×
Skakel na Engels

5 selfdoenvaardighede wat elke vrou moet hê

Daar is beslis ’n plek vir vroue in die selfdoenwêreld!
selfdoenvaardighede

Elle Franco, medeaanbieder van die nuwe DStv-program Home Made Easy (wat op The Home Channel 176 gesien kan word), het nog altyd ’n passie vir selfdoenprojekte gehad en was nog nooit bang om self in te spring en haar ding te doen nie.

“Selfdoenkennis is deesdae baie toeganklik. Die internet bevat ’n rykdom van kennis en selfdoenprojekte het so gewild geraak dat jy nie ver hoef te soek om inligting oor werkswinkels te kry nie,” sê Franco. “Alle selfdoenkennis is nuttig.” Dit is altyd goed om te weet hoe om ’n slot te vervang, te verf, ’n pap band te ruil en watter gereedskap om te gebruik, veral as jy jou in ’n netelige situasie bevind, sê sy. “Ek sou nie sê ‘een brokkie kennis’ is belangriker as die res nie – alle kennis is mag!”

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Hier deel Franco die vyf vaardighede wat elke vrou nodig het.

1. Jy behoort ’n kragboor te besit en te kan gebruik

” ’n Kragboor is ’n veelsydige stuk gereedskap wat in baie selfdoenprojekte in en om die huis gebruik kan word,” sê Franco.

 2. Jy behoort ’n pap band te kan omruil

“Om ’n pap band vinnig en doeltreffend te kan omruil is ’n wonderlike vaardigheid vir wanneer jy jou in dié onbenydenswaardige situasie bevind,” sê sy. “Daar kom waarskynlik ’n dag wanneer jy vergete langs die pad gaan bly staan tensy jy jou moue oprol en self die omruilwerk doen.”

3. Jy behoort verftegnieke en -produkte te ken

“Verf is een van die maklikste, vinnigste en goedkoopste maniere om ’n kamer of item se voorkoms en gevoel te verander,” sê Franco. “Maar die verfwerk is slegs so goed soos die verwer, dus is dit belangrik om jou kennis op te skerp oor die verskillende verfprodukte wat vir verskillende effekte en aanwendings gebruik word, sowel as die regte terminologie, verskillende kwaste en verfbestanddele. Al hierdie kennis sal jou selfdoenkundigheid uitbrei.”

 4. Jy behoort te weet hoe om basiese handgereedskap te gebruik en ’n basiese gereedskapkissie te besit

“Voor elektrisiteit het die mensdom taamlik baie met slegs handgereedskap vermag. Daar is dus geen rede waarom jy nie ’n basiese gereedskapstel behoort te besit en te weet hoe om ’n hamer, skroewedraaier, moersleutels en tange te gebruik nie,” sê Franco.

 5. Jy behoort meettegnieke en meetinligting/-terme te ken en mates te kan neem

“Ek weet dit klink baie elementêr, maar dit is belangrik om te weet hoe om ’n maatband te gebruik en hoe om verskillende terme om te skakel of toe te pas” sê Franco. “Wat is ’n millimeter? Hoeveel sentimeter is in ’n meter? Wat is vierkante meter dekking? Wat is ’n waterpas? Hoe word duime na sentimeters omgeskakel, en omgekeerd? Enige selfdoenprojek behels ’n mate van afmetings; dink maar aan die installasie van gordynreëlings of die plasing van skilderye. Raadpleeg die internet wanneer dit by omskakelings en die afmeting van voorwerpe kom.” 

Volg Elle vir nog selfdoenprojekte:

https://www.instagram.com/withelle_/

https://twitter.com/WithElle_za

https://www.facebook.com/DIYwithelle/

LEES OOK:

Getoetste Produkte: Nutsgereedskap

Selfdoenprojek stap vir stap: Maak jou eie tafelversiering

Druk dit uit: Skoenlapper-servetringe wat jy self kan maak

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Briljante tuiskure vir vlekke

’n Kenner gee raad!

Close