×
Skakel na Engels

5 redes hoekom Augustus ONGELOOFLIK gaan wees

Dié maand is daar baie om oor gelukkig te wees

 

 

1. Die derde seisoen van MasterChef South Africa begin – en Reuben is ’n beoordelaar!

Reuben Riffel en Benny Masekwameng is twee van ons geliefkoosde Suid-Afrikaanse sjefs (ons hou van jou ook, Pete Goffe-Wood), en MasterChef is een van ons topkosprogramme. Dié seisoen gaan dus fantasties wees. Maak ’n afspraak met jou TV om 19:30 op Donderdag 21 Augustus.

 

2. Mr Price maak ’n tak in die V&A Waterfront oop.

Dié Mr Price-tak gaan anders wees, want dis ’n konsepwinkel. Verwag dus ’n winkel met ’n heel anderste voorkoms, gratis Wi-Fi en ’n eksklusiewe reeks deur die opkomende Suid-Afrikaanse ontwerper Nick Coutts. Die tak open op Donderdag 28 Augustus. Verwag verskeie lekker verrassings by die bekendstelling.

 

3. Helen Mirren is terug op die silwerdoek.

Dis basies gewaarborg dat ons mal sal wees oor enige iets waarin dié adellike dame verskyn, en dié fliek klink wonderlik. The Hundred-foot Journey gaan oor ’n jong Indiese man, Hassan Kadam (Manish Dayal), wat in ’n Franse dorpie gaan woon en ’n klein Indiese restaurant oopmaak. Die plaaslike yskoningin, Madame Mallory (Mirren), het ook ’n restaurant, en sy is nie beïndruk deur dié inbreuk op haar terrein nie. Begin op Vrydag 22 Augustus.

 

4. Die Premierliga se nuwe seisoen begin.

Die Goeie Huishouding-span het ’n hele paar sokkerondersteuners, en jy sal waarskynlik verras wees hoeveel gekorswel oor sokker daar in die kantoor is. Ons sukkel nog met onttrekkingsimptome ná die Wêreldbeker en tel dus die dae af tot die eerste wedstryd op Saterdag 16 Augustus, wanneer Manchester United met Swansea kragte sal meet.

 

5. Dis binnekort supermaan!

Begin sommer nou al planne maak vir waar jy op Sondagaand 10 Augustus gaan wees, want dis wanneer die grootste, helderste supermaan van die jaar ons hemelruim gaan verlig. ’n Supermaan kom voor wanneer die volmaan nader aan die aarde is, wat dit groter en helderder laat lyk. ’n Ekstra bonus: Die Perseïedmeteoorreën gaan terselfdertyd plaasvind. Ons kan 100 meteore per uur verwag. Nasa sê: “In die tweede week van Augustus gaan die grootste, helderste volmaan van die jaar met almal se gunsteling meteoorvertoning meeding – en die resultaat kan pragtig wees.” Kan. Nie. Wag. Nie.

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Tuinmaak-lys vir Augustus

Kry jou tuin gereed vir die lente

Close