te kry

4 wenke om jou tiener op Facebook te beskerm

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 wenke om jou slimfoon se battery ‘n hupstoot te gee

Beproef hierdie slim maniere om jou battery langer te laat hou

Close