×
Skakel na Engels

5 natuurlike slaapaanhelpers

Jou kulgids vir ’n goeie nagrus

Lees hier hoe om moegheid op ’n natuurlike manier te klop.

1. Aanvullings

Sukkel jy gereeld om ’n goeie nagrus te kry? ’n Voedingstofwanbalans kan die wortel van jou probleem wees. Stres kan byvoorbeeld ’n tekort aan vitamien B veroorsaak, wat nodig is om die produksie van serotonien te bevorder en ’n rustige slaap aanmoedig. “Jy kan veral ’n tekort aan vitamien B6 hê,” verduidelik Susan Curtis, direkteur van natuurlike gesondheid by Neal’s Yard Remedies. “Dit het ’n kalmerende uitwerking en kan gemoedskommelinge verwant aan PMS, wat jou ook kan wakker hou, help balanseer.” Haar topwenk? “Omdat B-vitamiene ’n ‘familie’ is wat die beste saam werk, probeer om dit as ’n deel van ’n B-kompleks te neem.” Ander aanvullings wat die moeite werd is om te oorweeg, is vitamien C en essensiële minerale soos magnesium. Dit speel ’n belangrike rol om energievlakke ’n hupstoot te gee en het ’n kalmerende uitwerking op die senuweestelsel.

2. Kruie

Kruie word al honderde jare gebruik om slaaploosheid te behandel. Die algemeenste is in tee. Kamille en laventel is twee van die bekendste slaaphulpmiddels. Albei is wyd beskikbaar in die vorm van tee of olie en word tradisioneel gebruik om spanning, stres en angstigheid te verlig. Ander kalmerende kruie waarvan jy moet weet, is passieblom, lindeblom en kalot.

3. Essensiële olies

“Dié olies het ’n kragtige uitwerking op ons gees en emosies,” sê Curtis, en dit kan op verskeie maniere gebruik word. Probeer ’n paar druppels op jou kussingsloop of versprei dit met ’n bestuiwer. Wanneer dit kom by die keuse van die regte olie, is daar ’n paar opsies. Vir slaaploosheid wat met stres of angstigheid verband hou, beveel Curtis laventel aan. Neroli is ook ’n doeltreffende kalmeermiddel en antidepressant, terwyl die opkikkerende eienskappe van bergamot dit veral nuttig maak om spanning te verlig.

4. Dieet

As jy dikwels wawyd wakker en vol energie voel net voor slaaptyd, moet jy dalk jou eetgewoontes bestudeer. “Verwyder sjokolade, stimulante, sigarette en alkohol uit jou roetine, want dit “stimuleer” die liggaam en ontwrig slaap,” sê Curtis. Probeer eerder om kosse ryk aan vitamien B en magnesium te eet, soos volgrane, reënboogvrugte en -groente, peulgroentes, neute en sade. Dit is ook belangrik om baie water te druk en te oorweeg wat jy vir aandete eet. “Vermy laat, swaar maaltye,” sê Curtis. “Dit oorlaai die spysverteringstelsel en kan slaap beïnvloed. As jy laat moet eet, maak dit lig.”

5. Leefstyl

Is jy geneig om in die bed te sit en e-pos lees of op Facebook te wees? Probeer hierdie gewoonte afleer, want blootstelling aan die blou lig van ons fone kan slaap onderbreek. Die asemhalingsoefening of meditasie kan baie voordeliger wees, saam met oefening gedurende die dag. “Maak tyd om 20 minute per dag te oefen of in ’n groen ruimte te stap,” sê Curtis, en ontspan dan saans met ’n warm bad. Voeg seesoute of Engelse sout by vir ’n vreedsame roetine voordat jy gaan slaap.

Van: cosmopolitan.co.za

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Kan jy nie slaap nie? Probeer hierdie 60-sekonde-truuk vanaand

Geen slaappille of warm melk nodig nie.

Close