×
Skakel na Engels

5 maniere waarop jou slimfoon jou angstigheid kan beïnvloed

Dis tyd om af te skakel
slimfoon

Die moderne lewe kan erg oorweldigend wees. En asof die toenemende  finansiële, sosiale en professionele druk nie genoeg is nie, is ons almal gedurig op ’n toestel doenig wat maak dat ons 24/7 deur enige iemand ter wêreld gekontak kan word – en as jou foon nooit afgeskakel is nie, is jy waarskynlik ook nie.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

“Om op ons fone te kyk is verslawend,” verduidelik Chloe Brotheridge, ’n hipnoterapeut en angskenner by Calmer You in Londen en die skrywer van The Anxiety Solution. “Ons raak verslaaf van die dopamienstuwing wat ons ervaar met elke nuwe brokkie inligting wat ’n e-pos of nuusberig ons voer. Om aan ons fone vasgenael te wees beteken dat ons nooit regtig ontspan nie.”

Alhoewel dit nie ’n verrassing is dat oormatige slimfoongebruik ’n direkte verband met angstigheid het nie, gaan jy dalk verbaas wees oor al die maniere waarop jou foon jou geestesgesondheid op ’n daaglikse basis benadeel. Van jou slaappatrone tot die redes vir jou aanlyn snuffeltogte – lees hier meer daaroor:

1. Dit affekteer jou slaapsiklus

Swak slaap is ’n algemene fisieke simptoom van angs – maar die meeste van ons gebruik ons slimfoon as wekker. Chloe sê:

“Dit beteken jou foon is langs jou voordat jy aan die slaap raak en wanneer jy wakker word – wat dit ongelooflike aanloklik maak om voor slaaptyd op ons fone te kyk en dan weer die oomblik wanneer ons oë oopgaan … Dink jy dis ’n goeie manier om jou dag te begin of af te sluit deur ’n streswekkende werk-e-pos te lees of jouself met daai blogskrywer se selfie te vergelyk? Ek dink nie so nie. Koop vir jou ’n ordentlike wekker en gaan los jou foon in ’n ander kamer. Dit sal jou lewe verander.”

2. Dit veroorsaak geraasbesoedeling

“Piep, vribeer of pieng jou foon elke keer wanneer iemand op ’n Facebook-plasing reageer of jou op Instagram volg?” vra Chloe. “Dit is dalk tyd om jou kennisgewings af te skakel. Jy sal minder gesteur en oorweldig voel deur die hoeveelheid inkomende verkeer.”

Eindelose kennisgewings kan op ’n sekere punt enige iemand gedaan maak, maar daar word gemeen dat mense wat aan angs ly, ’n verhoogte sensitiwiteit vir geraas het – wat beteken dat die konstante geluide van jou foon die bestaande simptome kan vererger.

3. Jy is te afhanklik daarvan

Kan jy onthou wanneer laas jy ’n padkaart geraadpleeg, ’n treinkaartjie bespreek of selfs ’n pizza bestel het sonder om jou foon te gebruik? Toemaar, ons ook nie. Alhoewel die moontlikhede van tegnologie in beginsel wonderlik is, knou dit ook ons onafhanklikheid, en laat dit ons angstig voel wanneer ons battery gelaai moet word, en toenemend kwesbaar wanneer ons foon nie byderhand is nie. Trouens, onlangse navorsing het getoon dat baie jong mense wat van hulle toestelle geskei is, ernstige tekens van stres toon en hartkloppatrone soortgelyk aan persone met posttraumatiese stresversteuring verduur.

4. Jy gebruik dit om van die realiteit te ontsnap

In 2016 het die Universiteit van Illinois aan die lig gebring dat studente wat hulle fone as ontvlugtingsmiddel gebruik, ’n baie hoër voorkoms van geestesgesondheidsprobleme, insluitend depressie en angs, toon as diegene wat hulle fone eenvoudig uit verveling gebruik. Jou motivering vir jou aanlyn “uitstappies” is van sleutelbelang; neem dus ’n oomblik om vas te stel wat jy uit jou besoeke aan Instagram kry. Vergelyk jy jouself met ander? Vermy jy probleme wat in die regte lewe hanteer moet word? Hoe meer vrae jy jouself vra, hoe duideliker sal die verband met jou angs waarskynlik na vore kom.

5. Jy skakel dit nooit af nie

Die gemiddelde persoon in Brittanje kyk 28 keer per dag op hulle foon – dis meer as 10 000 keer ’n jaar – maar dit is noodsaaklik om van tyd tot tyd van hierdie roetine weg te breek. Chloe se raad? Uit die oog, uit die hart. “Om jou foon in ’n ander kamer te los of onder die bank in te gooi maak dit net ’n bietjie moeiliker om te bereik, en jy sal minder geneig wees om daarna te loer.”

En as jy dit een stap verder wil neem? Studies toon dat om vir net ’n week van Facebook af weg te bly, ’n positiewe uitwerking op jou geluk het – om daardie beginsel dus op jou hele digitale lewe toe te pas kan ’n massiewe impak op jou gemoed en meer hê.

Van: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/PeopleImages

LEES OOK:

5 wenke om ’n angsversteuring te herken – en hoe om dit te hanteer

7 maniere om ’n geliefde met angs of depressie te help

Ly jou dogter aan adolessente endometriose?

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
4 maniere om te keer dat tegnologie jou vel beskadig

Laat tegnologie vir jou werk, nie teen jou nie

Close