×
Skakel na Engels

5 slegte gewoontes wat jou hande verouder

Wil jy hê jou hande moet jonk lyk? Volg hierdie wenke!
  1. Jy was jou hande met sterk sepe

“Gebruik ’n reiniger met ’n neutrale pH,” beveel die dermatoloog dr. Mona Gohara aan. Sy stel voor dat jy ’n sagte formule gebruik wat nie jou hande ná gebruik laat droog voel nie, eerder as ’n koekie seep. Dit geld ook skottelgoedseep. Dra altyd rubberhandskoene wanneer jy met huishoudelike reinigingsmiddels werk. Jou hande sal maar te dankbaar wees.

  1. Jy was jou hande gedurig

Sepe kan nie net skerp wees nie, maar om jou hande te veel aan water bloot te stel kan ook skadelik wees. As jy dus jou hande dikwels moet was omdat jy byvoorbeeld ’n verpleegster is, maak seker jy wend altyd ’n vloeiroom met ’n versagtingsmiddel of bevogtende eienskappe daarna aan om te keer dat jou hande uitdroog.

  1. Jy gebruik nie sonskerm nie

Jy weet jy moet elke dag sonskerm aan jou gesig aanwend, maar het jy geweet jy moet dit ook aan jou hande aanwend? “Ons gesig en hande kry meer son as enige ander deel van ons liggaam en dit is hoekom dit ons ouderdom die vinnigste wys,” sê dr. Trevor Cates.

Sonbeskerming is veral belangrik indien jy daagliks ’n motor bestuur omdat “sonvlekke eksklusief weens sonblootstelling vorm”, waarsku Gohara. “Jou hande kry ultraviolet lig deur die motorvenster en jy kan dus maklik bruin vlekke ontwikkel as jy nie elke dag sonskerm aanwend nie.”

  1. Jy gebruik te veel ontsmettingsmiddels

Onthou, hierdie kiembevegtende middels is nie goed vir jou hande nie. “Handontsmettingsmiddels bestaan grootliks uit alkohol,” verduidelik Gohara. “Dit stroop die kieme van jou hande, maar dit stroop ook die natuurlike versperring van jou vel,” sê sy, wat dit droog en verrimpeld laat lyk. As jy nie sonder jou geliefde ontsmettingsmiddel kan klaarkom nie, beveel Gohara aan dat jy dit net op jou palms gebruik en nie op die agterkant van jou hande nie.

  1. Jy laat gereeld jelmanikure doen

Daardie gloeiende blou lig wat op jou hande skyn wat die naellak laat set, is UV lig – dieselfde soort skadelike lig wat die son uitstraal. Los die jel en kry ’n gewone manikuur, is Cates se raad.

Hierdie artikel het oorspronklik in Good Housekeeping in Brittanje verskyn.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
3 maniere om jou agterplaas hondvriendelik te maak

Die meeste honde grawe gate uit verveeldheid of ontsnap uit die erf op soek na avontuur. Hou jou hond met...

Close