×
Skakel na Engels

5 dinge wat ek in ’n noodhulpkursus geleer het

GH se leefstylredakteur, Vicki Sleet, het onlangs ’n KPR- en noodhulpkursus bygewoon en was geskok om te hoor dat die eenvoudigste dinge ’n verskil kan maak tussen om ’n lewe te red of ’n lewe te verloor.
noodhulpkursus

My dogter is 14 maande oud en die feit dat ek nog nie ’n KPR- en noodhulpkursus gedoen het nie, het soos ’n swaard oor my kop gehang. Ek is so bly ek het dit eindelik gedoen! Ek het gehoor baie artikels in my kruidenierskas kan dodelik wees – en ek het nie eens geweet wat ons nasionale ambulansnommer is nie!

1. Heerlike dog dodelike spesery

Het jy geweet kaneel kan dodelik vir ’n baba wees? ’n Klein hoeveelheid wat ingeneem word, kan ’n longspasma veroorsaak, wat ysingwekkende gevolge kan hê. Ek was geskok, veral omdat een van my dogter se gunstelingspeletjies is om die speseryrak in my ma se huis in en uit te pak.

2. Jy moet hierdie nommer ken

Die fasiliteerder van die KPR-kursus het ons groep gevra wat die nommer van die nasionale ambulans is en nie een het dit geweet nie! Memoriseer hierdie nommer: 10177 – dit kan iemand se lewe red.

3. Stamp dit uit!

Ons baba eet vingerkos, en daarmee saam kom die baie werklike bedreiging dat sy kan verstik. Dit is dus ’n goeie ding dat ons geleer het hoe om ’n versperring in die keel te verwyder, want sy het die naweek aan ’n stukkie spek verstik. Vir peuters, plaas hulle oor jou knie en stamp hulle vyf keer tussen die skouerblaaie. Moet nooit probeer om ’n versperring met die hand te verwyder nie, want jy kan meer skade aanrig of die lugweg heeltemal versper.

4. Ken Heimlich se maneuver

Ek moet bieg: Al wat ek van Heimlich se maneuver weet, is wat ek al op TV gesien het. Om die maneuver behoorlik uit te voer, staan agter die slagoffer, maak ’n vuis met een hand en plaas dan die duim van jou vuis effens bo die naeltjie. Plaas die ander hand bo-op die vuis en maak vinnige drukbewegings in die maag totdat die persoon kan asemhaal, hoes of praat.

5. Vir brandwonde

Wanneer dit by brandwonde kom, móénie botter of enige ander tuisremedie gebruik nie – jy kan ’n geleentheid skep vir ’n infeksie om pos te vat. Behandel ’n matige brandplek deur dit met koel (nie koue nie) water af te spoel. Vir ’n ernstiger brandwond, gaan na die naaste ongevalle-afdeling toe. As jy dit nie in jou noodhulpkissie het nie, Burnshield is ’n noodsaaklike behandeling vir brandplekke.

LEES OOK:

Maandelikse rubriek: Maak bekwame kinders groot

5 moet-hê-goed vir jou draagbare noodhulpstel

Red ’n lewe met KPR

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief