×
Skakel na Engels

5 maniere om uitbranding te voorkom

Hoe om na jouself te kyk sodat jy alledaagse stres kan hanteer
maniere om uitbranding te voorkom

1. Maak ’n doenlysie

Jou dag kan baie vinnig baie besig raak. Wanneer jy op pad werk toe ’n kans kry, wanneer jy by die kantoor kom of wanneer jy ’n oomblik kan afknyp terwyl jy koffie drink, stel ons voor jy maak ’n lys van alles wat gedurende die res van die dag gedoen moet word. Take wat neergeskryf is, lyk sommer meer hanteerbaar.

Wees realisties en moenie jouself verwyt as jy nie alles op jou lys kon afmerk nie.  More is nog ’n dag. Plaas dringende take boaan jou lys. Wanneer jy jou lysie die volgende dag opstel, kan jy onafgehandelde take van die vorige dag na jou nuwe lys oordra.

2. Leer om NEE te sê

Vir dié van ons wat almal wil tevrede stel, kan dit ’n besonder gedugte taak wees. Begin oefen deur nee te sê vir dinge wat vir jou spanningsvol is en ja te sê vir dit wat jou gelukkig maak. Mense is dikwels bang dat hulle ander mense sal omkrap of teleurstel as hulle nee sê. Aanvanklik gaan dit dalk nie maklik kom nie, maar die sleutel is oefen, oefen, oefen!

3. Maak seker jy kry genoeg vars lug en oefening in

Ontspan en maak jou kop skoon deur te gaan stap, ’n jogaklas by te woon of te mediteer. Die vrystelling van endorfiene (die goedvoel-hormoon) ná ’n oefensessie sal jou opnuut energiek laat voel sodat jy jou take met ’n vars perspektief kan aanpak. 

4. Haal reg asem

Ons bestee soveel tyd geboë oor ons lessenaars by die werk en in ons motors in die verkeer dat ons beswaarlik tyd het om regop te sit en op ons asemhaling te konsentreer. Om diep asem te haal kan die angstigheid verlig wat deur ’n spanningsvolle situasie meegebring word.

Sit regop, ontspan jou skouers, sluit jou oe en asem diep in en uit. Doen dit totdat jy beter voel en die kalmte het om jou probleem dan trompop te loop.

5. Slaap genoeg

’n Goeie nagrus is die beste manier om ’n nuwe dag te begin. Wisselvallige slaappatrone kan dikwels tot angstigheid en stres bydra. Probeer om jou natuurlike slaapritme te herstel deur jou alarm te stel vir wanneer jy moet bed toe gaan.

Deur deurlopend genoeg slaap in te kry sal jy uitgerus en in ’n beter gemoedstemming wees om alledaagse spanningsvolle situasies te hanteer.

FOTO: iStock/AntonioGuillem

LEES OOK:

Vier vinnige oplossings vir stres

3 natuurlike kure vir stres

5 maniere om stres te beheer en haarverlies te keer

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Is jy op die rand van uitbranding?

Voel jy dikwels uitgeput, sonder motivering en uitgestres? Jy kan dalk aan uitbranding ly. Hierdie wenke kan jou help om...

Close