×
Skakel na Engels

5 prettige aanbiedings in Kaapstad om in September te geniet

Dié prettige dinge sal jou van voor af op hierdie fantastiese Suid-Afrikaanse stad verlief maak én jy kan geld spaar – wonderlik vir jou begroting.

 

Spa ’n bietjie

The Heavenly Spa by die Westin het een van die mooiste uitsigte in die Moederstad. Dis op die 19de verdieping en jy kan oor die V&A Waterfront en Tafelbaai uitkyk terwyl jy ’n blaaskans vat. Op die oomblik het die spa ’n spesiale Secret Lunch Hour-aanbod. Vir R650 kan jy ’n 45 minute lange gesigsbehandeling, pedikuur of rug-nek-en-skouermassering geniet, asook ’n tweegang-middagete en die gebruik van die spa se geriewe. Moenie vergeet om jou swembroek in te pak nie, want jy sal beslis in die sauna en die borrelbad wil ontspan en die uitsig vanaf die verhitte swembad geniet wat al langs die lengte van die gebou uitgestrek is.

Sodra jy vertroetel en ontspanne voel, kan jy na ON19 gaan en twee gange van hul gesonde (maar nie te gesond nie!) vaste spyskaart kies. Gaan saam met ’n vriendin – of jou ma of dogter. Dit is ’n belewenis wat jy sal wil deel.

Om te bespreek: www.heavenlyspa.co.za

Neem die hele gesin teen die berg op

Tot einde September kry jy twee gratis retoerkaartjies vir kinders onder die ouderdom van 18 (gewoonlik R115 per kind) wanneer jy ’n retoerkaartjie vir ’n volwassene (R240) op die Tafelberg-kabelkarretjie koop. Kies ’n sonnige dag, pak ’n piekniekmandjie en maak jou reg om ’n vars perspektief op die stad te geniet. Moenie vergeet om ’n gratis skatkaart vir die kinders te kry nie – dis groot pret, en hulle sal ’n bederfie kry wanneer hulle hul geskenkbewys by die Shop at the Top en die Café ingee.

Om te bespreek: www.tablemountain.net

Fliek-en-eet-aanbod

Die Labia-teater is ’n ware Kaapstadse juweel – en hul kaartjies kos baie minder as by gewone fliekteaters. Maar een van ons gunsteling-dinge is hul ongelooflike fliek-en-eet-aanbod vir twee.

Op Maandae en Dinsdae kos twee fliekkaartjies en maaltye by Societi Bistro jou net R90.

Op Maandae kos twee fliekkaartjies en maaltye by Ocean Baskiet in Kloofstraat jou net R110.

Op Woensdae, Saterdae en Sondae kos twee fliekkaartjies en maaltye by Diva Café Ristorante jou net R99 (slegs ná 16:00 op Sondae)

Om van die aanbod gebruik te maak moet geskenkbewyse eers by die restaurante gekoop word en dan vir kaartjies by die Labia-kaartjieskantoor verruil word.

Nog inligting: www.thelabia.co.za

Klim op die bus!

Die groot, rooi City Sightseeing-busse is ’n wonderlike manier om Kaapstad te verken – selfs al is dit jou tuisstad. Die toere dek die hele skiereiland en jy kan by verskeie toeriste-attraksies op- en afklim (soos by die World of Birds in Houtbaai en die Constantia-wynroete) – en daar is prettige, leersame oudio-kommentaar. In September kan jy voordeel trek uit die 3-vir-1-kinderaanbod. Wanneer jy ’n eendagkaartjie vir ’n volwassene (R170) koop, kry jy twee gratis kaartjies vir kinders onder 18. Die aanbod is net op naweke, openbare vakansiedae en tydens skoolvakansies beskikbaar.

Om te bespreek: www.citysightseeing.co.za

Besoek Kaappunt gratis!

Van 12 tot 17 September kan Suid-Afrikaners Kaappunt gratis besoek as deel van die jaarlikse SA Nasionale Parke-week.

Trek jou stapstewels aan en geniet ’n staptog al langs die kus, pak ’n piekniekmandjie en ontspan op een van die vele pragtige, wilde strande (pasop vir bobbejane!), of bespreek ’n tafel by die Two Oceans-restaurant. Jy kan ook elande, rooihartebeeste, bontebokke en sebras sien.

Volwassenes moet ’n geldige SA identiteitsdokument by die hek wys. Kinders het nie ’n identiteitsdokument nodig nie.

Nog inligting: www.sanparks.org

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Ontmoet die ster van “Dis koue kos, skat”

Ons gesels met Anna-Mart van der Merwe oor hierdie opwindende – en skreeusnaakse! – nuwe plaaslike produksie

Close