×
Skakel na Engels

5 redes hoekom jy nie daardie laaste bietjie maagvet verloor nie

Daar’s dalk meer daaromtrent as wat jy besef

As jy steeds sukkel met hardnekkige maagvet, is daar dalk meer as net ’n plato wat jy in die gim bereik het of dat jy jou slag kwytgeraak het. Dit blyk dat wat in jou liggaam aangaan – veral jou dermkanaal – ’n veel groter rol speel as wat ons gedink het. Trouens, dit help bepaal of kos verbrand word of bly waar dit is. Dis tyd om uit te vind presies watter probleme binne-in jou aangaan sodat jy tevrede kan wees met hoe jy aan die buitekant lyk.

 

  1. Jou dermkanaal is nie baie gesond nie.

 

Jou maag bevat goeie en slegte bakterieë, wat wetenskaplikes mikrobiota of dermflora noem. En dit is belangrik dat jy dit beheer, soos jy ’n wipplank waterpas sou hou. “Mikrobiota word as die liggaam se tuin beskou, en dit het ’n beherende invloed op verskeie liggaamsfunksies, waaronder metabolisme,” sê dr. Gerard Mullin, skrywer van The Gut Balance Revolution (Rodale Books).

 

Navorsing toon dat ’n dieet vol vet en verfynde koolhidrate (soos witbrood en aartappels) en laag aan vesel (vrugte, groente, bone en hawermout) die balans ontwrig en die wipplank begin kantel in die rigting van gewigterughouding en vetopeenhoping.

 

Hoe balanseer ’n mens dit dus? Voed die goeie bakterieë, of vetbevegtende flora, met veselryke kosse en baie probiotika. (Dit dien as vredebewaarders en help om die orde te herstel.) Ons stel jogurt voor – veral vanieljegeur – omdat nuwe navorsing toon dit maak mense gelukkiger, en pere, wat volgens wetenskaplike die beste is om goeie bakterieë te voed.

 

  1. Jy sit met ontsteking.

Dink só daaroor: Jy gaan draf wanneer jy skielik jou enkel verstuit. Dis pynlik, daar is swelling en dit raak dalk ’n bietjie rooi. Dis ontsteking soos ons dit ken. Dieselfde ding gebeur wanneer die binnekant van jou liggaam “beseer” word. “Ontsteking is ’n belangrike deel van ons immuunrespons. Dit is die liggaam se manier om te genees en homself teen bakterieë en virusse te beskerm,” sê Tali Pines, ’n geregistreerde dieetkundige in New York. Die probleem is wanneer dit chronies raak, want dit kan metabolismeregulerende hormone ontwrig, wat ’n gewigstoename en siekte kan veroorsaak.

 

“Wanneer jy te veel suiker, hoë dossise ongesonde olies en vette inneem, gestres is of nie oefen nie, kan dit alles beserings veroorsaak wat tot ontsteking lei,” verduidelik Pines. As jy daardie dinge gereeld doen, gaan dit jou liggaam langer ontsteek laat bly – net soos daardie kneusplek wanneer jy dieselfde deel van jou liggaam aanhoudend op dieselfde plek stamp. Pines sê die grootste aanduider dat jy ’n probleem het, is jou maag. “As jy ’n dieet gevolg het en steeds nie gewig om jou maag kan afskud nie, kyk na voedingsetikette om vas te stel hoeveel suiker of natrium kosse bevat,” stel sy voor. Sy stel ook voor dat jy kosse by jou dieet insluit wat ontsteking help beveg, soos ’n koppie bloubessies in hawermout, of ’n halwe koppie edamame saam met jou middagete.

 

  1. Jy verbrand nie kilojoules doeltreffend nie.

 

Ons was ernstig toe ons gesê het dermflora is belangrik. Wanneer dit nie reg werk nie, het dit ’n invloed op hoe jou liggaam kilojoules afbreek en dit het alles te doen met twee soorte vetselle: wit en bruin. Die wittes veroorsaak vetsug en insulienweerstandigheid wanneer daar te veel daarvan is, en insulienweerstandigheid maak dit baie moeilik om vet te verbrand, al werk jy hoe hard daaraan.

 

Bruin vetselle beskerm die liggaam daarenteen teen ’n oormaat gewig, en hoe meer jy daarvan het, hoe meer kilojoules kan jy verbrand. Die doel is dus om wit vetselle so dikwels as moontlik in bruines om te sit. Dit gebeur wanneer jou dermflora gesond is (danksy daardie gebalanseerde dieet waarvan ons hier bo gepraat het), jy oefen en genoeg slaap, want melatonien help die produksie van bruin vetselle aan.

 

Wanneer daardie dinge nie in orde is nie, veroorsaak dit dat jou metabolisme vertraag word en dit lei tot ontsteking, wat boodskappe aan die brein stuur dat jy wit vet moet vermeerder. En nuwe navorsing toon dat wanneer daar te veel wit vet is, jou liggaam nie kan byhou nie en die selle ophou om in bruin vet omgesit te word. Wat beteken dit vir jou? Jou kilojouleverbranding raak drasties stadiger.

 

  1. Jy is insulienweerstandig.

 

Hokaai, ons sê nie jy het diabetes nie. Maar insulienweerstandigheid is “die begin van jou liggaam wat nie suiker en koolhidrate goed verwerk nie,” sê dr. Melina Jampolis, skrywer van The Doctor on Demand Diet (Ghost Mountain Books). Wanneer jy insulienweerstandig is, beteken dit basies dat die liggaam se selle ’n toename in suiker in die bloed opgemerk het en die hoeveelheid insulien verhoog om dit na daardie selle te vervoer wat dit vir energie verwerk. Dit sit ’n bose kringloop aan die gang, want jy vervaardig meer insulien – te veel daarvan – en jou selle word weerstandig daarteen, wat daartoe lei dat daar suiker in jou bloedstroom is wat uiteindelik in vet omgesit word en gewoonlik in jou maag gestoor word.

 

Tensy jy die insulienweerstand omkeer, sal jou liggaam so voortgaan en kan jy diabetes ontwikkel. Die sleutel is om vet te verloor en spiere te bou, sê Jampolis. “Oefening, veral kragoefeninge, kan jou liggaam se respons op insulien verbeter, selfs al verloor jy nie gewig nie,” verduidelik Melina. Probeer om twee tot drie keer per week met gewigte te oefen – dit is ’n goeie manier om vet te verbrand.

 

  1. Jy kies regtig “goeie” slegte kosse.

 

Dit is so maklik om deur die winkel te loop en produkte te kies wat as “gesond”, “alles natuurlik”, “organies”, “veganisties” of “glutenvry” bemark word. Maar Ilyse Schapiro en Hallie Rich, die skrywers van Should I Scoop Out My Bagel (Skyhorse Publishing), sê dit is presies wat kan veroorsaak dat jy nie vet om jou maag verloor nie. “Jy moet steeds die voedingsetikette lees, want baie van hierdie kosse kan ’n hoë suiker-, kilojoule- en koolhidraatinhoud hê en verwerkte bestanddele bevat om op te maak vir die gebrek aan geur,” sê Schapiro.

 

Hierdie artikel het oorspronklik op www.goodhousekeeping.co.uk verskyn.

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
9 nuwe reëls om ’n kinderkamer te orden

Jy gaan ’n strategie nodig hê wat meer as net ’n klomp bêrehouers behels. Deur Lauren Piro

Close