×
Skakel na Engels

5 newe-effekte van jou selfoonverslawing

Ja, daar is nou selfoonverwante sindrome DEUR AMANDA HAWKINS

Close-up image of woman texting and drinking coffee outdoors

Jy kyk konstant daarna. Wanneer jy dit nie by jou het nie, voel jy angstig, en wanneer jy dit het, is dit al waaraan jy kan dink. Ja, ons praat van jou slimfoon. Ons obsessie met mobiele katoeters het epies geraak – een uit elke vyf mense in die wêreld besit deesdae ’n slimfoon. En nou is daar ’n handvol nuwe sindrome wat saam met daai verslawing kom.

1. Teks-klou en selfoon-elmboog

Teks-klou is ’n nie-mediese term wat gebruik word om die vingerkrampe en seer spiere te beskryf wat gebeur van die voortdurende op- en afrol, SMS-tikkery en speletjies speel op slimfone. ’n Selfs meer algemene newe-effek: Wanneer jy jou foon te veel gebruik, kan dit ontsteking in jou senings veroorsaak en bestaande toestande soos seningontsteking en tikstersiekte (carpal tunnel syndrome) vererger. Net so beskryf selfoon-elmboog tinteling en styfheid in ringvingers en pinkies nadat jy jou elmboog vir lang tye gebuig het.

As jou voortdurende slimfoongebruik jou seer en swak laat voel, doen ’n paar strekoefeninge. Sit die foon neer en probeer dan jou gewrig agtertoe buig terwyl jy jou hande bymekaar sit asof jy bid, en druk dit ondertoe. Doen dan ’n paar rekoefeninge met jou gewrigte. As jy vir langer as ’n week pyn het, probeer hitte aanwend. Of gaan sien ’n dokter.

2. iPostuur en Teksnek

As jy ure lank gebukkend oor jou foon sit, sal dit jou nek en rugspiere seer maak. “iPostuur” of “Teksnek” is net twee van ’n paar frases wat dokters gebruik om die oormatige stres op die nekspiere te beskryf. Volgens ’n studie van jong volwassenes in Brittanje het 84% van dié wat gevolg is gedurende die laaste jaar rugpyn gehad, hoofsaaklik omdat hulle geboë oor slimfone, tablette en rekenaars gesit het.

As jy jou postuur verbeter, kan dit laerugpyn verlig, en as jy jou foongebruik beperk, kan dit nekspanning verlig. Hoewel dit vreemd klink, probeer om jou foon direk voor en langs jou gesig te hou, nie op jou skoot sodat jy vir ’n paar minute op ’n slag moet afkyk nie.

3. Rekenaarvisiesindroom

Wanneer jy na die piepklein font in jou SMS’e staar en deur tientalle twiets rol, kan dit oogstremming, wasige visie, duiseligheid en droë oë veroorsaak. En wasige visie plus seer nekspiere kan hoofpyne veroorsaak.

As dit ongemaklik vir jou oë is, maak jou foon se fontgrootte groter. Die optometris dr. Mark Rosenfield het aan Men’s Health gesê foongebruikers moet probeer om hul foon minstens 40 cm ver van hul gesig te hou. Kyk elke paar minute op van jou skerm na iets ver weg en moenie vergeet om jou oë te knip nie.

4. “Nomophobia”

Dis kort vir “no-mobile-phone phobia” en dis presie soos dit klink – die vrees om sonder jou selfoon te wees. Volgens ’n studie van 1 000 mense in Brittanje vrees 66% van die bevolking dat hulle hul foon sal verloor of op enige gegewe oomblik daarsonder sal wees. Van die simptome van “nomophobia” is angstigheid of negatiewe fisieke simptome as jy jou foon verloor het of dit nie kan gebruik nie, om obsessief seker te maak jy het jou foon by jou en dat jy konstant bekommerd is dat jy dit êrens kan verloor. Interessant genoeg is in die studie bevind dat meer vroue as mans hieraan ly.

As dit soos jy klink, stel kenners voor dat jy meer algemene angsverligtende ontspanningstegnieke soos joga en diep asemhaling gebruik.

5. Spook-handsakvibrasiesindroom

Nee, jy het nié nou net ’n SMS gekry nie! ’n Professor aan die Indiana-universiteit in die VSA het bevind dat 89% van die voorgraadse studente in haar studie spookvibrasies ervaar het terwyl hul foon nié vibreer het nie. Die studie het ook bevind dat studente wat afhanklik van teksboodskappe en sosialemediastatusbywerkings is, angstiger was wanneer hulle foon nie regtig gevibreer het nie.

’n Goeie manier om die verslawing te verbreek? Probeer om jou vibrasiefunksie af te skakel en besluit bewustelik om net gedurende toegewysde ure na jou foon te kyk. As jy jou foon by jou moet hou, sit dit liewer in jou handsak. En probeer om die versoeking te weerstaan om elke vyf minute in jou handsak te kyk. Anders word jy dalk die eerste geval van spook-handsakvibrasiesindroom.

Hierdie artikel was oorpronklik op Goodhoudkeeping.com gepubliseer

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Laai ’n oulike GH-Selfoonagtergrond af

Is jy verveeld met jou selfoonagtergrond? Ons het ’n baie oulike oplossing ...

Close